Die oorgang na ’n universiteit

’n Belangrike faktor van akademiese prestasie op universiteitsvlak is goed ontwikkelde leer-, lees- en akademiesegeletterdheidsvaardighede, saam met lewensvaardighede. Om nuwelinge te help om op ’n ferm grondslag weg te spring, vereis die NWU dat alle eerstejaarstudente vir ’n verpligte module in akademiese geletterdheid registreer. Hierdie verpligte module is uiters waardevol, aangesien dit studente help om enige bestaande vaardigheidsgaping te oorbrug, en hulle ook op die toekoms voorberei. Die rede hiervoor is dat die NWU ook verpligte modules instel wat daarop gemik is om tweede- en derdejaarstudente te help om die wêreld as ’n versameling verwante stelsels te verstaan.

In ’n meer algemene trant dra die NWU tot ’n probleemvrye oorgang vir eerstejaarstudente by deur ’n oriënteringsprogram wat alle aspekte van die universiteits- en kampuslewe dek. Hierdie oriëntering, wat aan die begin van die akademiese jaar plaasvind, is dieselfde vir alle eerstejaarstudente op al drie kampusse. Ons wil graag beklemtoon dat die NWU ’n konstruktiewe, etiese oriënteringservaring verskaf waartydens die regte en waardigheid van deelnemers te alle tye gerespekteer word. Dit is deel van die NWU se breër verbintenis tot die skep van ’n kultuur van verdraagsaamheid, integriteit, aanspreeklikheid en wedersydse respek regoor die Universiteit.