
Neem aktief deel aan die NWU se toekoms. Sluit aan by ons Konvokasie en wees deel van die besluitnemingsproses by die NWU!
Die NWU-Konvokasie bestaan uit oudstudente (alumni) wat ʼn graad of diploma aan die NWU of sy voorgangers verwerf het, sowel as alle huidige permanente personeellede van die Universiteit.
Lidmaatskap kan verkry word via ʼn formele aansoek en ʼn eenmalige betaling van R100 vir lewenslange lidmaatskap. Die Konvokasie, wat as ʼn statutêre liggaam van die NWU erken word, is ʼn integrale deel van die formele bestuursraamwerk van die Universiteit, soos uiteengesit in die Universiteit se Statuut.
Die primêre doel van die Konvokasie is om die welsyn van die NWU te bevorder deur sy beeld, tradisies en belange te beskerm. Dit dien as ʼn brug tussen die Universiteit en sy lede. Die Konvokasie geniet verteenwoordiging op die Universiteit se Raad en werk nou saam met ander entiteite soos die Alumnivereniging, wat interaksie tussen die Universiteit en sy alumni bevorder. Lidmaatskap bied aan jou ʼn betekenisvolle geleentheid om jou sê te sê oor die bestuur van jou alma mater.
RAADSLID VERKIES UIT DIE GELEDERE VAN DIE NOORDWES-UNIVERSITEIT SE KONVOKASIE
Ingevolge paragraaf 33(1) van die Statuut van die Noordwes-Universiteit (NWU) kwalifiseer enige gegradueerde van die Universiteit of sy voorgangerinstellings om genomineer te word as lid van die NWU-Raad en om ingevolge paragraaf 6 in 'n verkiesing van sodanige Raadslede te stem.
Die derde ampstermyn van mnr. AM Sorgdrager eindig op 27 Julie 2026 weens die verloop van tyd.
Lede van die Noordwes-Universiteit se Konvokasie is genooi om een geskikte persoon te nomineer ingevolge die Statuut, paragraaf 33(1), die Grondwet van die Konvokasie, paragraaf 51, soos goedgekeur deur die Raad op 15 April 2025, en die Reëls vir die nominasie, verkiesing, aanwysing en aanstelling van Raadslede, paragraaf 8.2, soos goedgekeur deur die Raad op 19 Junie 2025.
Nominasies het op 30 April 2026 gesluit en, na afloop van die ouditproses, is een geldige nominasie ontvang.
Ingevolge paragraaf 8.11 van die Reëls vir die nominasie, verkiesing, aanwysing en aanstelling van Raadslede is Mnr Mpho Mosia behoorlik verkies as lid uit die geledere van die NWU se Konvokasie om op die Raad te dien.
Mnr Mosia se eerste ampstermyn as Raadslid sal drie jaar duur, vanaf 28 Julie 2026 tot 27 Julie 2029.
Prof Hennie Goede
REGISTRATEUR
2026.07.13
Wie is die Konvokasie-verteenwoordigers? Nuwe hoofstuk vir die NWU
Die lewe loop in siklusse … seisoene, jare, maande, termyne …
Dinge kom en gaan, en so het ’n nuwe tyd vir al ons alumni van die NWU met die verkiesing van die NWU Konvokasie se uitvoerende komitee aangebreek. Lede van die NWU Konvokasie het hulle stemme tydens die driejaarlikse algemene vergadering laat geld en ’n klomp nuwe gesigte het ná die verkiesing hulle verskyning gemaak. Vanjaar was die eerste keer wat die vergadering hibried aangebied is en deelname het verwagtinge oortref.
Dit was lekker om te sien hoe Konvokasielede hulle stemreg waardeer en die reg uitoefen om te verseker die room van die oes alle alumni op die komitee sowel as in die universiteitsraad verteenwoordig. Vanaf die Alumnikantoor wil ons graag baie geluk sê aan die volgende lede met wie ons die volgende drie jaar ’n pad sal loop.
Noordwes-Universiteit Konvokasie Exco 2025-2028
President
Tutu Kgobane
Visepresident
Frik van Deventer
Penningmeester
Mpho Mosia
Bykomende lede
Leenta Grobler
Gerhard Laufs
Hans-Jurie Moolman
Suzanne Paxton
Arrie Rautenbach
Boitumelo Mogohu
Lidmaatskap en aansoekvorm
Elke gegradueerde en gediplomeerde van die NWU en sy voorgangers het die reg om aan die Konvokasie te behoort. Dit geskied egter slegs deur middel van ʼn aansoek en is NIE ’n outomatiese aksie nie. Lidmaatskap van die Konvokasie is ook oop vir huidige permanente personeellede van die Universiteit.
Om ’n lid van die Konvokasie te word, moet u ʼn lidmaatskapaansoekvorm invul en die eenmalige nominale bedrag van R100 betaal, soos uiteengesit op die aansoekvorm.
- Laai die aansoekvorm af, of
- Doen hier aansoek
Ingevolge die Statuut van die NWU is die bedrag van R100 betaalbaar om ’n lid van die NWU se Konvokasie te word. Dit is vir lewenslange lidmaatskap indien jy ’n alumnus is. Betalings kan op twee maniere gedoen word:
Betaalopsie 1
Enige navrae kan gerig word aan Nicolize van der Walt by die Konvokasiekantoor: 018 2852594, of per e-pos: Nicolize.VanDerWalt@nwu.ac.za
Betaalopsie 2
Maak 'n betaling na:
- Rekeningnaam: NWU Fundraising
- Rekeningnommer: 670 640 086
- Takkode: 632 005
- Swift kode: ABSAZAJJ
- Verwysing: KON + voorletters + van (byvoorbeeld KON R Nel).
E-pos asseblief die depositostrokie/betalingsbewys en hierdie aansoekvorm na Nicolize.VanDerWalt@nwu.ac.za.
Jou aansoek kan nie sonder 'n volledige aansoek en bewys van betaling verwerk word nie.