Op Vrydag, 7 Oktober 2016 het die NWU sy top alumni by ’n toekenningseremonie in Sandton vereer. Hierdie jaar se luisterryke toekenningseremonie het ook die gesogte NWU Leeftydprestasietoekenning ingesluit, asook erkenning aan al NWU se alumni wat hierdie jaar op internasionale sportgebied uitgeblink het.
Die gesogte Leeftydprestasietoekenning het gegaan aan die voormalige visekanselier van die NWU, dr Theuns Eloff, wat in 1972 sy BJur Ekonomie-graad aan die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys voltooi het. Dit is die tweede keer wat hierdie gesogte toekenning as erkenning gegee is. Die vorige ontvanger was die voormalige staatspresident, mnr FW de Klerk.
Nog bekende alumni wat toekennings ontvang het, sluit in ’n regter-president, ’n televisiegrootbaas, ’n wêreldbekende tenoor, gerespekteerde navorsers, ’n uitvoerende hoof van openbare sake, en ’n internasionale waterponie- (jet ski) resiesjaer.
Alumni-wenners
- Dr Theuns Eloff, voormalige visekanselier van die NWU, en huidige uitvoerende direkteur van die FW de Klerk Stigting, Leeftydprestasietoekenning.
- Mnr Kobie van Rensburg, musiekvirtuoos en hoof van Umculo Opera Incubator, Kuns en Kultuur-toekenning.
- Me Karen Meiring, direkteur van die Afrikaanse kanale by M-Net en KykNet, Sakeleierskap-toekenning.
- Me Yvonne Mfolo, uitvoerende hoof vir openbare sake by Kumba Iron Ore, Gemeenskapsbetrokkenheid-toekenning.
- Regter Frans Kgomo, regter-president van die Noord-Kaap, Openbare Diens-toekenning.
- Dr Tanya Robinson, fenomenale navorser, Navorsingstoekenning.
- Me Shanté Bukes, internasionale waterponie-resiesjaer, Sporttoekenning.
- Prof Llewellyn van Zyl, navorser en bedryfsielkundige, Jong Alumnus-toekenning.
Alumni van die NWU trap reeds jare lank diep spore – nie slegs in Suid-Afrika nie, maar ook internasionaal. 2016 is die vierde jaar wat NWU-alumni met prestasietoekennings vereer word.
Caster Semenya en Sunette Viljoen, wat die podium by die Olimpiese Spele gehaal het, het NWU Ambassadeur-toekennings ontvang. Willem Coertzen, Elroy Gelant, Terseus Liebenberg en Jean Verster het as uitblinkers in hulle sportdissiplines Ambassadeur-sertifikate ontvang.