Alumni - Pieter Stoker

 

 

Prof Pieter Stoker is 'n uitstekende voorbeeld van 'n Potchefstromer wat internasionale erkenning vir homself en sy departement verwerf het.

In 1953 het hy 'n navorsingsfasiliteit in kosmiese strale en kernfisika tot stand gebring in die Departement Fisika van die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir CHO. Vandag staan dit bekend as die Noordwes-Universiteit se Sentrum vir Ruimtenavorsing. Die sukses daarvan kan toegeskryf word aan die buitengewone entoesiasme en leierskap waarmee prof Stoker twee geslagte astrofisici opgelei en geïnspireer het.

As internasionale leier was hy die eerste van drie lede van die Sentrum vir Ruimtenavorsing wat 'n A-gradering vir navorsing van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) ontvang het.

Prof Stoker was vir 36 jaar lank hoof van die Fisikadepartement en het twee termyne gedien as Dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe. Onder sy bestuur het daar 'n nuwe fakulteit uit Natuurwetenskappe ontstaan, naamlik Ingenieurswese.

Hy het ook 'n leidende rol gespeel in die totstandbrenging van die voormalige Skool vir Natuurwetenskap-, Wiskunde- en Tegnologie-onderrig. Hy het geglo dat die opleiding van onderwysers vir die sekondêre fase (tans VOO) nie net aan opvoedkundiges oorgelaat moet word nie, en seker gemaak dat spesialiste beskikbaar was om die inhoud aan te bied.

Prof Stoker was al lid van verskeie professionele verenigings, insluitende die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Royal Astronomical Society en die Academy of Science of South Africa.

Sy werk geniet nasionale sowel as internasionale erkenning. Hy is die trotse ontvanger van toekennings soos die Havenga-prys vir Fisika, 'n goue medalje van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir die Bevordering van Wetenskap en die De Beers goue medalje van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Fisika, en is 'n Genoot van die Internasionale Geofisiese Jaar.

Hy was vir drie jaar lank voorsitter van die NWU se Konvokasie, en is reeds sedert 1992 emeritusprofessor (navorsing) in Fisika.

Prof Stoker se voortgesette bydrae en invloed blyk duidelik uit die feit dat hy sedert sy formele aftrede in 1990 34 artikels in internasionale vaktydskrifte gepubliseer het.