Theuns Eloff | Alumni

 

Dr Theuns Eloff se loopbaan was uiteenlopend: hy was onder andere ’n predikant, asook die hoof uitvoerende beampte van sake-organisasies en die administratiewe hoof van ’n nasionale onderhandelingsproses en visekanselier van die NWU. Hy is tans uitvoerende direkteur van ’n nasionale stigting wat met die bevordering en beskerming van die grondwet van Suid-Afrika gemoeid is.

Theuns het sy akademiese loopbaan in 1972 aan die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys begin met ’n BJur Ekonomie-graad. Hy het toe na teologie oorgeskakel en ’n baccalaureus- en meestersgraad (albei cum laude) in teologie verwerf. Hy het in 1989 met ’n PhD in teologie afgesluit.

Hy het ’n baie belangrike rol in die politieke arena gespeel. Hy het in 1991 en 1992 die sekretariaat by CODESA gelei, en tussen 1993 en 1994 die hoof van administrasie vir die veelparty-onderhandelingsproses geword.

Hy het die pas-saamgesmelte NWU suksesvol deur die samesmelting gelei, en ’n deurslaggewende rol gespeel om die NWU se reputasie as leidende Suid-Afrikaanse universiteit plaaslik sowel as oorsee te vestig.

Theuns is tans die uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting wat vredesaktiwiteite in multigemeenskapslande aanmoedig en ten doel het om Suid-Afrika se demokrasie te bevorder.

Hy het talle toekennings ontvang, onder meer toekennings as die Sakestaatsman van die Jaar, Wêreldleier van Môre en Besigheidskommunikeerder van die Jaar (Afrika).