Alumni - Alec Moemi

 

 

Mnr Mokoditloa Eliakim (Alec) Moemi is Direkteur-generaal van Sport en Rekreasie Suid-Afrika (SRSA). Dit beteken dat hy die administratiewe hoof van SRSA is, terwyl Minister Fikila Mbalula die politieke hoof van die SRSA is. Die SRSA het ten doel om die lewensgehalte van alle Suid-Afrikaners te verbeter deur deelname aan sport en rekreasie-aktiwiteite aan te moedig.

Mnr Moemi se vaardighede en passies is nie beperk tot sport nie en tydens sy studentejare het hy verskeie leiersposisies beklee.

Hy het gedien in organisasies soos die Congress of South African Students (Cosas), die South African Students’ Press Union (Saspu) en die South African Students’ Congress (Sasco). Hy was ook lid van verskeie jeugorganisasies en het aan heelwat jeuginisiatiewe deelgeneem.

As voormalige Voorsitter van die Verteenwoordigende Studenteraad is mnr Moemi verkies as lid van die destydse Universiteit van Noordwes (UNW). Hy is later verkies as penningmeester van die UNW se Alumni-vereniging en, in dieselfde tydperk het hy die alumni op die Universiteit se Raad verteenwoordig.

Mnr Moemi het sy studies voortgesit by die Universiteit van die Witwatersrand se Besigheidskool – in die Bestuur van Korporatiewe Kommunikasie.

Hy het 'n B Juris-graad (UNW) en 'n meestersgraad in Politieke Bestuur en Transformasie (Universiteit van die Vrystaat) verwerf. Hy was ook lid van die provinsiale uitvoerende komitee van die Swart Bestuursforum in die Vrystaat.

Hy was eens op 'n tyd 'n aktiewe entrepreneur met suksesvolle privaat besighede in die dienste- en kleinhandelsektor. Hy was op 'n stadium werksaam as die Nasionale Administrateur vir die African National Congress (ANC) in die Jeugliga se Hoofkwartier. Daarna het hy vir 'n kort tydjie gedien as bestuurder van spesiale projekte en later as bestuurder van strategiese vennootskappe vir die Umsobomvu-jeugfonds.

Mnr Moemi was HUB van die Vrystaatse Jeugkommissie en was streeksbestuurder vir die Bloemfonteinstreek van Standard Bank.

Sy loopbaan het hom geneem na die Kantoor van die Premier in die Vrystaatse Provinsiale Regering waar hy gewerk het as hoofdirekteur verantwoordelik vir spesiale programme en interregeringsverhoudinge.

Mnr Moemi het al 'n aantal belangrike konferensies bygewoon en het al uitgebreide buitelandse reise onderneem. As Direkteur-generaal van SRSA werk hy hard daaraan om Suid-Afrikaanse sport na die volgende vlak te neem.