Tjaart van der Walt

Buitengewone leier 

Ambassadeur, rektor, hoofbedryfsbeampte, predikant en professor: prof Tjaart van der Walt het al alles gedoen.

Hy is ’n buitengewone leier wat lief is vir mense en toegewy is aan God. Dit was duidelik in sy eerste pos – as predikant van die Gereformeerde Kerk in Krugersdorp in 1962.

Gedurende sy termyn as rektor van die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys vanaf 1977 tot 1987 het Tjaart die studentelewe as ’n prioriteit beskou. Hy het ’n ondersoek na studentedienste, die studentelewe en universiteitsport geloods, en die strukture daarvan versterk om alles meer funksioneel te maak.

Aan die hand van sy merkwaardige beplanning het die Raad van die universiteit besluit om die Fakulteit Ingenieurswese in 1981 en die Fakulteit van Farmasie in 1983 te stig.

Dit is gevolg deur sy aanstelling as ambassadeur in Bophuthatswana in 1992.

Na die koms van demokrasie in 1994 het die premier van Noordwes hom versoek om as voltydse adviseur aan te bly.

Tjaart het in 1951 sy BA-graad verwerf, gevolg deur ’n honneurs- en ’n ThB-graad aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO). Hy het ook ’n honneursgraad in Klassieke Tale aan die Universiteit van die Witwatersrand behaal.

Hy is in 2000 deur die PU vir CHO se Fakulteit Teologie tot buitengewone professor in Nuwe Testamentiese Studies verkies.