Tanya Robinson | Alumni

 

Dr Tanya Robinson is ’n merkwaardige navorser wat voor die ouderdom van 36 reeds drie doktorsgrade in maatskaplike werk verwerf het. Sy het ’n intense passie getoon om deur empiriese resultate tot die samelewing by te dra, en om deur navorsing te bewys dat ’n verskil gemaak kan word, veral op ’n tyd waar psigopatologie binne die samelewing aan die toeneem is.

Haar navorsing sentreer om kinderregte en die doel daarvan is om aan mishandelde kinders ’n stem te gee. Sy konsentreer op psigopatologie, die beste belang van kinders, die ondersoek van en begrip vir gesinspatologie, forensiese ondersoeke, die profielsamestelling van slagoffers en oortreders, en ’n begrip vir die misdadiger se denkwyse.

Sy het in 2011 haar tweede doktorsgraad aan die NWU verwerf. Dit is voorafgegaan deur ’n doktorsgraad van die Universiteit Stellenbosch in 2005, en gevolg deur ’n doktorsgraad van die Universiteit van Kaapstad in 2015.

Sy het ses boeke en verskeie tydskrifartikels oor verskillende onderwerpe geskryf, onder meer oor egskeiding, seks, geestesgesondheid en vals beskuldigings van kindermishandeling in egskeidingsake.

Sy is ’n lid van die Suider-Afrikaanse Seksuele Gesondheidsvereniging, die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Maatskaplike Werkers in Privaat Praktyk, die Suid-Afrikaanse Raad vir Maatskaplike Diensberoepe, en die Kriminologie en Viktimologie Vereniging van Suider Afrika.