Van die Visekanselier

VC

 

NWU-persverklarings

Boodskape verwant aan COVID-19

2024

Algemene kommunikasie oor die skorsing van die NWU-student wat die eerstejaars se Registrasie- en Oriënteringsprogram in Februarie 2024 ontwrig het.

Die doel met hierdie kommunikasie is om te reageer op verskeie mediaberigte sowel as navrae van belanghebbers.

Dit is van meet af aan belangrik dat u bewus moet wees van die verpligting van die Noordwes-Universiteit (NWU) as ʼn openbare instelling wat moet voldoen aan alle vertroulikheidsmaatreëls ten opsigte van dissiplinêre prosesse en die inligting wat ingevolge daarvan bekend gemaak mag word. Die universiteit se dissiplinêre maatreëls teen mnr Shaun Christie (“die student”) is dus vertroulik van aard, en my kantoor sal streng by hierdie maatreëls hou.

Ons instelling is egter geregtig en verplig om te reageer op feitelike onakkuraathede, teenstrydige beriggewing, en gerugte wat via verskeie mediaplatforms versprei word. Ons maak hiermee van hierdie geleentheid gebruik om die feite rakende die voortgesette dissiplinêre proses soos volg te stel:

  1. Ek kan u verseker dat geen student gedurende my ampstermyn as Hooftugbeampte van studente ooit geskors sal word van universiteitsaktiwiteite op grond van sy of haar geloofsoortuigings nie.
  2. Die student is nie geskors omdat hy sy Christelike oortuigings uitgespreek het nie.
  3. Die NWU is die programeienaar van ʼn Registrasie- en Oriënteringsprogram wat sessies behels waar studente onder meer ingelig word oor die grondwetlike beskerming wat aan minderheidsgroepe by ons instelling verleen word, met inbegrip van internasionale studente, studente met gestremdhede, en studente wat met die LGBTQIAP+-gemeenskap identifiseer. Bywoning van die spesifieke sessie waarna in die dissiplinêre proses verwys word, was nie verpligtend nie, en die genooides was beperk tot eerstejaarstudente, studenteleiers, werknemers van Studentelewe-portefeulje, en gassprekers.
  4. Die betrokke student is ʼn finalejaarstudent in Regte en was nie ʼn genooide na die spesifieke sessie nie. Nietemin het die student die sessie bygewoon sonder om toestemming te vra om dit te doen of om as spreker op te tree. Hy is toegelaat om die sessie uit eie beweging by te woon.
  5. Tydens die inligtingsessie wat deur ʼn genooide gasspreker aangebied is, het die student die program onbeskof onderbreek; hy staan dus tereg op die volgende dissiplinêre aanklagte wat in die media bekendgemaak is en dus reeds in die publieke domein is:
    • Opsetlike ontwrigting van ʼn universiteitsprogram.
    • Haatspraak en aanhitsing van studente om op te staan teen die LGBTQIAP+ gemeenskap.
    • Minagting van die regte van die gasspreker.
    • Antagonisme teenoor die LGBTQIAP+ gemeenskap; en/of
    • Opsetlike valse openbare uitsprake oor ons universiteit se 'onverdraagsaamheid' teenoor Christelike waardes.
  6. Ons instelling erken, respekteer en aanvaar alle gelowe op ons kampusse, sowel as die regte van enige lid/lede van minderheidsgroepe insluitend die LGBTQIAP+ gemeenskap, tesame met alle ander grondwetlike regte wat ons Grondwet aan ons verleen.
  7. Enige suggestie dat die student weens sy geloofsoortuiging geskors is, is van alle waarheid ontbloot. Die universiteit respekteer verder ons trotse godsdienstige erfenis solank hierdie respek nie die idee skep dat ons ʼn openbare hoëronderwysinstelling slegs vir Christene is nie. As ʼn unitêre instansie omhels ons persone uit alle strata van die samelewing, gelowe, rasse, geslagte, tale, en die grondwetlike reg om vrylik te assosieer en jouself op ons kampusse uit te druk solank hierdie assosiasie en/of uitdrukking geskied sonder om onredelik inbreuk te maak op die regte van ander.
  8. Ons vertrou dat die inligting hierbo sal help met die verspreiding van korrekte inligting in die publieke domein rakende die huidige dissiplinêre proses met betrekking tot die student. Die universiteit sal nie betrokke raak by diskussies oor spesifieke besonderhede van die dissiplinêre proses nie. Op hierdie stadium is dit gerade om daarop te let dat die student se skorsing dermate verslap is dat hy sy akademiese pligte kan voortsit hangende die uitslag. Die verhoor was vir 29 Februarie geskeduleer, is tot 12 Maart uitgestel en toe weer tot 27 Maart.

Die uwe

Prof Mzubanzi Bismark Tyobeka
Rektor en Visekanselier

 

2023

NWU Visekanselier se jaareindboodskap: Terugblik op 2023

7 December 2023

Geagte NWU-gemeenskap
Soos ons die einde van nog 'n suksesvolle jaar nader, vind ek myself besig om na te dink oor die belangrikheid van hierdie spesiale seisoen. Dit is 'n tyd wat aan familie gewy word, 'n tyd om oomblikke saam met geliefdes te koester, en 'n oomblik om ons blik terug te werp op die reis wat ons deur die jaar afgelê het.
Kyk asseblief na my boodskap hieronder:

 

Sterkte met die einde van die jaar se assesserings

25 Oktober 2023

Dit is weereens daardie baie belangrike tydperk in ons akademiese kalender, die jaareindassesseringstydperk. Gedurende hierdie tydperk is dit belangrik om jou bes te doen om ʼn suksesvolle uitkoms te verseker. Daar kan tye wees wanneer jy oorweldig en hopeloos voel. Dit is verstaanbaar, en dit is deel van die reis. Neem asseblief die tyd om te ontspan en maniere te vind om jou kragte te herwin.

Ja, die assesserings is belangrik vir jou sukses, maar jou fisiese en geestelike welstand is ook van kardinale belang. Daarom moedig ek jou aan om van al die beskikbare ondersteuningsdienste by die universiteit gebruik te maak wanneer die behoefte ontstaan. Ek glo dat jy die kapasiteit en vermoë het om sukses te behaal en jou weg te baan vir die toekoms.

Ons almal is bewus van die probleem van kragonderbrekings wat deel van ons daaglikse lewens geword het. Ons bly daartoe verbind om noodkrag te verskaf tydens kragonderbrekings/beurtkrag ten einde die akademiese program en die algehele besigheid van die universiteit te beskerm. Gaan asseblief voort om hulpbronne (elektrisiteit en water) verantwoordelik te gebruik om te verseker dat hierdie assesseringstydperk sonder onderbrekings verloop op al ons kampusse.

Kry asseblief betyds hulp indien dit sou nodig raak. Jy is nie alleen nie. Jy is ʼn gewaardeerde lid van die NWU-gemeenskap.

Sterkte en beste wense.
Prof. Mzubanzi Bismark Tyobeka
Hoof en Visekanselier

Ons erfenis: ons verlede en ons toekoms

24 September 2023

Beste Kollegas en Studente

September is Erfenismaand in Suid-Afrika, ons land, en 24 September is die dag waarop ons almal saam ons kulturele rykdom ten toon stel en vier. Wanneer ons hierdie jaar Erfenisdag vier, laat ons ’n oomblik stilstaan en onthou wie ons is, en wat ons individuele en gesamentlike bydrae is ter erkenning van ons ryk en diverse kulture, tale, en praktyke wat ons ’n unieke nasie maak wie se ware potensiaal nog ten volle gekoester en gerealiseer moet word, en om ons trots daarop te toon.  Erfenisdag verleen aan ons ’n geleentheid om op ’n onbegeleide reis te gaan om te kyk na die tapisserie van ons verlede wat deur die drade van die geskiedenis, kultuur en tradisie saamgeweef is.

Ons waardes en oortuigings word van een geslag na die ander oorgedra, en dit is kleinode wat vertroetel moet word, aangesien dit is wat definieer wie ons as individue, gemeenskappe en ’n nasie is. Die Noordwes-Universiteit (NWU) is ’n smeltkroes van uiteenlopende kulture en tradisies. Ons is ’n gemeenskap wat geanker is deur die waardes van diversiteit en inklusiwiteit, en die onbeperkte geleenthede wat dit vir ons personeel en studente bied. Ons is inderdaad trots op ons reis tot dusver om ’n NWU-gemeenskap te skep wat nie net binne die hoëronderwyssektor in Suid-Afrika en internasionaal gerespekteer word nie, maar ook beskou word as ’n voorbeeld van hoe mense wat verskillend deur politieke en kulturele gebeurtenisse geraak is ,’n gedeelde visie en ’n waardering vir hulle organisasie kan omarm. Dit is iets wat ons meer moet waardeer terwyl ons voorberei om ons 20-jarige herdenking in 2024 te vier. Ons moet erkenning gee aan ons bydrae om die beskouings van die jeug te vorm wat noodsaaklik is om ons kultuur en erfenis te verryk.  

Ek het al regoor al die vastelande gereis, en ek kan julle verseker dat ons ’n unieke erfenis het wat ons land spesiaal maak. Kom ons wees trots op ons erfenis, vier dit, omarm die eiesoortigheid daarvan, en deel in al hierdie eienskappe wat dit so buitengewoon maak. Laat ons terselfdertyd die kultuur en tradisies respekteer van diegene wat van ander dele van die wêreld kom, en almal deel maak van die NWU-kultuur en -geskiedenis.  Ons gedeelde NWU-erfenis sal ons in staat stel om idees uit te ruil, verhoudings te koester, en ’n lewendige, dinamiese gemeenskap te bou wat deur diversiteit en ’n gedeelde gevoel van samesyn gekenmerk word.
Kom ons gaan voort om saam te werk om te verseker dat die NWU-erfenis deur menswaardigheid, billikheid en gelykheid, integriteit, verdraagsaamheid, respek, verbintenis tot uitnemendheid, vakkundige betrokkenheid, akademiese vryheid, en maatskaplike geregtigheid gekenmerk word.  

Geniet asseblief Erfenisdag en vier dit met verantwoordelikheid.

Enkosi
Baie dankie
Ke a leboga

Prof Mzubanzi Bismark Tyobeka
Hoof en Visekanselier

Vrouedag: die taak is nie afgehandel nie – nie naastenby nie

8 Augustus 2023

My beste kollegas en studente

Dit is ’n voorreg om vandag met julle te praat oor ’n kwessie wat my baie na aan die hart lê. Op Vrouedag herdenk ons nie net die duisende dapper vroue wat in 1956 na die Uniegebou opgeruk het nie, maar ons vier ook die baanbrekervroue van vandag en die moontlikhede van môre.

Is dit nie merkwaardig hoe ver ons gekom het nie? Ons het met rasse skrede gevorder in ons strewe om geslagsgelykheid op alle terreine van die samelewing te verkry, en ons het die uitdaging aangepak wat daardie merkwaardige vroue van die verlede vir ons daargestel het. Ek hoop hulle is trots op ons, maar ek weet dat hulle sou wou hê dat ons nog meer doen, en dit beter moet doen.  

Hierdie taak is nie voltooi nie. Nie naastenby nie.

Wanneer ons hierdie geskiedkundige dag herdenk, word ons gekonfronteer met ’n situasie waar geslagsgebaseerde geweld in ons land onaanvaarbaar hoog is. Ons het een van die hoogste syfers van seksuele aanranding in die wêreld. Dit moet end kry. Hoewel meer as die helfte van ons bevolking vroue is, en meer as tweevyfdes van huishoudings ’n vrou aan die hoof het, toon statistieke dat dit meer waarskynlik is dat vroue werkloos sal wees as mans, en dat hulle minder waarskynlik in die arbeidsmark sal deelneem. 

Nieteenstaande hierdie uitdaging moet ons voortgaan om jong vroue te bemagtig en geleenthede vir hulle te skep. In 2022 het vrouestudente van die NWU 388 gevorderde diplomas, 101 doktorsgrade, 408 meestersgrade, 920 nagraadse baccalaureusgrade, 317 nagraadse diplomas, 5 280 voorgraadse grade en 1 881 voorgraadse diplomas ontvang. As hierdie jong vroue die geleentheid kry, kan hulle die landskap verander en beduidende bydraes lewer om hierdie wanbalans aan te pak en as fakkeldraers vir die toekoms op te tree.

Dit is ons verantwoordelikheid om ’n bevorderlike omgewing vir ons studente te skep sodat hulle as suksesvolle leiers in die samelewing kan floreer, en dit is ook ons verantwoordelikheid en aanspreeklikheid om diegene wat kwesbaar is, te bemagtig.

By die Noordwes-Universiteit is dit ons prioriteit.  Om dit te kan bereik, het die Raad van die Noordwes-Universiteit in 2021 ’n uitvoerige en inklusiewe voorkomingsbeleid rakende geslagsgebaseerde geweld aanvaar, wat in ooreenstemming met die universiteit se sorgsaamheidsetiek is.  Die doel van hierdie beleid is om die hantering van geslagsgebaseerde geweld binne die universiteit te reguleer sodat ’n ondersteunende omgewing geskep kan word om dié wat daaronder gely het van raad te bedien en aan hulle ondersteuning te verskaf.

Ons het ook ’n standaardbedryfsprosedure aanvaar met die oog op die verskaffing van ondersteuning aan oorlewendes van geslagsgebaseerde geweld.

Ons het talle inisiatiewe aan die gang gesit om ’n bewustheid oor geslagsgebaseerde geweld te skep. Ons het verlede jaar ’n veldtog oor bewustheid van geslagsgebaseerde geweld geloods, wat behels het dat waardevolle inligting versprei is ten opsigte van dienste en hulpbronne rakende geslagsgebaseerde geweld wat vir studente en personeel beskikbaar is. Daarna het die universiteit met die res van die wêreld hande gevat het om aan die Verenigde Nasies se veldtog van 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders deel te neem. 

Ons personeel en studente het ’n nasionale veldtog oor geslagsgebaseerde geweld, genaamd Universities Against Gender-Based Violence, onder die vaandel van Praktisyns teen Geslagsgebaseerde Geweld bygewoon om ’n bewustheid vir gender, geslagsgebaseerde benadeling, algemene verhoudings en queerfobie te skep.

Ons het ook ’n GBV AND LGBTQIA+-veldtog genaamd Raising Healthy Males geloods en ons is trots op ons rol en hoe ons geslagsgebaseerde geweld deur ons ondersteuningsdienste, soos onder andere NWU Welstand en entiteite soos die Regskliniek, aangepak het.  Baie van ons personeellede en studente het in Mei hierdie jaar aan ’n stille bewustheidsveldtog (Silent Awareness Campaign) deelgeneem.

Ons sal voortgaan om ons ondersteuning vir hierdie baie belangrike kwessie te toon, terwyl ons daaraan werk om ’n samelewing te bou wat vir almal, veral vir vroue, veiliger is.

Ek fokus op hierdie gruwel, aangesien dit ’n pandemie geraak het wat ons met mening moet uitroei. Ten slotte wil ek my dank uitspreek teenoor al die vroue in hierdie land – ons dogters, susters, moeders, ons vriende en ons kollegas. Dankie vir julle toewyding, julle liefde, en julle onwankelbare deursettingsvermoë. Julle krag en deernis dui vir ons die pad aan. 

 

Malibongwe igama lamakhisikazi
Prof Mzubanzi Bismark Tyobeka
Hoof en Visekanselier

Menseregte: ons verantwoordelikheid en aanspreeklikheid

21 Maart 2023

Dit is vandag Menseregtedag in ons geliefde land. Hierdie dag gee erkenning aan ons pynlike verlede en ’n belofte van hoop en optimisme vir ’n land wat stewig in veelrassigheid, multikulturalisme, godsdienspluralisme, nie-seksisme en ’n absolute respek vir menseregte geanker is.  Dit dien as ’n herinnering dat daar ’n tyd was toe sommige Suid-Afrikaners permitte nodig gehad het om van hulle dorpies na stede te beweeg, om te werk, eiendom te besit, goedere en dienste te koop en romantiese verhoudings aan te knoop.

Op 21 Maart 1960 in Sharpeville het sommige mense wat deel was van ’n vreedsame betoging/opmars teen hierdie permitte en paswette hulle lewens verloor en ander is gewond toe polisie op die betogers losgebrand het. Die Sharpeville-slagting het plaasgevind 20 jaar nadat die Verenigde Nasies die Universele Verklaring van Menseregte aanvaar het, wat universele menseregte erken het wat op menslikheid, vryheid, geregtigheid en vrede gegrond is. Dit is as gevolg van die gebeure van 21 Maart 1960 en ander gebeurtenisse deur die jare regoor ons land dat ons Grondwet die Handves van Regte bevat, wat menswaardigheid, gelykheid en vryheid waarborg.  

Ons gedenk dus Menseregtedag om oor ons verlede na te dink en om die regte te vier wat ons as Suid-Afrikaners vandag geniet. As die lede van die breër gemeenskap van die Noordwes-Universiteit (NWU) moet ons ons menseregtekultuur en demokratiese waardes elke dag demonstreer. Ons moet ook weet dat ons menseregte binne ’n raamwerk van verantwoordelikheid en aanspreeklikheid uitgeoefen moet word. Dit beteken dat wanneer studente of personeel oor ’n diens of ’n bepaalde kwessie ongelukkig of ontvrede is, hulle ook die regte van ander studente en personeel moet erken en in ag moet neem. Daarbenewens moet ons almal daarna streef om vir menseregte op te kom. Een van die groot seuns van ons land, biskop Desmond Tutu, het eenmaal gesê dat as jy neutraal bly in situasies waar daar ongeregtigheid is, jy die kant van die onderdrukker gekies het.  Indien die olifant sy voet op die stert van die muis het, en jy sê dat jy neutraal is, gaan die muis nie jou neutraliteit waardeer nie. Kom ons laat ons stemme hoor wanneer ons onreg sien, en hande vat om menseregte te bevorder.

Die NWU se verbintenis tot ’n kultuur van menseregte is ingebed in ons strategieverklaring – om die NWU te transformeer en te posisioneer as ’n unitêre instelling van voortreflike akademiese uitnemendheid en ’n verbintenis tot maatskaplike geregtigheid. Die tema van hierdie jaar se Menseregtemaand is #LeaveNoOneBehind – walk your rights. Dit vra van ons om inklusiewe strategieë en praktyke regoor al die gebiede van ons bedrywighede te aanvaar. Die NWU se sleutelbelanghebbers, insluitende ons personeel en studente, is tans by ons strategiehersieningsprojek – Neem die NWU Vorentoe – betrokke. Ons het vooruitbetalings gemaak vir FTEN-studente wat nog steeds vir NSFAS-befondsing wag en het bykomende fondse beskikbaar gestel om akademies-verdienstelike studente te help om te registreer. Ons het die registrasietydperk verleng en gereël dat fakulteite spesiale reëlings tref om studente met voorlopige registrasie in ag te neem. Ons doen dit alles om te verseker dat almal so ver as moontlik ingesluit word, en dat niemand agterbly nie.  

Ons het op 10 Maart 2023 ’n memorandum van verstandhouding (MvV) met die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie onderteken. Hierdie vennootskap sal ons in staat stel om ons pogings te versterk om die kultuur van menseregte by die NWU en die omliggende gemeenskappe te bevorder. Die vennootskap behels ’n ondersoek na en implementering van ’n verskeidenheid kwessies, insluitende kapasiteitsbou, navorsing, beleidsformulering, die deel van inligting en bevorderingsprogramme. Ons sien daarna uit om hierdie MvV onmiddellik te implementeer om die bevordering van ’n kultuur van menseregte in ons studente- en personeelomgewing uit te bou. Hierdie vennootskap sal ons voorneme om gevalle van geslagsgebaseerde geweld en alle vorms van diskriminasie en uitsluiting, wat ’n oortreding van fundamentele menseregte is, te elimineer.   

As NWU-familie en as Suid-Afrikaners moet ons altyd onthou waar ons vandaan kom en ons voorneem om nooit ooit dieselfde oortredings te herhaal nie. Vergun my asseblief om julle aan die aanhef tot ons Grondwet te herinner:

Ons, die mense van Suid-Afrika,
Erken die ongeregtighede van ons verlede;
Huldig diegene wat vir geregtigheid en vryheid in ons land gely het;
Respekteer diegene wat hul beywer het om ons land op te bou en te ontwikkel; en
Glo dat Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid.
Daarom neem ons, deur ons vryverkose verteenwoordigers, hierdie Grondwet aan as die hoogste reg van die Republiek ten einde –

  • Die verdeeldheid van die verlede te heel en 'n samelewing gegrond op demokratiese waardes, maatskaplike geregtigheid en basiese menseregte te skep;
  • Die grondslag te lê vir ’n demokratiese en oop samelewing waarin regering gegrondves is op die wil van die bevolking en elke burger gelyk deur die reg beskerm word;
  • Die lewensgehalte van alle burgers te verhoog en die potensiaal van elke mens te ontsluit; en
  • ’n Verenigde en demokratiese Suid-Afrika te bou wat sy regmatige plek as ’n soewereine staat in die gemeenskap van nasies kan inneem.

Mag God ons mense beskerm.
Nkosi Sikelel' iAfrika. Morena boloka setjhaba sa heso.
God seën Suid-Afrika. God bless South Africa.
Mudzimu fhatutshedza Afurika. Hosi katekisa Afrika

Prof Bismark Tyobeka
Hoof en Visekanselier

Die NWU op sy pad vorentoe

31 Januarie 2023

Welkom by die akademiese jaar van 2023.

Ek hoop dat julle weer versterk is en gereed is om die uitdagings van hierdie jaar aan te pak en die geleenthede wat voorlê, aan te gryp. Die sake en aktiwiteite waarby kantoor sedert die begin van die jaar betrokke was, is ’n aanduiding dat dit ’n uitdagende, maar opwindende en lonende jaar gaan wees. Ek is bly om te sien dat talle voornemende studente wat aansoek gedoen het om aan die NWU te studeer, reeds begin om ons aanbiedinge te aanvaar en met hulle registrasie besig is. Ons is bewus van die finansiële en ander verwante probleme wat sommige voornemende studente ervaar, en ons sal voortgaan om saam met relevante belanghebbers te werk om hierdie probleme aan te pak. Ons is steeds verbind tot akademiese uitnemendheid en ’n lewendige studentelewe regoor ons kampusse. Ons sal dus verseker dat ons alle kwalifiserende studente ondersteun, en met hulle toegang tot en sukses by die NWU hulp verleen.

Ek is ook bly oor die werk wat die NWU se senior bestuurspan ingesit het om vir die toekoms te begin voorberei. Die senior bestuur en van die betrokke amptenare het tydens November/Desember 2022 aan ’n twee dae lange strategiese beplanningsessie – bosberaad/lekgotla – deelgeneem. By die sessie is verskeie tersaaklike kwessies wat die NWU se strategie en bedrywighede raak, bespreek en opgelos. Die bestuur gaan ten opsigte van hierdie oplossings en voorstelle met relevante belanghebbers begin beraadslaag, insluitende met die NWU se bestuurstrukture en personeel. Die kwessies waarop die onderhandelingsproses gaan fokus, sluit onder andere die volgende in:

  1. Die NWU se huidige bedryfsmodel: Die NWU Besigheidskool het die verantwoordelikheid ontvang om die huidige bedryfsmodel te evalueer. Hierdie proses behels dat die prestasies en uitdagings van die huidige bedryfsmodel geëvalueer word deur op die effektiwiteit en doeltreffendhede daarvan te fokus. Die universiteitsgemeenskap sal deel van hierdie konsultasieproses vorm. Ek doen dus ’n beroep op alle belanghebbers wat moontlik genooi word om aan hierdie proses deel te neem, om dit te doen sodat ons ’n inklusiewe proses het wat sal verseker dat die uitkoms verteenwoordigend is van almal se menings en ervarings.  Daar kan aspekte wees wat tans goed werk en wat ’n betekenisvolle bydrae tot verbeterde produktiwiteit lewer. Aan die ander kant kan daar egter ook aspekte wees wat nie werklik optimaal is nie en produktiwiteit en doeltreffende unifikasie aan bande lê. Julle geleefde ervaring is vir ons belangrik, aangesien dit ons sal help om te verstaan hoe ons op ons doeltreffendheid en effektiwiteit kan verbeter.
  2. ’n Tradisionele vs ’n omvattende universiteit: Die bestuur het besluit dat die NWU ’n tradisionele universiteit is en moet bly. Ons relevante portefeuljes soos Onderrig en Leer moet verseker dat die nodige intervensies in plek is om ons aanbiedings met hierdie verbintenis te belyn.  
  3. Afstandsleer: Die bestuur het besluit dat dit ’n noodsaaklike aanbieding van die NWU is en dat die Onderrig- en Leer-portefeulje, in samewerking met ander relevante strukture in die NWU, die besprekings wat met fakulteite plaasgevind het, moet konsolideer en aan die toepaslike strukture, soos die Universiteitsbestuurskomitee en die Senaat, verslag moet doen.
  4. ’n Nuwe beskouing oor studentegesentreerdheid aan die NWU: Die bosberaad/lekgotla het onderneem om ’n proses aan die gang te sit om die waardeproposisie aan studente te verbeter. Die studente-inligtingstelsel-projek (SIS-projek) sal die basis van die intervensies op hierdie gebied vorm.  
  5. NWU Besigheidskool: Die NWU Besigheidskool is een van ons vlagskipportefeuljes. Dit moet dus voldoende hulpbronne beskikbaar hê en sy strategie sonder onnodige en onbuigsame prosesse implementeer en beplan.  Dit is belangrik om die NWU Besigheidskool se mededingendheid en volhoubaarheid te verseker.  Die bestuur sal alle nodige intervensies aanwend om die Besigheidskool se vermoë en potensiaal te ontsluit.
  6. NWU Enterprise (Edms.) Bpk.: Die diversifisering van inkomstestrome vir die NWU is noodsaaklik. Daarom het die bestuur besluit om NWU Enterprise (Edms.) Bpk. te stig om ons vermoë te bevorder om derdegeldstroom-inkomste te verkry.

Benewens die hantering van huidige strategiese kwessies het die bosberaad onderneem om aandag aan die volgende te verleen – ek het dit ook in my intreerede genoem:

  1. Die stigting van ’n skool vir veeartsenykunde
  2. Samewerking met landboukolleges in Noordwes
  3. Die stigting van ’n sentrum vir volhoubare mynbou
  4. ’n Program om die bevoegdheid van die munisipale en provinsiale regering te verbeter
  5. Die stigting van ’n mediese skool
  6. Aggressiewe uitbreiding van die NWU op internasionale gebied deur strategiese samewerking, vennootskappe en die huisvesting van internasionale studente
  7. Fokus op befondsing vir nagraadse studente en die vermiste middelgroep
  8. Versterking van ons fondsinsamelingsvermoë
  9. Die implementering van ’n program vir die optimalisering van personeelkoste.

Dit is alles ambisieuse doelwitte, waarvan party reeds deur verskillende inisiatiewe in relevante fakulteite en ondersteuningsdepartemente aan die gang is. Daar sal ’n proses van prioritisering wees om behoorlike uitvoering en implementering van al hierdie dinge te verseker.

Wat op hierdie stadium nodig is, is dat almal meewerk om te verseker dat ons saam na die verwerkliking van dié droom vir ons universiteit streef en werk. Kom ons werk saam om te verseker dat ons een van die voorste hoëronderwysinstellings op die Afrika-vasteland bly.

Ek sien daarna uit om kollektief en individueel met julle kontak te maak om ’n gedeelde visie te verseker waar ons ons strategie en planne implementeer.

Beste wense vir die jaar.

Thank you!
Baie dankie!
Ndiyabulela!
Kealeboga!

Prof Bismark Tyobeka
SHoof en Visekanselier

2022

Prof Bismark se jaareindboodskap 2022

"Ek wil graag van hierdie geleentheid gebruik maak om almal van julle te bedank vir die harde werk en moeite om hierdie 'n baie suksesvolle jaar vir die Universiteit te maak...", kyk na die volledige boodskap.

Boodskap van die hoof en visekanselier aan NWU-studente

1 November 2022

Beste NWU-student

Ek wens jou die beste toe vir die jaareind-assesserings. 

Dit is belangrik dat jy tydens hierdie assesseringstyd jou allerbeste lewer om ’n suksesvolle uitkoms vir jouself te verseker.  Daar kan tye wees wanneer jy oorweldig voel. Dit is verstaanbaar. Dit is deel van die reis. Maak asseblief tyd om te ontspan en kry maniere om jou kragte te versterk.  Ja, die assesserings is belangrik vir jou sukses. Jou gesondheid is egter baie belangrik. Ek moedig jou dus aan om al die beskikbare ondersteuningsdienste by die universiteit te gebruik indien dit nodig sou wees. Ek vertrou dat jy die bevoegdheid en vermoë het om sukses te behaal en jou pad vir die toekoms uit te kap. 

Namens die Universiteitsbestuurskomitee wens ek almal van julle en al die akademiese en ondersteuningspersoneel geluk dat julle ’n suksesvolle akademiese jaar verseker het. Hierdie akademiese jaar sou nie op hierdie stadium bereik kon gewees het sonder die toewyding en vasberadenheid van almal wat betrokke was nie. Ons is daarvan bewus dat die aanpassing by die onderrig en leer ná die afgelope twee jaar se ervarings ’n deurlopende proses is. Dankie vir julle geduld en aanpasbaarheid.  

Voorspoed en beste wense. 

Dr Mzubanzi Bismark Tyobeka
Hoof en Visekanselier 
 

Ons erken en vier ons erfenis

Suid-Afrika het elke jaar 12 nasionale openbare vakansiedae wat almal vir ons individuele sowel as nasionale identiteit baie belangrik is.

24 September is Nasionale Erfenisdag, ’n dag waarop ons die ryk en kleurvolle bydraes van ons verskillende kulturele erfenisse erken en vier. Die Noordwes-Universiteit (NWU) is die tuiste van personeel en studente uit verskillende kulture en agtergronde. Daar is dus ’n groot behoefte dat almal van ons daarna moet streef om hierdie verskille te verstaan en waardeer. Ons bied geleenthede aan personeel en studente om hulle horisonne ten opsigte van kultuur, taal en ander verwante sake te verbreed. Benewens ons verbintenis tot maatskaplike geregtigheid en ’n sorgsaamheidsetiek, het ons diversiteit en inklusiwiteit aanvaar as een van ons NWU-waardes wat op die personeel- en studente-omgewing van toepassing is. Ons word uitgedaag om hierdie waardes uit te leef en te verseker dat almal in die groter NWU-familie voel dat hulle erkenning geniet, welkom is en waardeer word.

Kom ons vier hierdie Erfenisdag en gebruik dit as ’n geleentheid om respek vir mekaar se kultuurerfenis en verskille te bou. Ons moet nooit die onkunde en onbewuste vooroordeel onderskat wat ons soms openbaar nie. Dit is dus noodsaaklik dat ons moet aanvaar dat ons altyd moet leer en onsself opvoed oor ons kollegas en medestudente, veral dié met ’n ander kultuuragtergrond en erfenis. As ons kyk na waar ons as ’n universiteit vandaan kom, het ons beduidende vooruitgang gemaak om ’n ware NWU-gemeenskap met gedeelde waardes en een visie te bou. Ek weet daar sal op ons reis sekere tekortkominge en hindernisse wees, maar ons moet gesamentlik op ons visie gefokus bly en enigiets en enigiemand verwerp wie se doelwit dit is om hierdie reis te laat ontspoor.

Ek is bewus van die kultuur- en diversiteitsprogramme wat kollegas in Mense en Kultuur en Studentelewe as deel van ons NWU-waardesprojek implementeer. Ek moedig almal aan om aan hierdie baie belangrike programme deel te neem om ons transformasiereis en kulturele dinamiek ten volle te waardeer.

Kom ons vier hierdie Erfenisdag met ’n gesonde uitruiling van idees wat daarop gemik is om mekaar se kultuurerfenis en agtergrond te verstaan en waardeer. Dit is die verantwoordelikheid van almal wat in ’n multikulturele land soos ons s’n woon. Dit is wat ons ryker maak ten opsigte van kultuur en wêreldsiening.  

Ek wens julle ’n prettige Erfenisdag toe.

Enkosi
Thank you
Ke a leboga

Dr Bismark Tyobeka
Hoof en Visekanselier

Vrouedag: ’n dag van eerbetoon, nadenke en hertoewyding 

9 August 2022

Augustus is Vrouemaand in ons land. Dit gee erkenning aan en vereer die meer as 20 000 vroue wat op 9 Augustus 1956 ’n optog na die Uniegebou onderneem het om beswaar te maak teen die paswette en die onderdrukkende stelsel wat die vroue behandel het as mindere wesens wat beheer moet word en van sekere geriewe en aktiwiteite uitgesluit is. Dit is ook ’n erkenning en ’n viering van die noodsaaklike rol wat vroue steeds in alle fasette van die samelewing speel.

Ons, die Noordwes-Universiteit (NWU), voeg ons stem hierby en vereer en vier die fenomenale vroue in ons land, veral die vroue van die NWU-span wat ’n lewensbelangrike rol in ons sukses speel en seker maak dat ons op die verwerkliking van ons droom gefokus bly – om ’n internasionaal-erkende universiteit in Afrika te wees wat onderskei word vir betrokke vakkundigheid, maatskaplike responsiwiteit en ’n etiek van sorgsaamheid.

Ons is trots op die vordering wat ons tot dusver gemaak het om ’n bevorderlike omgewing te skep wat die bevordering en uitbouing van gelykheid en billikheid onder ons personeel en studente moontlik maak.  Daar lê egter nog baie werk voor. Ons neem ons dus weer voor om al die toepaslike beleide, reëls en praktyke te hersien om te verseker dat ons ons vordering bespoedig en ons winste so vergroot word. 

Ongelukkig lees/hoor ons steeds van en sien steeds dat misdaad voorkom wat veral teen vroue plaasvind. Volgens die misdaadstatistiek van die Suid-Afrikaanse Polisiediens vir die eerste kwartaal van 2021/2022, het moord en seksuele oortredings in ons land jaar op jaar met onderskeidelik 66,2% en 74,1% gestyg. Hierdie droewige situasie is onaanvaarbaar en moet gestaak word. Ons as die NWU het onsself daartoe verbind om enige dade van geslagsgebaseerde geweld onder studente en personeel uit te roei. 

Hoewel ons dit verwelkom dat opnames en verslae sê dat ons kampusse die veiligste in Suid-Afrika is, weet ons dat elke dag fisieke en emosionele veiligheidsprobleme vir ons personeel en studente oplewer, veral vir die vroue. Ek doen ’n beroep op al die mans wat personeel en vriende van die NWU is om ’n aktiewe bydrae te lewer om veiliger ruimtes vir vroue en meisies te skep. Kom ons aanvaar dat geslagsgebaseerde geweld vroue en meisies in ’n groter mate beïnvloed, en weerhou ons van nuttelose regverdigings en vergelykings. 

Kom ons gebruik die geleentheid op hierdie Vrouedag om na te dink en onsself toe te wy aan die uitwissing van enige gedrag wat bedoel is om teen mense – ons ma’s, susters, en dogters – te diskrimineer en hulle seer te maak, hetsy openlik of in die geheim, bloot omdat hulle vroue is.  

Ek wens al die NWU-vroue ’n veilige en wonderlike Vrouemaand en ’n geseënde en vreugdevolle Vrouedag toe. Ek sien uit na die ontmoetings met personeel en studente ten opsigte van maniere waarop ons verder vriendelike en veiliger ruimtes binne ons universiteit kan skep en in stand hou.

Enkosi
Thank you
Ke a leboga

Terwyl ons Werkersdag vier, sal daar altyd die behoefte aan ’n nuwe soort werker wees

1 Mei 2022

Van al die openbare vakansiedae wat in Suid-Afrika gevier word, is die betekenis van Internasionale Werkersdag, wat vandag gevier word, dalk die mees omstrede.

In die middelpunt van die duisternis sienings is die vraag of die toestande van werkers enigsins verbeter het of nie. Die verskille word dikwels toegeskryf aan teendemokratiese magte wat steeds die vordering bevraagteken wat werkers gemaak het. Ten spyte van al die verskillende menings – wat in ’n demokrasie soos ons s’n verwelkom word – bly die rol en die bydrae van werkers van regoor die wêreld onbetwisbaar.

Die arbeidswette wat vir die grootste gedeelte van die beskaafde wêreld geld, is ongetwyfeld baie ver verwyder van die diktatoriale agendas wat die wêreld voorheen gekenmerk het – insluitende hier in Suid-Afrika.

Die afgelope twee en ’n half jaar het dit sonder twyfel nodig gemaak dat elke werker as gevolg van die impak van Covid-19 by ’n nuwe manier van werk moes aanpas. Hoe pynlik hierdie aanpassings ook al was, die werkersklas het weer eens gedemonstreer hoe ons, ten spyte van teëspoed, meer kan bereik deur saam te werk. En dit is nêrens duideliker as by die Noordwes-Universiteit (NWU) nie.

Ten spyte van werksverliese in verskeie sektore van die land, is nie een NWU-personeellid tydens die pandemie afbetaal nie. Hoewel dit belangrik is om hierdie prestasie te vier wat demonstreer hoe die NWU-leierskap daarin geslaag het om die skip tydens die pandemie op koers te hou, moet ons nie laat slap lê en selfvoldaan raak nie. Daar is nog te veel om te doen!

Die NWU het met rasse skrede gevorder met dié dat ons deurgaans as van die heel beste instellings vir hoër onderrig wêreldwyd gegradeer word. Ons brei deurlopend ons reeks programme uit en die universiteit is in ’n stabiele finansiële posisie. Ons getal ingeskrewe studente het toegeneem, en ons is doelgerig besig met die implementering van ons digitale besigheidstrategie, terwyl ons ons vir die onbekende uitdagings van die toekoms voorberei.

Die afgelope twee weke het ons almal die feestelike atmosfeer beleef wat die gradeplegtighede meegebring het.  Ons studente se sukses is ook ons sukses. Dus salueer die NWU julle, ons personeel, op hierdie Internasionale Werkersdag vir julle bydrae tot ons groei en sukses.

Die uitdagings wat ons beleef, vereis egter ’n nuwe soort personeellid, een wat doelgerig, volhardend en produktief genoeg is om al die struikelblokke die hoof te bied wat die NWU sal ervaar. Kent Sanders, ’n professor by die St. Louis Christian-kollege in Florissant, Missouri, sê dat nuwe uitdagings talle voordele inhou: ’n Nuwe uitdaging kan vereis dat julle nuwe vaardighede aanleer wat bykomende opleiding vereis. Voorts word julle waarde vir die instelling ook verhoog. “’n Gety wat inkom, laat al die skepe in die hawe styg.” Julle vlak van werkbevrediging kan ook deur ’n nuwe uitdaging verhoog word. Kent sê daar is twee soorte mense in die werkplek: “Diegene wat dit bloot verduur, en diegene wat dit geniet.”

Dit is waarom ek julle wil aanmoedig om die geleenthede vir groei en leer te verwelkom, en om by die snelveranderende eise van die werkplek aan te pas. ’n Positiewe ingesteldheid is reeds die helfte van die geheim vir sukses!

Bly veilig waar julle ook al is wanneer julle hierdie dag vier.

Beste wense

Prof Linda du Plessis

Waarnemende Hoof en Visekanselier

NWU herdenk Vryheidsdag

27 April 2022

 

Vandag vier ons Vryheidsdag, ’n geleentheid wat vereis dat ons ernstig nadink oor die vryheid wat ons almal geniet en dit waardeer.

Dit is egter onteenseglik waar dat hoewel ons as Suid-Afrikaners onverpoosd gewerk het om ons vryheid te verkry, miljoene van ons burgers steeds op die rand van ons samelewing leef, waar ’n hoë werkloosheidskoers, siektes en algemene wanhoop heers. 

Maar vryheid gaan gepaard met verantwoordelikheid. Ons moet in ooreenstemming met die Grondwet daaraan werk om die lewensgehalte van al ons burgers te verbeter en die potensiaal van elke persoon te ontsluit. 

Die land het as gevolg van swaar reënval en oorstromings, veral in KwaZulu-Natal, die afgelope week ’n geweldige tragedie beleef.  Elkeen van ons kan ’n verskil maak deur ander te onderskraag. Ek loof elke positiewe poging wat julle elkeen gemaak het om die lewens van julle medemense aan te raak en om ’n verskil in julle gemeenskappe te maak. Dit is die nalatenskap wat ons graag vir ons universiteit en sy mense wil hê: ’n kultuur van omgee en van gee, ’n kultuur wat sal voortbestaan lank nadat die tyd al aangebreek het dat ons hierdie wonderlike plek moet verlaat.

Op ’n mikrovlak bepleit die Noordwes-Universiteit (NWU) ’n omgewing waar al sy mense – studente sowel as personeel – hulle vryheid ongehinderd kan geniet en ons sal dit in die toekoms steeds bepleit.

As ’n instelling het ons onverpoosd saam met al ons belanghebbers gewerk om te verseker dat ons die genieting van ons vryheid prakties uitleef. Verskeie beleide in hierdie verband is goedgekeur om te verseker dat ons nie in die strik trap om bloot lippediens te bewys aan kwessies wat verskillende sektore van ons universiteitsgemeenskap persoonlik en diep raak nie.

Suid-Afrikaners het deur die opofferings van miljoene landsburgers – van wie party nooit in hulle lewe vryheid gesmaak het nie – hulle vryheid verkry.  Dit is dus waar dat indien ons by die NWU – en ons as Suid-Afrikaners oor die algemeen – ons vryheid as vanselfsprekend beskou, dit dieselfde sal wees soos om die nagedagtenis te verraai van diegene wat hulle lewens opgeoffer het sodat almal van ons vryheid kan geniet. 

Wanneer ons Vryheidsdag vier, kom ons onthou hierdie aanhaling van voormalige president Nelson Mandela: “Iemand wat iemand anders sy vryheid ontneem, is ’n gevangene van haat, hy is agter tralies van vooroordeel en bekrompenheid toegesluit.”

Ek doen ’n beroep op almal van ons as lede van die NWU-gemeenskap om Vryheidsdag te herdenk, en om ’n oomblik na te dink en onsself weer aan ’n volle besef van menseregte en maatskaplike geregtigheid in ons land toe te wy.

 

Beste wense

Prof Linda du Plessis

Waarnemende Hoof en Visekanselier

2021

Boodskap van die visekanselier: Erfenisdag 2021

24 September 2021

24 September is Erfenisdag in ons land. Wanneer ons hierdie dag vier, word ons aan die ryk tapisserie van ons diversiteit en gedeelde erfenis as Suid-Afrikaners herinner.  Dit is een van die elemente wat ons nasieskap één maak en ons inspireer om vir ’n blinker toekoms te werk.

Erfenisdag gee aan ons die geleentheid om na te dink oor ons kulturele rykdom en om dit te erken en te respekteer.  Dit is die ideale geleentheid om ons geskiedenis en tradisies te waardeer en te vier terwyl ons steeds voortgaan om ons nasionale identiteit te vorm.

Ons uiteenlopende agtergronde en ervarings dien as hulpbron vir ons om van mekaar te leer, en om ’n gemeenskaplike terrein te vind om maatskaplike samehorigheid te skep en te bevorder. 

Die Noordwes-Universiteit (NWU) is die tuiste vir persone uit uiteenlopende kultuurgroepe en nasionaliteite. Namate ons voortgaan om ons gedeelde organisasiekultuur na te streef, put ons uit ons land se ervarings en prestasies, ondanks die uitdagings wat ons pad kruis.

Ons universiteit het ’n ryk geskiedenis wat deur diversiteit, inklusiwiteit en ’n sorgsaamheidsetiek geanker is. Ons gaan voort om te groei en uit te blink terwyl ons uitmuntendheid en volhoubaarheid najaag, soos die jongste internasionale ranglyste en graderings aantoon.

Ons is trots op die vordering wat ons al ten opsigte van inklusiwiteit, diversiteit en maatskaplike samehorigheid gemaak het. Ons erken egter dat daar nog baie binne die NWU asook in ons land gedoen moet word. Daarom doen ek ’n beroep op al die lede van die NWU-familie om hulle deel te doen om ’n instelling daar te stel wat ten volle unitêr is. Laat ons ook voortgaan om ons individuele en gesamentlike bydraes tot maatskaplike geregtigheid in ons land en die wêreld te lewer. 

Kom ons vier Erfenisdag op 24 September met trots en gaan voort om ons erfenis en diversiteit vir toekomstige geslagte te verryk.

Wees asseblief versigtig.

Prof Dan Kgwadi              

Kom ons staan bankvas agter vroue: Vrouemaand 2021

Terwyl ons Vrouedag vier, loof en salueer die Noordwes-Universiteit (NWU) al die tuisteskeppers, baanbrekers en voorlopers in ons huise, gesinne, universiteit, en ons gemeenskappe.

Die NWU is trots op ons fenomenale vroue-akademici, -ondersteuningspersoneel en -studente wat met rasse skrede vooruitgaan en bydraes in hulle onderskeie vakgebiede lewer. Hulle diversiteit is net so omvangryk en waardevol soos die sektore waar hulle diens lewer, en ons kyk steeds vir inspirasie en leiding na hulle op.

Op 9 Augustus 1956 het ongeveer 20 000 vroue na die Uniegebou opgeruk om te protesteer teen die onregverdige paswette wat op vroue in Suid-Afrika afgedwing is. Hierdie vroue was skitterende voorbeelde van die impak wat vroue kan hê en die waardevolle rol wat hulle speel om die samelewing ten beste te verander.

Wanneer ons Vrouedag vier, laat ons onthou hoe die pandemie en die staat van inperking die huidige vlaag van geslagsgebaseerde geweld teen vroue en meisies in Suid-Afrika blootgelê het. Dit is waarom ons almal moet saamstaan soos die vroue van Suid-Afrika 65 jaar gelede gedoen het, en teen hierdie gruwel van onreg teen die moeders en susters van ons nasie stry.

Die NWU veroordeel nie net enige geweld wat teen vroue en kinders gepleeg word nie, maar het ook ’n benadering van geen verdraagsaamheid teen die oortreding van enige menseregte nie. Die universiteit is trots daarop dat ons ’n veilige omgewing skep wat gelyke geleenthede verskaf vir personeel en studente om binne hulle studie, onderskeie loopbane en persoonlike lewe te floreer.   

Die NWU sal voortgaan om personeel en studente met bewusmakingsveldtogte in te lig en aan slagoffers van geweld emosionele ondersteuning te bied.  Ek moedig die personeel en studente wat aan die ontvangkant van enige geweld staan aan om dit onmiddellik te rapporteer. Ons kan dan ondersteuning verskaf en die saak laat ondersoek. 

Kom ons tree vandag en elke dag van die jaar na vore en laat ons stemme hoor as voorstanders en verteenwoordigers van gelykheid en verandering.

Wonderlike vroue van die NWU, ons gemeenskappe en ons land, die NWU salueer julle!

#NWUcares #IAMNWU #GreaterThan 

Vriendelike groete

Prof Dan Kgwadi

Hoof en Visekanselier

Herdenking: Jeugdag 2021

15 Junie 2021

Met ons herdenking van Jeugdag word ons weer herinner aan die onselfsugtige dade van diegene wat die rigting van ’n nasie verander het deur hulle stemme te laat hoor. Dit is ter ere van hulle dat die jeug van vandag ook hulle stemme moet laat hoor vir ’n beter Suid-Afrika, Afrika en wêreld.

Op 16 Junie 1976, vyf-en-veertig jaar gelede, het ’n klompie jongmense in ons land stukrag aan die krag van hulle stemme gegee, en sodoende die veranderingsagente geword wie se impak nog steeds weergalm. Hulle het die fondament gelê vir die jeug van vandag om beter leiers en pioniers vir verandering en ontwikkeling te wees.

Die jeug van 1976 het ’n deurslaggewende rol gespeel om die prosesse van ’n demokratiese bestel aan die gang te kry, en van ’n Grondwet wat die regte van elke burger handhaaf. Hulle het getoon dat ’n mens nooit te jonk is om ’n verskil te maak, ongeregtighede aan te pak en teenspoed te oorkom nie.

Soos hulle eweknieë in 1976, kom die jongmense van vandag voor ’n wêreld van uitdagings te staan. Dit is ook maatskaplik en ekonomies, maar met die omgewing en volhoubaarheid bygevoeg.

Suid-Afrika staan vandag voor die verwoestende maatskaplike en ekonomiese impak van die Covid-19-pandemie, wat steeds ons lewens en heenkomes bedreig. Daar is baie wat op talle vlakke herbou moet word om hierdie vernietiging te herstel. Die herbouproses sal dapper en etiese leiers verg om ons land op die pad na inklusiewe ekonomiese ontwikkeling en groei te neem. Die jeug moet die geleentheid aangryp en aan verskillende sektore van ons samelewing deelneem.

Die tempo van transformasie en maatskaplike geregtigheid in ons land moet ongetwyfeld versnel word sodat ons werklike maatskaplike samehorigheid kan bewerkstellig. Dit is slegs deur die waardering en demonstrasie van inklusiwiteit, diversiteit en maatskaplike samehorigheid dat ons land, en beslis ook die Noordwes-Universiteit (NWU), sterker kan word en sommige van die oorblywende maatskaplike en ekonomiese probleme kan hanteer wat selfs voor 1994 sigbaar was.

Aardverwarming en klimaatsverandering word toenemend bedreigings waaroor almal van ons besorg moet wees, en ons moet betrokke raak by die vind van oplossings om dit te hanteer. Die jeug kan en moet ’n belangrike rol speel om ’n gesonde en volhoubare planeet te verseker. Die antwoorde en oplossings vir ons probleme en uitdagings is nie maklik nie. Die onbuigsame gees en vasberadenheid van die jeug kan egter ’n betekenisvolle bydrae maak tot en ’n impak op die vind van langtermynoplossings hê. Die jeug moet betrokke wees by en bydraes tot die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte van die Verenigde Nasies maak.

Die NWU bly daartoe verbind om ons jeug te bemagtig en te ondersteun deur gehalte-onderwys om hulle stemme te versterk om volhoubare oplossings te kry vir die uitdagings wat ons plaaslik en internasionaal in die gesig staar. Ons gaan voort om die jeug deur betrokke wetenskapsbeoefening, maatskaplike responsiwiteit en ’n sorgsaamheidsetiek vir aktiewe burgerskap voor te berei.

Terwyl die stemme van Suid-Afrika se dapper jongmense van 1976 deur ons harte en gees eggo terwyl ons Jeugdag herdenk, word ons ook herinner dat elke persoon deur aktiewe burgerskap ’n verskil kan maak.

Ek moedig al ons studente aan om by die universiteit se gemeenskapsbetrokkenheidsprogramme en ander gemeenskapsgebaseerde projekte betrokke te wees.

Kom ons herdenk Jeugdag op ’n verantwoordelike en eerbare manier.

Bly asseblief veilig.

Prof Dan Kgwadi              

Hoof en Visekanselier

Afsterwe van prof Marilyn Setlalentoa, AVK: Gemeenskapsbetrokkenheid en Mahikengkampus Bedryf

20 Mei 2021

Dit is met 'n swaar hart dat ek die afsterwe van prof Marilyn Setlalentoa, die adjunk-visekanselier vir Gemeenskapsbetrokkenheid en Mahikengkampus Bedryf, bekendmaak. Sy is vandag, 20 Mei 2021, oorlede weens Covid-19-verwante komplikasies.

Ons dink aan haar gesin, vriende en al haar kollegas. Ons het inderdaad 'n pilaar van die NWU-familie verloor. 

Ons is in kontak met die familie en sal binnekort inligting aan u deurgee oor die gedenkdiens en die begrafnisreëlings.

Vriendelike groete
Prof Dan Kgwadi

Werkersdag beklemtoon die noodsaaklike rol wat werknemers speel

Internasionale Werkersdag word deur die Internasionale Arbeidsbeweging bevorder as ’n dag om die bydraes en prestasies van werkers regoor die wêreld te vier. In Suid-Afrika sal dit 27 jaar wees dat 1 Mei amptelik as Werkersdag erken en gevier word. Dit is ook ’n dag waarop ons die rol erken wat die progressiewe arbeidsbeweging en werkers in die algemeen steeds in ons land speel.

Die Noordwes-Universiteit (NWU) vereer hierdie jaar al sy werknemers vir die deursettingsvermoë wat hulle in hierdie tyd van geweldige probleme en onsekerheid getoon het. Julle het oor die afgelope jaar julle beste gelewer en by ’n nuwe wyse van werk en leef aangepas.

Julle deursettingsvermoë en harde werk het, saam met al die ander mylpale, vir ons ’n topplek verdien op die jongste ranglys van die Center for World University Rankings (CWUR), wat die NWU in die 2021/2022-uitgawe van sy Global 2000-lys in die top-4,7% van universiteite plaas. Die jongste CWUR-ranglys plaas die NWU negende in Afrika en sewende in Suid-Afrika. Hierdie wonderlike prestasie sou nie moontlik gewees het as dit nie vir julle harde werk en toewyding was nie. Julle lewer steeds ’n baie belangrike bydrae tot die sukses van die NWU. Ek wil namens die bestuur net weer sê dat ons hard werk om ’n kultuur te skep wat deur deursigtigheid, respek, vertroue en betrokkenheid gekenmerk word. Dit is noodsaaklik vir ons sukses en volhoubaarheid as ’n openbare hoëronderwysinstelling.

Vandag se werkers/werknemers het beslis voor ’n stel nuwe uitdagings te staan gekom. Die pandemie en inperking het onderstreep hoe belangrik dit is dat ons vir ons geestes- en emosionele gesondheid moet sorg. Ons verstaan dat vir werknemers om op hulle beste te presteer, hulle op geestelike en emosionele vlak gesond moet wees. Ons wil dus voortgaan met inisiatiewe wat gemik is op die skepping van ’n werksomgewing wat op ’n doeltreffende wyse aan die behoeftes van ons werknemers aandag gee. Ons wil ook voortgaan met die implementering van intervensies wat gedurende die verloop van die pandemie ingestel is om personeel met geestesgesondheid- en verwante siektes te ondersteun.

Ek doen dus ’n beroep op alle personeel om alles moontlik te doen om seker te maak dat hulle geestesgesondheid nie daaronder ly terwyl ons voortgaan om op ’n ander manier te werk en probeer om ’n gesonde werk-lewe-balans te handhaaf nie. Diegene wat probleme ervaar, kan die Mense en Kultuur: Welstand-departement vir ondersteuning skakel.

Wanneer ons op 1 Mei Werkersdag vier, kom ons neem ’n oomblik om na te dink oor kollegas wat as gevolg van Covid-19 en ander oorsake hulle lewens verloor het. Kom ons gaan voort om ondersteuning van watter aard ook al aan hulle familie en vriende te verleen. Ons gedagtes gaan ook uit na die miljoene mense, in Suid-Afrika en wêreldwyd, wat hulle werk gedurende die pandemie verloor het.

Ons salueer al ons werknemers vir hulle voortgesette aanpasbaarheid en vasberadenheid om die NWU ’n verwelkomende tuiste vir almal te maak. Daar is nog baie om te doen. Dus, soos voormalige president Mandela gesê het, “of julle nou die beddens opmaak of wonde toewerk, die kos kook of medisyne uitdeel, dit is in julle hande om te help om ’n openbare sektor te bou wat almal wat hulle lewens vir die droom van ’n demokrasie opgeoffer het, waardig sal wees.” Kom ons streef saam na ’n beter Suid-Afrika en Afrika en ook ’n beter wêreld, en veral na die realisering van ons droom om ’n internasionaal-erkende universiteit in Afrika te wees wat bekend is vir betrokke wetenskapsbeoefening, maatskaplike responsiwiteit en ’n sorgsaamheidsetiek.

Ek wens vir julle ’n gedenkwaardige Werkersdag toe.

Prof Dan Kgwadi

Hoof en Visekanselier

Kom ons vier en koester ons vryheid!

Wanneer ons op 27 April Vryheidsdag vier, word ons weer herinner aan die vele opofferings en die onvermoeide toewyding van diegene wat vir ons vryheid gestry het. Vryheidsdag herinner ons daaraan dat ons die waarde van vryheid moet waardeer, veral as ons aan die Covid-19-pandemie dink wat nog steeds ons lewens ontwrig en die daaglikse vryhede bedreig wat sommige van ons steeds as vanselfsprekend aanvaar.

Dit sal op 27 April 27 jaar wees sedert die eerste demokratiese verkiesings in Suid-Afrika die land op die pad na politieke vryheid geplaas het.  Hoewel Suid-Afrika sedertdien ’n ver pad gekom het, is daar steeds talle struikelblokke in die pad om ware maatskaplike en ekonomiese geregtigheid vir die meerderheid Suid-Afrikaners te verkry.

Die getal 27 is ook van belang omdat dit ons herinner aan die 27 jaar wat voormalige president Nelson Mandela en talle ander gedurende die stryd om vryheid in die tronk deurgebring het. President Mandela se woorde is vandag net so waar as toe hy vir die eerste keer gesê het “om vry te wees, is nie bloot om die kettings wat jou bind, af te werp nie, maar om so te lewe dat ’n mens die vryheid van ander respekteer en bevorder”.

Dit is met hierdie respek vir ons eie vryheid en die vryheid van ander dat die Noordwes-Universiteit steeds vasberade is om gelykheid en herstel moontlik te maak en te bereik, en om Suid-Afrikaners te bemagtig en op te hef deur ons akademiese programme en ander inisiatiewe wat op ons gemeenskappe gemik is .  Ons wy onsself daaraan toe om deur middel van ons sorgsaamheidsetiek nog verder met ons belanghebbers in talle sektore van die samelewing saam te werk om onderrig-leer- en navorsingsprogramme aan te bied wat individue en gemeenskappe ophef, en om hulle te bemagtig om hulle vryheid te geniet.

Ons weet dis nie maklik nie, maar ons moet voortgaan om die uitdagings wat nog in ons land bestaan, met ywer aan te pak, en om saam na ’n toekoms te streef waarvoor talle mans en vroue in ons land hulle lewens opgeoffer het.  Laat ons op hierdie Vryheidsdag onthou dat van ons mede-Suid-Afrikaners van verskillende rasse en agtergronde hulle lewens verloor het terwyl hulle ’n land nagestreef het waar burgers verskillende sienings kan hê, by ’n lewendige debat betrokke kan raak, en terselfdertyd die regte moet respekteer van diegene wat op talle maniere van hulle verskil. Ons moet hierdie mede-Suid-Afrikaners in ag neem en ons demokratiese regte met respek uitoefen.

As daar een ding is wat die Covid-19-pandemie ons tot dusver geleer het, is dit dat vryheid kosbaar is en maklik beperk kan word.  Laat ons dus elke dag ons vryheid koester en geniet terwyl ons bewus bly daarvan dat die Suid-Afrikaanse Grondwet die bewaarder en beskermer van die vryhede van alle Suid-Afrikaners is.

Ek doen ’n beroep op almal van ons, lede van die NWU-gemeenskap, om Vryheidsdag op 27 April te geniet, en om ’n oomblik na te dink en onsself weer toe te wy aan ’n volle besef van menseregte en maatskaplike geregtigheid in ons land.  

 

Beste wense

Prof Dan Kgwadi
Hoof en visekanselier

Noordwes-Universiteit studente geskors

4 April 2021

Drie studente van die Noordwes-Universiteit (NWU) is gedurende die afgelope twee weke geskors weens hul onwettige optrede in twee afsonderlike voorvalle.

Lees meer

Menseregtedagboodskap

21 Maart 2021

Suid-Afrika se demokrasie is 27 jaar oud, en op hierdie Menseregtedag wat ons op 21 Maart vier, word ons weereens herinner aan hoe ver ons as ʼn land gekom het.

Menseregtedag gedenk die 69 mense wat dood is en die 180 wat beseer is tydens die Sharpeville-slagting in 1960, wat gevolg het op ʼn optog van gewone mense wat teen onregverdige paswette betoog het wat inbreuk gemaak het op hul reg op vryheid van beweging.

Een-en-vyftig jaar na hierdie tragedie het alle Suid-Afrikaanse burgers en inwoners van hierdie pragtige land gelyke menseregte en verantwoordelikhede.

In ooreenstemming met die Menseregtedag streef die NWU na ʼn jaar van solidariteit en hoop.

Ons beskou die NWU as ʼn inklusiewe instelling wat personeel en studente met verskillende kulturele agtergronde en alle strata van die samelewing verwelkom.

Wat die waardigheid, vryheid en regte van personeel en studente betref, bly ons toegewyd aan die saak, daarom het ons beleide in plek gestel om te verseker dat almal vryelik kan uitdruk wie hulle is en dat hulle ten volle kan deelneem aan onderrig, leer, werk en sosiale aktiwiteite.

Dink op hierdie Menseregtedag ʼn oomblik na hoe u kan voortgaan om ʼn sorgsaamheidsetiek uit te leef en almal se menseregte te handhaaf.

Terwyl die impak van Covid-19 steeds wêreldwyd gevoel word, laat ons onthou dat ons regte én verantwoordelikhede het; nie net teenoor onsself en ons geliefdes nie, maar ook teenoor ons medemens.

Ek doen ʼn beroep op u almal om te voldoen aan die universiteitsprotokolle wat daarop gemik is om die verspreiding van die virus te beperk, terwyl ons streef na ʼn jaar van harmonie en hoop.

Dankie

Prof. Dan Kgwadi

Hoof en Visekanselier

Verwikkelings op ons Mahikengkampus

20 Maart 2021

Beste NWU Mahikengkampuspersoneellid en -student

Vandag skryf ek aan u om my hartseer en frustrasie te kenne te gee oor die manier waarop sommige van ons Mahikengkampusstudente hulself gedra, veral as daar oproepe is tot ondersteuning en solidariteit op nasionale vlak.

Ek het al telkemale benadruk dat ons, die Noordwes-Universiteit, alle inisiatiewe ondersteun en waardeer wat daarop gemik is om studente se toegang en sukses in ons land se hoëronderwyssektor te verseker. Al die studente op ons drie kampusse sowel as afstandsleerstudente het die reg om die nasionale oproepe om finansiële en ander hulp vir akademies verdienstelike studente te ondersteun. Dit staan studente ook vry om probleme met die bestuur op te neem via die universiteit se studentestrukture en erkende kanale.

Daar is ʼn tendens aan die ontwikkel dat ons Mahikengkampus gedurig verswelg word deur geweld, vandalisme en vernietiging van eiendom sowel as intimidasie van belanghebbers.

Daar is geen waardering vir die hulpbronne waaraan ons hard gewerk het om gelykheid van hulpbronne en studente-ervarings oor die drie kampusse heen te verseker nie. Hierdie week het minder as 100 studente, insluitend nie-studente wat absoluut geen belang by die sukses van die universiteit of die beste belange van ons studente het nie, skade aan universiteitseiendom aangerig, en hul optrede het gelei tot die sluiting van die Mahikengkampus. Personeel kon nie toegang tot die kampus verkry nie en kon dus nie die studente help met kritieke dienste soos finansiële goedkeurings en registrasie nie. Ons infrastruktuurontwikkelingsprojekte word ook negatief beïnvloed aangesien kontrakteurs nie toegang kan kry tot die kampus nie.

Vanjaar se protesaksie vind plaas te midde van die Covid-19-pandemie wat voortgaan om lewens te eis. Ons het miljoene spandeer om ons kampusse aan Covid-19-regulasies te laat voldoen, en om te verseker dat ons studente na die kampusse kan terugkeer. Ons het dit gedoen omdat die gesondheid en veiligheid van personeel en studente vir ons belangrik is, en omdat ons ʼn omgewing wil skep wat u in staat stel om sukses te behaal. Alhoewel baie van ons personeel en studente hulself besig gehou het met aktiwiteite wat die solidariteit van die NWU in die bekamping van die pandemie positief weerspieël, maak die huidige gedrag al ons goeie bedoelinge tot niet. Hierdie byeenkomste is superverspreidergebeurtenisse omdat niemand hulle steur aan die dra van maskers of aan sosiale distansiëring nie. Die universiteit betreur die onverantwoordelike optrede wat tans op die Mahikengkampus vertoon word.

Ons het baie geld aan sekuriteit op die Mahikengkampus bestee om die veiligheid van ons studente te verseker. Ons word keer op keer gedwing om reeds beperkte universiteitsfondse te gebruik om te reageer op die vandalisme en vernietiging van universiteitseiendom tydens gewelddadige betogings. Ons moet besef dat dit belastingbetalersfondse is wat gebruik kon word vir ander dienste soos infrastruktuurontwikkeling en befondsing vir nagraadse studente.

Ironies genoeg is dit dieselfde mense wat eiendom vernietig wat voorgee dat hulle vir arm studente veg. Ek moet dit duidelik stel dat die voortgesette vandalisme en vernietiging van eiendom nie ons sosio-ekonomiese probleme sal oplos nie. Trouens, hierdie aksies sal daartoe lei dat nóg meer van ons studente nie akademies kan slaag nie.

Die bestuur is in gesprek met die minister, USAF en NSFAS om volhoubare oplossings vir hierdie finansieringskrisis te oorweeg. Almal van ons moet betrokke wees by ʼn konstruktiewe debat oor langtermyn volhoubare oplossings vir hoëronderwysbefondsing in ons land. Dit is van kritieke belang vir die ontwikkeling en groei van ons geliefde land. Kortsigtige denke sal die finansieringskrisis net verder verdiep en toekomstige studente se toegang en sukses heeltemal ontspoor.

Ons werk hard daaraan om fondse in te samel en die universiteit onder ons vennote in die openbare en privaat sektor te bevorder. Ons konsekwente boodskap aan hierdie vennote en rolspelers in die bedryf is dat die NWU ʼn unitêre instansie is met elke uitvoerende dekaan wat verantwoordelik is vir sy/haar fakulteit se ervarings oor die drie kampusse heen. Daarom is dit nie nodig om navraag te doen oor die spesifieke kampus waarop die studente gebaseer is wanneer hulle werwing doen vir werks- en sakegeleenthede nie, want die studente behoort oor dieselfde akademiese ervaring en kennis te beskik.

Die voorvalle wat hierdie week en in die verlede plaasgevind het, berokken skade aan hierdie boodskap en maak dit vir ons moeilik om die universiteit onder eksterne belanghebbers te bevorder. Ons het al baie gesprekke met maatskappye gehad wat die persepsie het dat studente van die Mahikengkampus onverantwoordelik is en nie kan aanpas by hul ondernemings se werksetiek en dissipline nie – weens die onstabiliteit en vandalisme op die kampus. Ons het hierdie persepsie begin verander, en sommige van die maatskappye wat vantevore slegs op die Potchefstroom- en Vanderbijlparkkampus loopbaanskoue aangebied het, het onderneem om studente van die Mahikengkampus te begin werf. Die onlangse verwikkelinge is ʼn terugslag en sal ongelukkig al ons graduandi beïnvloed, veral van die Mahikengkampus.

Ek weet dat daar studente op die Mahikengkampus is wat ondanks alle uitdagings toegewyd is aan hul studies en vasbeslote is om ʼn sukses van hul toekoms te maak. Van die meer as 50 000 NWU-studente is daar 13 000 studente op ons Mahikengkampus, en dit is ʼn groot jammerte dat dit lyk of hul toekoms in die hande is van die enkele studente wat korttermynbelange het. Dit is inderdaad baie hartseer, en ʼn groot verleentheid.

In terme van die kwessies wat tydens die registrasietydperk deur die Kampusstudenteraad (KSR) geopper is, kan die bestuur die volgende bevestig:

  • Die registrasietydperk is verleng tot 26 Maart 2021;
  • Ons het die risiko geneem om die beperkte kontantreserwes van die universiteit, ongeveer R250 miljoen, te gebruik om NSFAS-toelaes te dek;
  • Meer as 94% van ons senior studente is suksesvol geregistreer;
  • Meer as 72% van ons eerstejaarstudente is ten volle geregistreer. Die situasie op die Mahikengkampus het uiteraard ʼn negatiewe impak op die registrasieproses;
  • Alle geregistreerde studente wat aangedui het dat hulle na die kampus en/of koshuise en/of privaat akkommodasie wil terugkeer, kan dit doen sodra die kampus heropen;
  • Nagraadse studente word nie meer deur NSFAS befonds nie. Die universiteit wag nog steeds op die DHOO/NSFAS-riglyne vir duidelikheid. Goed presterende NGOs- en LLB-studente is geïdentifiseer en die NWU sal vir hulle beurse aanbied;
  • Alle finalejaarstudente wat in 2021 vir merietebeurse kwalifiseer en uitstaande skuld het, sal toegelaat word om te registreer;
  • Die Noordwes-Universiteit kan dit op geen manier bekostig om die studente se uitstaande skuld te kanselleer nie. As ons dit doen, sal ons heelwat befondsing van die regering en ander bronne moet kry of ons moet voorberei op ʼn krisis wat kan lei tot die sluiting van sommige van ons skole en dienste;
  • Die nasionale regulasies en NWU-protokolle wat daarop gemik is om die verspreiding van Covid-19 te beperk, bly van krag; besoeke in koshuise word dus steeds nie toegelaat nie;
  • Voorwaardelik geregistreerde studente is toegelaat om ten volle aan die aanlyn akademiese program deel te neem, en
  • Al ons universiteitswebwerwe en eFundi-webwerwe is tans gratis om toegang vir studente moontlik te maak.

Die Mahikengkampus sal gesluit bly totdat die situasie verbeter en personeel veilig toegang tot die kampus kan kry om hul pligte uit te voer. Die verwagting is dat die akademiese program aanlyn sal voortgaan, daarom moet die situasie normaliseer sodat studente sonder internettoegang by hul huis(e) na die kampus kan terugkeer en aan die aanlyn onderrigleermodus kan deelneem.

Hierdie pynlike en betreurenswaardige tendens moet endkry. Die samesprekings tussen die bestuur en die studenteleiers duur voort en ek is hoopvol dat gesonde verstand sal seëvier sodat die kampus volgende week kan heropen. Dit is van kritieke belang dat die Mahikengkampusstudente hul registrasie moet afhandel en met die akademiese program moet begin.

Groete

Prof. Dan Kgwadi

Hoof en Visekanselier

Voortgesette blokkade van die Mahikengkampus

18 Maart 2021

Beste kollega

Die NWU-bestuur het gehoop dat die situasie op die Mahikengkampus al sou verbeter het. Ongelukkig blyk dit dat sommige lede van die Kampusstudenteraad (KSR) vasbeslote is om voort te gaan met die versperring van ingange na die kampus om sodoende te verseker dat die kampus nie kan funksioneer nie, aangesien personeel nie toegang tot die kampus het nie. Dit beïnvloed die registrasieproses en ander dienste wat aan geregistreerde studente gelewer behoort te word.

Die NWU-bestuur het op 16 Maart besluit om die kampus tot verdere kennisgewing te sluit, omdat die veiligheid van personeel en studente nie onder die huidige omstandighede gewaarborg kan word nie. Daarbenewens word nasionale Covid-19-regulasies en NWU-protokolle nie behoorlik nagekom nie.

Die akademiese aktiwiteite het in alle erns begin en ons Mahikengkampus-studente sal moontlik aanlyn aan hierdie aktiwiteite moet deelneem. U word aangemoedig om met u fakulteit te skakel om die nodige reëlings te tref.

Die kampus bly gesluit en studente wat die kampus kan verlaat, word aangemoedig om dit te doen.

Hiermee die nommers vir studenteversoeke met betrekking tot data, toestemmingsbriewe en ander verwante navrae:


Vriendelike groete

Prof Dan Kgwadi
Hoof en Visekanselier

Huidige status van protesoptrede op die NWU se Mahikengkampus

17 Maart 2021

Sedert Maandag, 15 Maart 2021, betoog studente en lede van die publiek buite die hoofingang van die Mahikengkampus in solidariteit met die oproep om ʼn nasionale stopsetting van werksaamhede by alle openbare universiteite. Personeel het steeds nie toegang tot die kampus om dienste aan studente te lewer nie.

Die NWU-bestuur het op 16 Maart besluit om die kampus tot verdere kennisgewing te sluit, omdat die veiligheid van personeel en studente nie onder die huidige situasie gewaarborg kan word nie. Daarbenewens word nasionale Covid-19-regulasies en NWU-protokolle nie nagekom nie.

Sedert Maandag, 15 Maart, is verskeie paaie na die kampus versper en motorbande aan die brand gesteek. Gedurende die aand van 16 Maart het betogers probeer om die kampus binne te dring deur die hoofhek se slot te breek. Hulle is egter verhinder om die kampus binne te gaan. Later dieselfde aand het betogers ook ʼn petrolbom na die waghuis gegooi. Die toestel het gelukkig nie ontplof nie, maar die waghuis se vensters is gebreek. Daar is ook gepeuter met die CCTV-kameras wat die area bedien.

Daar was ook ʼn voorval waar studente na bewering ʼn individu aangerand het wat moontlik verantwoordelik was vir die gooi van die petrolbom en die beskadiging van die CCTV-kameras.

Die vermoede bestaan dat nie al die betogers studente is nie. Gevolglik sal CCTV-beeldmateriaal gebruik word vir strafregtelike én dissiplinêre sake. Sake van aanranding en kwaadwillige saakbeskadiging is ook by Mmabatho se polisiestasie aanhangig gemaak.

Die NWU-bestuur veroordeel die onlangse vlaag van geweld en skade aan universiteitseiendom ten sterkste. Ons sal van reeds beperkte fondse gebruik moet maak om die beskadigde eiendom te herstel. Ons doen ʼn beroep op studente om die universiteitseiendom te respekteer en om die regulasies en protokolle na te kom. Ons bly daartoe verbind om met studenteleiers saam te werk om te verseker dat alle uitstaande kwessies, veral kwessies wat binne die beheer van die universiteit is, bygelê kan word. Alhoewel ons graag wil hê dat alle aangeleenthede, insluitend ʼn gebrek aan fondse, hanteer moet word, kan ons helaas weinig doen aan kwessies wat buite ons mandaat val.

Ons herhaal dat ons nie die gesondheid en veiligheid van studente en personeel kan waarborg te midde van hierdie geweld en saakbeskadiging nie; studente word dus versoek om die kampus te verlaat. Ons het talle versoeke van studente ontvang om hulle toe te laat om op die kampus te bly weens reis- en ander uitdagings. Hierdie studente moet asseblief die nodige reëlings tref met hul onderskeie Studentelewe-kantore.

Personeel moet tot verdere kennisgewing voortgaan om van die huis af te werk – dit is uiteraard ʼn terugslag vir die Universiteit as geheel en veral vir die studente wat dringend hulp benodig om werk te maak van hul finansiële probleme en om vir die 2021 akademiese jaar te registreer. Ons moet egter alles moontlik doen om die gesondheid en veiligheid van die NWU-gemeenskap, veral studente en personeel, te verseker.

Groete

Prof Dan Kgwadi
Hoof en Visekanselier

 

Aan studente en personeel van die NWU se Mahikengkampus

16 Maart 2021

Geagte studente en personeel van die NWU se Mahikengkampus

Weens die voortgesette nienakoming van Covid-19-regulasies en -protokolle en die onvermoë van personeel om toegang tot die kampus te verkry om die nodige dienste aan verdienstelike studente te lewer, het die universiteitsbestuur ʼn pynlike besluit geneem om die Mahikengkampus tot verdere kennisgewing te sluit.

Soos gister aan u gekommunikeer, is die registrasietydperk vir alle studente tot 26 Maart 2021 verleng.

Dit is uiteraard ʼn terugslag vir die Universiteit as geheel en veral vir die studente wat dringend hulp benodig om werk te maak van hul finansiële probleme en om vir die 2021 akademiese jaar te registreer. Ons moet egter alles moontlik doen om die gesondheid en veiligheid van die NWU-gemeenskap, veral personeel en studente, te verseker.

Studente word versoek om die kampus voor môre, Woensdag, 17 Maart 2021, om 14:00 te verlaat, aangesien die NWU nie hul veiligheid kan waarborg onder hierdie onbestendige omstandighede waar kampusveiligheid ernstig in die gedrang kom nie.

Personeel word aangeraai om met hul bestuurders te skakel om die nodige reëlings te tref om van die huis af te werk tot verdere kennisgewing.

Bly asseblief veilig.

Groete

Prof Dan Kgwadi

Hoof en Visekanselier

 

’n Jaar van voortgesette solidariteit en hoop

3 Februarie 2021

Goeiedag almal

Ek vertrou dat dit met almal goed gaan. Welkom by die akademiese jaar van 2021. Ek hoop dat julle weer versterk is en gereed is om die uitdagings en geleenthede van hierdie akademiese jaar aan te pak. Ons is ongelukkig nog in die middel van ’n pandemie en die staat van inperking, wat ongetwyfeld sal voortgaan om ons bedrywighede negatief te raak. Ons bly steeds ’n kontak-universiteit en sal graag wil sien dat almal terugkeer na ons kampusse – kantore en klaskamers – sodra die situasie dit toelaat. Ons gaan ons bes probeer om steeds die gedifferensieerde waardeproposisie vir studente en studente-ervaring van gehalte waarvoor die NWU bekend is, te verskaf.

Intussen bly die situasie rampspoedig en vol uitdagings en onvoorspelbaarheid. In my kommunikasie van 28 Januarie 2021 het ek aangekondig dat ons twee lede van die NWU-familie aan Covid-19 afgestaan het. Ons kumulatiewe syfers van lede van die NWU-familie wat óf positief getoets is, óf aan Covid-19 blootgestel is, neem daagliks toe. Laat ons voortgaan om die nodige regulasies en protokolle na te kom.

Ons gaan volgens my kommunikasie van 26 Januarie 2021, Wysiging van onderrig-leer vir die eerste semester van 2021, voort met die lewering van ons programme in die beperktekontak-onderrig-leer-modaliteit vir semester 1. Kom ons gebruik die ervarings en lesse wat ons in 2020 oor aanlyn onderrig-leer geleer het om ’n suksesvolle akademiese jaar vir 2021 te hê.

Die Raad het die NWU se onderrig-leer-strategie aan die einde van 2020 goedgekeur. Die hersiening van die onderrig-, leer- en assesseringsreëls en die fakulteite se onderrig-leer-planne sal dus gedurende 2021 plaasvind. Ek wens almal wat betrokke is ’n vlot en geslaagde proses toe. Dit is ’n uiters belangrike inisiatief vir ons akademiese projek.

Ten opsigte van navorsing en innovasie is dit bemoedigend dat die NWU se publikasievoorleggings vir 2020 ten spyte van die Covid-19-uitdagings amper dieselfde  as die totale uitset vir 2019 was. Dit kan nog verbeter wanneer nog publikasies gedurende Februarie voorgelê word, wat ’n beter prestasie vir 2020 vergeleke met 2019 sal oplewer. Ek wil die personeel en studente vir hierdie prestasie bedank. Kom ons maak 2021 selfs nog beter. Ek weet dit gaan nie maklik wees nie, maar ek moedig al ons nagraadse studente en personeel aan om vindingryke maniere te vind om met hulle navorsing en innovasie voort te gaan.

Die finalisering en implementering van ons digitalebesigheidstrategie (DBS) behoort gedurende hierdie akademiese jaar momentum te kry. Daar word verwag dat die volle implementering van die DBS ons in staat sal stel om die lewering van ons programme en dienste te verbeter, insluitende dié wat hierbo genoem word.

Die hoëronderwyssektor ervaar probleme wat die personeel sowel as die studente raak. Ons werk saam met verskeie belanghebbers in die sektor, insluitende die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) en die Departement van Wetenskap en Innovasie (DWI), om volhoubare oplossings te vind vir die probleme wat deur die pandemie veroorsaak word.

Ons neem kennis van die regering se uitspraak met betrekking tot die implementeringsplanne vir die Covid-19-entstof en sal voortgaan om met relevante belanghebbers te skakel en ons personeel en studente dienooreenkomstig op hoogte te hou.

Ek sien daarna uit om ons studente, insluitende eerstejaarstudente, te verwelkom. Let asseblief op die registrasiedatums

Van ons personeel en studente keer na die kampusse terug om met hulle werk en studies voort te gaan. Ek doen ’n beroep op almal wat na ons kampusse terugkeer om te voldoen aan die universiteit se protokolle wat daarop gemik is om die verspreiding van die virus hok te slaan. Die universiteit sal voortgaan om so goed as moontlik ons waaksaamheid en sorg te behou om die gesondheid en veiligheid van ons personeel en studente te verseker.

Ek gebruik hierdie geleentheid om ons sleutelbelanghebbers te bedank – insluitende die Raad, die donateursgemeenskap, ons alumni en die breër NWU-familie – vir die samewerking en ondersteuning in al die verskillende areas van die universiteit.

Kom ons gaan voort om ons deur ons droom te laat lei om ’n internasionaal-erkende universiteit in Afrika te wees wat onderskei word vir betrokke vakkundigheid, maatskaplike responsiwiteit en ’n sorgsaamheidsetiek. As ons saam werk, veral in hierdie moeilike tye, kan ons verseker dat die NWU een van die toonaangewendste universiteite in ons land en op ons vasteland bly.

Ek sien uit daarna om verder gedurende hierdie akademiese jaar met julle te skakel.

Wees asseblief versigtig.

Vriendelike groete
Prof Dan Kgwadi
Hoof en visekanselier