Daniella van Heerden

Uitsonderlike joernalis 

Sy is ’n inspirasie vir baie opkomende joernaliste. Daniëlla van Heerden het haarself as joernalis van hoë kaliber gevestig sedert sy die redakteur van die studentekoerant, Wapad, op die Noordwes-Universiteit se kampus in Potchefstroom was.

Daniëlla het as joernalis vir Beeld gewerk voordat sy as Afrikaanse en Engelse veldverslaggewer en televisienuusleser by eNuus en eNCA aangesluit het.

Vreesloos en vasberade in haar soeke na die waarheid het sy gebeure en nuus van groot nasionale belang gedek. Stories oor die regering, kontroversiële nuwe navorsing, en politiek is net ’n paar van die kwessies wat sy onder die aandag van die publiek gebring het.

Haar nuusdekking vra van haar om in gemeenskappe te werk en hulle bekommernisse en kwessies bekend te maak, asook om hulle vreugdes en trots te deel. Sy maak seker dat stemme wat andersins nie gehoor sou word nie ’n platform gegee word.

Daniëlla is ’n bekroonde joernalis wat in 2013 en 2014 toekennings van die Nasionale Persklub, en ATKV Media Veertjies in 2015 ontvang het. Sy het in 2016 die Koker-toekenning, ’n eremedalje, vir haar bydrae as jong persoon tot Afrikaans ontvang.

Daniëlla het in 2006 ’n BA-graad in Kommunikasiestudies cum laude voltooi en ’n BPhil in Joernalistiek, ook cum laude, in 2007.