Inligting vir ouers

Dankie dat u die hoër onderwys van u seun of dogter aan die NWU toevertrou. U keuse van universiteit is verstandig, soos u sal sien wanneer u sy of haar vordering in die jare vorentoe volg. Die rede hiervoor is dat die NWU ’n welverdiende reputasie het om goed afgeronde graduandi te lewer wat gereed is om met ’n suksesvolle loopbaan te begin, tot die samelewing by te dra en ’n gebalanseerde, doelgerigte lewe te lei.

Ons beskou die ouers van studente as belangrike vennote om studente te help om ’n gladde oorgang van skool na universiteit te maak, en ook om die meeste te haal uit die talle leergeleenthede wat ons aanbied.

 

Betaling van uitstaande studiegeld en registrasie in 2016

In die lig van die landswye verwikkelinge oor gelde by universiteite in 2015, stel die NWU u graag in kennis van reëlings vir studenteregistrasie in 2016.

 

1. Studente met beurse

Studente wat beurse (behalwe NSFAS-beurse) ontvang het, moet tydens registrasie skriftelike bewys van die beurs verskaf. Waar ’n uitstaande bedrag vir die vorige jaar betaalbaar is, sal studente toegelaat word om te registreer indien die beursverskaffers skriftelik onderneem het om hierdie uitstaande bedrag ook te betaal.

 

2. Studente met banklenings en Eduloan

Studente moet tydens registrasie skriftelike bewys van die studentelenings verskaf. Studente sal ook toegelaat word om te registreer in gevalle waar ’n uitstaande bedrag vir die vorige jaar verskuldig is en die lening vir die betaling daarvan voorsiening maak.
Verskeie finansiële instellings, insluitende Absa, Eerste Nasionale Bank, Nedbank en Standard Bank, sal in die registrasietydperk op die kampus wees om studente te help.
Dit is nie ’n waarborg dat alle studente outomaties lenings sal kry nie. Om vir lenings te kwalifiseer, moet aansoekers aan die uitleners se vereistes voldoen.

 

3. Realpay-paaiement-opsie vir studente

Die Realpay-paaiement-opsie sal as ’n alternatiewe metode beskikbaar wees om gelde deur middel van ’n ondertekende debietorder oor ’n tydperk te betaal. Let asseblief daarop dat bepalings en voorwaardes geld.

 

4. Individuele studente

Elke student se geval sal op meriete oorweeg word. Die assessering sal die oorweging van die student se akademiese prestasie insluit, en in gevalle waar ’n paar modules nog uitstaande is vir die voltooiing van 'n kwalifikasie.
Wanneer ’n student vir ’n merietebeurs kwalifiseer vir ’n bedrag wat ten minste die eerste betaling sal dek, sal daardie student toegelaat word om te registreer.
Die bestuur, in samewerking met die Kampus Verteenwoordigende Studenterade (KVSR'e), sal elke geval op meriete oorweeg en die beskikbaarheid van fondse in ag neem. Die doel is om soveel akademies verdienstelike en finansieel behoeftige studente as moontlik in staat te stel om in 2016 te registreer.

Met hierdie doel voor oë sal daar formele strukture soos die pas gestigte registrasiekomitee (waarop die KVSR ook verteenwoordig word) van die drie NWU-kampusse wees om oor individuele gevalle te besluit. Slegs studente wat nie kon registreer nie, sal na hierdie strukture verwys word. Streng kriteria sal in individuele gevalle toegepas word om te bepaal of die studente sal kan registreer.

 

5. NSFAS-studente

’n Lys ten opsigte van die registrasie van NSFAS-studente sal voor – nie tydens nie – registrasie beskikbaar gestel word.

 

6. Uitstaande gelde

Die NWU doen ’n ernstige beroep op ouers en studente om dringend reëlings vir die betaling van alle uitstaande gelde te tref. Dit is om te verseker dat studente hulle studies kan voortsit en by voltooiing hulle graad kan ontvang.

Dit sal nie moontlik wees vir alle studente om te registreer nie, ongeag al die hulpbronne en prosesse wat hierbo gemeld word. Studente wat deur die hele proses gaan sonder om oplossings te vind, mag steeds nie kan registreer nie, ten spyte van pogings om hul kwessies op te los.


7. Gemiddelde gelde vir 2016

Die gemiddelde gelde vir individuele grade in 2016, gegrond op die 0%-verhoging soos deur die President aangekondig, is BA: R30 528, BCom: R33 803, BIng: R46 229, B Verpleegkunde: R31 043, BPharm: R35 336, BSc: R33 361 en LLB/BA Regte: R32 729, afhangende van die spesifieke modules.

 

Vir enige verdere navrae, kontak gerus Finansiële Administrasie op u betrokke kampus.

Die Noordwes-Universiteit wens alle ouers en studente ’n wonderlike feestyd en voorspoedige 2016 toe.