Rudi van Eldik

Geëerde navorser 

Prof Rudi van Eldik word wyd in Suid-Afrika en internasionaal vir sy navorsing in chemie en die ontsluiting van die wonder daarvan erken.

Hy spesialiseer in die opklaring van anorganiese en bioanorganiese reaksiemeganismes en doen ook navorsing op ander gebiede, insluitende die toepassing van hoëdruktermodinamiese- en kinetiese tegnieke.

Hy het as wetenskaplike en dosent in Chemie ’n groot impak op sy studente gemaak, eers by die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) en toe by verskeie leidende Duitse universiteite.

Rudi het onderskeidelik in 1966, 1968 en 1971 ’n BSc-, MSc- en DSc-graad van die PU vir CHO en in 1982 ’n Habilitasie-graad van die Universiteit van Frankfurt ontvang.

Hy het eredoktorsgrade van sy alma mater, die Universiteit van Pretoria, en verskeie internasionale universiteite ontvang. Dit sluit die Universiteit van Kragujevac in Serwië, die Jagiellonian Universiteit in Pole en die Ivanova Staatsuniversiteit van Chemie en Tegnologie in Rusland in.

Ander erkennings sluit in ’n Eregenootskap van die Royal Society of South Africa, die Bundesverdienstkreuz van die President van die Bundesrepubliek Duitsland en die Inorganic Mechanism-toekenning van die Royal Society of Chemistry in London.

Hy het meer as 900 navorsingsartikels gepubliseer, 530 konferensie-aanbiedings gedoen en 21 boeke gepubliseer.