Kobus Pienaar

Baanbreker in onderwys 

Prof Kobus Pienaar is ’n hoogs aangeskrewe kundige in die onderwys wat al talle publikasies die lig laat sien het en medeskrywer is van ’n boek oor fundamentele pedagogiek wat groot lof ontvang het.

Hy het nuwe studievelde in opvoedkunde ontwikkel en tydens uitdagende tye in die onderwys baanbrekerswerk in metodologie gedoen. Sy aanbiedings oor perspektiewe in pedagogiek was gewild onder BEd-studente omdat dit ’n wyer bestek vir navorsing vir meestersgraad- en doktorale tesisse gebied het.

As dosent was hy geliefd en gerespekteer. Kobus het studente aan metableties-eksemplariese metodes bekendgestel en hulle aangemoedig om hierdie metodes in hulle navorsing te gebruik.

Sy kundigheid is vroeg reeds erken. So ver terug as 1967 en 1968 het Kobus onderskeidelik ’n stipendium van die Nederlands-Zuid Afrikaanse Vereniging en finansiële bystand van die Nasionale Raad vir Sosiale Navorsing ontvang.

Sy akademiese kwalifikasies sluit ’n BA-, UOD, BEd- en MEd-graad van die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys in. Hy het ook verskeie grade van Unisa en die Universiteit van Pretoria (sy DPhil) en sy DrsPAed van die Vrije Universiteit Amsterdam ontvang.

Kobus is die medestigter van die Beweging vir Christelik-Nasionale Onderwys en het ’n rol gespeel in die stigting van CNO-skole.

Hy doen steeds navorsing en fokus op kwessies soos transformasie en resultaatgedrewe onderwys, en bly op die voorpunt van nuwe ontwikkelings in die onderwys.