Kanselier

Dr Anna Mokgokong

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se Raad het by sy vergadering van 20 Junie 2019 dr Anna Mokgokong, uitnemende sakeleier en entrepreneur, as sy derde kanselier aangestel.

As kanselier sal sy as titulêre hoof van die NWU dien. Alle kwalifikasies wat deur die universiteit toegeken word, word formeel deur die kanselier toegeken.

Sy volg in die voetspore van Kgosi Leruo Molotlegi, koning van die Koninklike Bafokeng-nasie, en dr Popo Molefe, voormalige premier van Noordwes en nou voorsitter van Transnet. Die uittredende kanselier, Kgosi Leruo Molotlegi, het twee opeenvolgende termyne as die NWU se kanselier gedien. Sy eerste termyn het in 2009 begin en die tweede in 2014. Regdeur sy tyd as kanselier het Kgosi Molotlegi die belangrikheid beklemtoon om ’n wedersydse proses van leer tussen die universiteit en die gemeenskap te verseker.

Dr Mokgokong, wat aan die stuur is van Community Investment Holdings (Pty) Ltd, waarvan sy ook die stigtersvoorsitter is, is ’n ware maatskaplike aktivis wat ’n geweldige bydrae gemaak het tot die transformasie van maatskappye op wie se direksies sy dien. Sy is ’n senior direkteur van vyf genoteerde maatskappye op die Johannesburgse aandelebeurs en voorsitter van drie van hulle.

Benewens haar uitvoerige sakekennis en lof vir haar entrepreneursvermoë, het sy as voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vroue-entrepreneursnetwerk (SA WEN) en in die Internasionale Vroueforum van Suid-Afrika (IWFSA) gedien. Dr Mokgokong is in 1998 in die Women Entrepreneurs of the World, ’n onafhanklike, internasionale netwerk van die wêreld se kragdadigste en suksesvolste entrepreneurs, opgeneem.

Haar ander prestasies sluit in dat sy in 1999 die gesogte SA Sakevrou van die Jaar-toekenning gewen het. Die Departement van Handel en Nywerheid, in vennootskap met Proudly South African en Brand South Africa, het dr Mokgokong in 2015 tydens die Suid-Afrikaanse premier besigheidstoekenningseremonie met ʼn leeftydsprestasie-toekenning vereer.

Sy is ook ’n gewilde openbare spreker met ’n groot belangstelling in gemeenskapsontwikkeling en die bemagtiging van vroue.

Dr Mokgokong het ’n BSc-graad van die Universiteit van Botswana, en ’n MBChB van die Mediese Universiteit van Suid-Afrika, verwerf. Sy is die eerste vrou wat ’n eredoktorsgraad in handel van Unisa ontvang het.

Sy is op 20 November 2019 ingehuldig.