Aankondigings Argief 2018

NSFAS: Sluiting van die 2019-aansoekvenstertydperk, en voorbereiding vir 2019-studenteregistrasie

29 Oktober 2018

Die Nasionale Finansiëlehulpskema vir Studente (NSFAS) adviseer leerders en studente wat nog nie vir finansiële hulp vir 2019 aansoek gedoen het nie dat aansoeke op 2 December 2019 sluit (Doen hier aansoek). Die aanlyn stelsel sal outomaties om middernag sluit, en geen aansoeke sal later as middernag aanvaar word nie.

Nuwelingstudente (oftewel FTEN-studente) hoef nie plek by 'n universiteit te kry voordat hulle vir befondsing mag aansoek doen nie; hulle kan aansoek doen met hulle keuse van kursus en instansie, en dit later bywerk indien dit verander. Maar befondsing vir die 2019 akademiese jaar sal slegs aan geregistreerde studente gegee word wat vóór die sluitingsdatum aansoek gedoen het en aan al die kriteria voldoen het.

Dit is belangrik om te herhaal dat studente nie registrasiegeld hoef te betaal of 'n voorbetaling hoef te doen wanneer hulle kom om te registreer in Januarie 2019 nie. Die registrasiegeld/voorbetaling sal gedek word deur die NSFAS-pakket vir diegene wat aan die kriteria voldoen.

 


Terugvoer na optog op die Potchefstroomkampus vandag

7 September 2018

Die Economic Freedom Fighters Student Command en SASCO het vandag, 7 September, ’n memorandum aan die direkteur vir studentelewe, prof Lumkile Lalende, oorhandig. Klik hier om 'n videoboodskap van Prof Fika J van Rensburg (Adjunk-visekanselier (AVK): Potchefstroomkampus) te kyk.

Verspreiding van fopnuus

6 September 2018

"Valse inligting word tans versprei oor die beplande optog môre, Vrydag 7 September. Sien asseblief my boodskap," Prof Fika J van Rensburg, Adjunk-visekanselier (AVK): Potchefstroomkampus

Goedgekeurde optog op die Potchefstroomkampus op 7 September

6 September 2018

Die Economic Freedom Fighters Student Command gaan môre, Vrydag 7 September, om en by 14:30 ’n memorandum by die kassiere-ingang van Gebou F1 op die Potchefstroomkampus aan die visekanselier (of sy verteenwoordiger) oorhandig. Die registrateur het toestemming verleen vir 'n optog wat om 13:00 sal begin by die Hoofgebou (Fakulteit Regte), af beweeg in Wasgoedpennetjielaan, deur die Studentesentrum en af in Lover's Lane, tot by Gebou F1. Ons Beskermingsdienste sal die optog monitor.

Alle moontlike voorkomende maatreëls is getref. Kyk na 'n videoboodskap van prof Fika Janse van Rensburg (Adjunk-visekanselier (AVK): Potchefstroomkampus).


NSFAS-aansoeke vir 2019 open op Maandag, 3 September 2018

30 Augustus 2018

Die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Naledi Pandor, het aangekondig dat die 2019-NSFAS-aansoeke vir nuwe aansoekers sal open op Maandag, 3 September 2018.

Die aankondiging volg op ʼn vergadering gister (29 Augustus 2018) in Kaapstad tussen die Minister en die NSFAS-administrateur, dr Randall Carolissen.

Die besluit om die aansoeke te open, is geneem nadat die 2019-aansoeke eers met ʼn fokusgroep van hoërskoolleerlinge getoets is en positiewe resultate opgelewer het wat betref toeganklikheid en gebruikersvriendelikheid.

NSFAS het ʼn omvattende kommunikasieplan daargestel, wat vennootskappe met hoëronderwys- en opleidingsinstansies, die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap en gemeenskapstrukture en -organisasies behels om te verseker dat alle kwalifiserende studente bereik word.

Sodra ʼn student aansoek gedoen het by NSFAS, is die maksimum wagtydperk één week voordat ontvangs erken word. Indien ʼn student nie die ontvangserkenning kry nie, kan hy/sy NSFAS se TOLVRYE inbelsentrum bel by 08000 NSFAS (67327).

Met betrekking tot die vordering wat gemaak is met die NSFAS-kwessies is die volgende stappe geneem:

·       NSFAS het personeel na alle instansies toe ontplooi om te help met die knelpunte wat weens ʼn verskeidenheid faktore ontstaan het.
·       Die nodige fondse is beskikbaar en goeie vordering word gemaak om die studenteondersteuning by die kwalifiserende studente uit te bring.
·       NSFAS verwelkom die enorme ondersteuning van instansies en verteenwoordigende studenterade by universiteite en TBOO-kolleges met die hantering van knelpunte wat die uitbetaling van fondse vertraag.

Die ondersteuning van die instansies en VSR’e het daaruit bestaan dat hulle NSFAS gehelp het om seker te maak dat:

·       Studente die nodige ooreenkomste voltooi en onderteken.
·       Hierdie ooreenkomste en die studente se kursuskodes vasgelê word deur die instansies en ingedien word by NSFAS.
·       Boektoelaes, s-Bux, en vooraf befondsde studentebesonderhede korrek vasgelê word en met NSFAS-rekords in verband gebring word.

Van die 273 000 nuwelingstudente by TBOO-kolleges en universiteite het ʼn totaal van 211 000 die relevante fondse ontvang, terwyl nagenoeg 239 000 van die 241 000 terugkerende studente suksesvol aan die stelsel gekoppel is.

Studente word aangemoedig om uitstaande NSFAS-beursooreenkomste te onderteken ten einde te verseker dat besluite vir die voortsetting van befondsing vir die 2019 akademiese jaar glad verloop (indien hulle wel aan die akademiese vereistes voldoen).

Die Minister glo dat die oorblywende en uitstaande betalings gemaak word sodra besonderhede vasgelê en geverifieer word.

Minister Pandor doen ʼn beroep op studente om seker te maak dat hulle NSFAS in kennis stel van kontakbesonderhede wat verander het – veral selfoonnommers, aangesien dit die primêre kommunikasiehulpmiddel is waarmee studente inligting ontvang oor die uitbetaling van fondse.

Studente kan hul besonderhede op MyNSFAS se Aanlynportaal bywerk. Alle hoëronderwys- en opleidingsinstansies sal in staat gestel word om studente behulpsaam te wees met NSFAS-aansoeke.

Die Minister het studente ook gevra om hierdie fondse wys aan te wend om uitstaande gelde te betaal en op hul studies te fokus.

Uitgereik deur die Ministerie van Hoër Onderwys en Opleiding

Navrae

Lunga Ngqengelele
Mediaskakelbeampte
Ministerie van Hoër Onderwys en Opleiding

Sel: +2782 566 0446
Tel: +2712 312 5850
E-pos: lunga.n@dhet.gov.za

Website: www.dhet.gov.za
Tolvry 0800 872222
E-pos: Callcentre@dhet.gov.za
Twitter: @HigherEduGovZA
Facebook: DHETinSA

 


Vakature: Adjunk-Visekanselier: Toegewese Funksies en Kampusbedryf Potchefstroom

24 Augustus 2018

Doel van die pos:

Om strategiese leierskap te bied en om – vanuit ʼn institusionele perspektief – die uitvoerende funksie vir suksesmodelaflewering te bestuur, en om uitvoering te gee aan die Noordwes-Universiteit se strategie met betrekking tot toegewese funksies, met inagneming van die universiteit se multikampusaard en nasionale imperatiewe. Om toesig te hou en advies gee oor die dag-tot-dag-bedryfsdoeltreffendheid met betrekking tot alle ondersteuningsfunksies op ʼn kampus, tesame met die Universiteitsbestuurskomitee (UBK) wat strategiese en funksionele ontwikkelingsverantwoordelikheid het vir hierdie ondersteuningsfunksies oor alle kampusse heen. Om die Visekanselier en UBK te verteenwoordig as institusionele leier op kampus en om seremoniële funksies te vervul. Sien die advertensie

Vakature: Uitvoerende Direkteur: Mense en Kultuur

24 Augustus 2018

Doel van die pos:

Die Uitvoerende Direkteur: Mense en Kultuur (UD: PK) is ʼn lid van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Bestuurskomitee (UBK), en is as sodanig medeverantwoordelik vir die ontwikkeling en die oorkoepelende implementering van strategie van die universiteit. Die UD: PK bring grondige kennis van mensehulpbronbestuur na die UBK. As die mees senior mensehulpbronleier in die organisasie is die posbekleër verantwoordelik en aanspreeklik daarvoor om die leiding te neem in die uitvoer van alle aktiwiteite in die afdelings wat vir hierdie doel tot stand gebring is. Sien die advertensie

 


Kennisgewing aan alle studente van die Noordwes-Universiteit (NWU): Benoeming van studente om te dien op die onderskeie kampusstudenterade (KSR’s)

12 Julie 2018

Neem asseblief kennis dat die proses vir die benoeming en verkiesing van 2018/2019-KSR’s op al drie kampusse van die NWU ʼn aanvang sal neem op Maandag, 16 Julie 2018 en sal afsluit op 25 Julie 2018 om 16:00. Slegs ingeskrewe voltydse kontakstudente van die NWU mag geskik gekwalifiseerde studente benoem om te dien op die onderskeie Kampusstudenterade (KSR’s).

Let op die volgende voorwaardes soos uiteengesit in die NWU-statuut en die VSR-grondwet met betrekking tot die benoeming van kandidate:

ʼn Persoon mag benoem en verkies word om te dien op ʼn KSR indien die kandidaat:

  1. kwalifiseer om te stem in die verkiesing;
  2. ʼn geregistreerde student van die NWU is wat ingeskryf is vir ʼn program wat lei tot ʼn kwalifikasie;
  3. 70% van die modules geslaag het wat voorgeskryf is vir die kurrikulum van die kwalifikasie waarvoor die kandidaat ingeskryf was in die semester wat die verkiesing voorafgaan;
  4. geregistreer is vir 60% van die modules wat voorgeskryf is vir die kurrikulum van die kwalifikasie waarvoor die kandidaat ingeskryf is in die huidige akademiese jaar;
  5. nie geregistreer is, en nie sal poog om geregistreer te word, vir ʼn tydperk wat die maksimum studietydperk van die betrokke studie oorskry nie;
  6. ʼn volle termyn gedien het, of tans besig is om te dien, in ʼn leierskapsposisie binne die georganiseerde studentegemeenskap van die Universiteit, en
  7. Om te kwalifiseer vir benoeming en verkiesing tot die posisie van voorsitter van ʼn KSR moes die kandidaat reeds ʼn volle termyn as lid van die betrokke KSR gedien het.
  8. Om te kwalifiseer vir benoeming en verkiesing tot die posisie van Afstandstudentebeampte moet die kandidaat beskikbaar wees om deel te neem aan al die vergaderings en aktiwiteite van die VSR.

ʼn Persoon is gediskwalifiseer van benoeming as ʼn kandidaat vir verkiesing op ʼn KSR indien:

  1. sodanige persoon ingeskryf is in die eerste jaar van ʼn voorgraadse program;
  2. sodanige persoon reeds meer as twee volle termyne op ʼn KSR gedien het;
  3. ʼn belangebotsing kan ontstaan indien die persoon verkies word;
  4. sodanige persoon skuldig bevind is ingevolge die studentetugreëls van die Universiteit en ʼn vonnis opgelê is sonder die keuse van ʼn boete, of
  5. sodanige persoon ʼn misdaadrekord het.

Skriftelike benoemings op die nominasievorm word hiermee versoek, en moet ingevul word in die voorgeskrewe formaat en ingedien word voor of op 16:00 op 25 Julie 2018 by die kantore van die onderskeie kampusdirekteurs vir Studentelewe.

Laai die benoemings- en verkiesingsproses op al drie kampusse af

 


Toelaes vir NSFAS-studente in 2018

24 Mei 2018

Dit lyk asof daar steeds ʼn mate van verwarring onder studente heers met betrekking tot die bepaling van toelaes aan studente vir die 2018 akademiese jaar. Die doel van hierdie kommunikasie is om meer duidelikheid te gee en enige misverstande uit die weg te ruim wat ontstaan het na aanleiding van die nuwe reëlings wat aangekondig is as gevolg van die veranderings aan die NSFAS-beursskema in die universiteitsektor.

Lees hier ʼn nuusbrief wat van NSFAS af ontvang is, met ʼn uiteensetting van die toelaes vir NSFAS-studente in 2018.

Vir maklike verwysing en gebaseer op die navrae wat ontvang is deur die onderskeie beurskantore op die NWU-kampusse, is die inhoud van die nuusbrief opgesom.

Let daarop dat daar ingevolge NSFAS-stipulasies duidelik onderskei word tussen FTEN (eerstejaars), en nuwe senior studente wat NSFAS vir die eerste keer ontvang en senior terugkerende studente.

ʼn FTEN is ʼn nuwelinginskrywing, m.a.w. ʼn student wat in 2018 vir die eerste keer by ʼn hoëronderwysinstansie ingeskryf het. Die inkomstegaping vir hierdie kategorie studente is R350 000. Vir senior terugkerende studente en senior studente wat NSFAS vir die eerste keer ontvang, bly die inkomstegaping op R122 000. Vir senior NSFAS-studente uit gesinne met huishoudelike inkomstes onder R122 000 per jaar sal beurse beperk word na gelang van die toelaes, met ʼn maksimum beurs van R83 000.

Vir FTEN-studente sal die nuwe 2018-toelaes geld. Vir senior en terugkerende studente sal die 2017-toelaes + ʼn 5%-verhoging geld. Ná bevestiging van die finale beursbedrag vir 2018 vir elke student sal die verhoging in toelaes geïmplementeer word volgens die NSFAS-bepalings. Die Universiteit moet te alle tye hou by die instruksies en reëls wat van NSFAS ontvang word. Studente wat gebruik maak van universiteitsakkommodasie of privaat losies kwalifiseer nie vir ʼn vervoertoelae nie.

Die toelaes sal aangepas word ná ondertekening van die NSFAS-ooreenkoms.

Opsomming van NSFAS-toelaes vir 2018:

NSFAS-kategorieë 2018

FTENS (nuwelinginskrywings)

Senior Studente (terugkerend)

Klas- en koshuisgelde

 

Werklike koste

Werklike koste

Boeke

 

R5 000 per jaar

R5 000 per jaar

(Mag onderskei tussen kursusse en aantal modules waarvoor ingeskryf is)

Etes

R13 500 per jaar (R1 350 per maand)

R8 000 per jaar + 5% = R8 400 (R840 per maand)

Privaat losies

Volgens studentebehuisingsbeleid

NWU: Geakkrediteerde behuising = R25 000

Ongeakkrediteerde behuising PK = R18 500, MK & VDK = R16 000 per jaar

 

Volgens studentebehuisingsbeleid

NWU: Geakkrediteerde behuising = R25 000

Ongeakkrediteerde behuising PK = R18 500, MK & VDK = R16 000 per jaar

Reiskostetoelaes

R9 300 per jaar soos per institusionele reisbeleid. Slegs van toepassing op studente wat nie van ʼn universiteitskoshuis of privaat losies gebruik maak nie.

R0 (is nie in die verlede betaal nie)

BEPERKTE BEDRAG

Slegs beperk per toelae gegee

R83 600 – TOELAES MAG SLEGS MET 5% VERHOOG WORD

 

 Indien u enige bystand in hierdie verband benodig, kontak asseblief u Beurskantoor op kampus.


Nuwe datums: Gradeplegtighede vir die Mahikengkampus

23 April 2018

Beste Graduandus

Vind asseblief na aanleiding van ons vorige kommunikasie oor die herskedulering van die gradeplegtighede vir die Mahikengkampus wat dié week sou plaasvind die hersiene datums en tye deur hier te  klik.


Gradeplegtighede vir die NWU se Mahikengkampus uitgestel

21 April 2018

Beste Graduandus

As gevolg van die voortgesette onrus in die groter Mahikeng het die bestuur van die Noordwes-Universiteit besluit om die gradeplegtighede wat vir volgende week Dinsdag, Woensdag en Donderdag geskeduleer was, uit te stel na 2, 3 en 4 Mei. Hierdie besluit is geneem nadat die Suid-Afrikaanse Polisiediens geraadpleeg is, en is in die beste belang van ons graduandi en hulle families. Ons wil seker maak dat hierdie belangrike geleentheid behoorlik gevier kan word, vandaar die besluit.

Verdere kommunikasie in hierdie verband sal volg. Kontroleer asseblief die kennisgewings op die NWU se webwerf vir die jongste inligting.

Vriendelike groete

NWU Bestuur    


Geen risiko: Gevalle van Duitse Masels op die NWU se Potchefstroomkampus

16 Maart 2018

Daar was die afgelope week ongeveer tien laboratorium-bevestigde gevalle van Duitse Masels op ons Kampus.

Ons Gesondheidsdienste was in kontak met prof Lucille Blumberg van die Nasionale Instituut vir Aansteeklike Siektes (NICD), en daar is konsensus dat hierdie voorkomste van Duitse Masels nie 'n wesenlike gevaar inhou wat noodsaak dat die kampus sluit nie.

Duitse Masels begin gewoonlik soos 'n verkoue (en is reeds dan aansteeklik), en na vyf dae is daar 'n vel-uitslag wat tipies by die kop begin en dan oor die romp en ledemate versprei. Studente wat hiermee deur middel van bloedtoetse positief gediagnoseer word, moet vir ongeveer 7-10 dae geïsoleer word en liefs huis toe gaan indien moontlik.

Studente en personeel word opnuut aangemoedig om hulle teen Duitse Masels te laat inent (MMR-entstof), 'n inenting wat vir volwassenes ten minste elke tien jaar herhaal moet word.

Weet vir seker dat ons enige verwikkeling in hierdie verband onmiddellik sal kommunikeer.

Prof Fika Janse van Rensburg


Vordering en beplanningsproses met die hersiening van die taalbeleid en taalplan

16 Maart 2018

 

Ons verwys na ons memo in hierdie verband wat op 19 Oktober 2017 uitgestuur is.

Die geskeduleerde raadplegingsproses vir die hersiening van die NWU se Taalbeleid en Taalplan (TBP) word in 2018 voortgesit. Ons moes ons tydlyn effens aanpas vanweë sekere prosesse wat langer geneem het as wat ons verwag het. Hier is ʼn hersiene skedule vir die oorlegplegingsproses.

Tydlyn vir die 2017- en 2018-prosesse met betrekking tot die TBP (spertye in vetdruk):

Bywerking met betrekking tot prosesse en hersiene skedule vir TBP-prosesse

  1. ʼn Aantal onvoorsiene omstandighede (onder meer die tyd wat dit geneem het om die fakulteitstrukture tot stand te bring, die verfyning van die opname-instrumente en die gepaardgaande goedkeuring vir hierdie proses) het die oorspronklike skedulering geaffekteer, wat na dese bietjie agter die aanvanklike tydlyne is.
  2. Finale etiekklaring is verleen, wat die goedkeuring van die taalouditvraelyste insluit.
  3. Finale konsepte van die ouditvraelyste is ook vertaal na Setswana, Sesotho en Afrikaans en sal bygewerk word aan die hand van insette van die Etiekkomitee en die persone wat die vertalings hersien.
  4. Sodra dit gefinaliseer is, sal die vraelyste geformateer word vir plasing in Survey Analytics op eFundi, en sal die opname gedoen word. Die elektroniese opname sal uitgestuur word na voorgraadse en nagraadse kontakstudente sowel as na akademiese en ondersteuningspersoneel. Ander belanghebbers sal die geleentheid gegee word om deel te naam aan die TBP-hersieningsproses deur kommentaar te lewer op die konsep-TBP.
  5. Hoewel ons bietjie agter die oorspronklike skedule is, behoort ons soos volg te kan inhaal:
    1. 1. TBP voorgelê aan fakulteitsrade/-besture en studenteleiers gedurende die tweede week van Maart vir bespreking en terugvoer op hul volgende vergaderings – eerste fakulteitsraads-/bestuurs- en studenteleierskapsvergaderings, Maart 2018
    2. 2. Sperdatum vir terugvoer vanaf fakulteitsrade en ander belanghebbers aan die registrateur – 31 Maart 2018
    3. 3. Loods van taaloudit elektroniese opname – laat Maart 2018, of so gou moontlik daarna, maar nie later as 5 April nie
    4. 4. Sluitingsdatum vir taaloudit elektroniese opname – 20 April 2018
    5. 5. Ontleding van taalouditresultate en raadpleging met belanghebbers wat met die TBP-taakspan wil vergader, geskeduleer vir 21 April tot 10 Mei 2018
    6. 6. Voltooiing van verwerking deur die TBP-taakspan van terugvoer van belanghebbers en taaloudits, en bywerking van TBP om terugvoer van belanghebbers en oudit te inkorporeer – voor sluitingsdatum van agenda vir Senaatsvergadering op 16 Mei 2018
    7. 7. Voorlaaste konsep van TBP word aan die Senaat voorgelê – 16 Mei 2018
    8. 8. Inkorporering van die Senaat se insette in voorlaaste konsep-TBP ten einde die finale konsep vir voorlegging aan die Raad gereed te kry – voor sluitingsdatum vir agenda van Junie 2018 se Raadsvergadering
    9. 9. Voorlegging van TBP aan Raad vir goedkeuring – Junie 2018. Die TBP-taakspan (wie se opdrag in Oktober 2016 deur die universiteitsbestuur en die Senaat goedgekeur is) sal terugvoer ontvang as deel van die opstelproses en sal teen die middel van 2018 aan die Senaat terugrapporteer in afwagting van goedkeuring deur die Raad op sy Junie 2018-vergadering.

Navrae met betrekking tot die proses en die konsep-TBP kan gerig word aan Johan Blaauw. Die TBP-taakspan, onder voorsitterskap van die Adjunk-visekanselier: Onderrig en Leer, sal u ook ingelig hou soos wat die prosesse ontvou.

Soos vantevore versoek ons almal om voluit deel te neem soos wat die verskillende geleenthede hulle voordoen om ons Taalbeleid en Taalplan te hersien.


 

NWU NSFAS-registrasie 2018

20 Januarie 2018


Hierdie kommunikasie moet gelees word saam met alle ander kommunikasie wat reeds op die NWU se webwerf gepubliseer is (sien Belangrike NSFAS-inligting vir 2018 en NSFAS-befondsing: Alles wat jy behoort te weet). Dit dien as bykomende inligting.

Ten einde verskeie onsekerhede te hanteer oor die registrasie van studente wat om NSFAS-befondsing aansoek gedoen het, en ná die aankondiging deur die President, asook ten einde verkeerde boodskappe oor die kwessie reg te stel, hiermee ’n duidelike en gedetailleerde aanduiding van hoe hierdie proses tydens registrasie deur die NWU hanteer sal word.  

Let asseblief daarop dat slegs studente wat aansoek gedoen het en tot die NWU toegelaat is, bygestaan sal word. 

EERSTEJAARS 2018

  • Studente wat kwintiel 1-3-skole bygewoon het, of wat deur SASSA of ongeskiktheidstoelaes ondersteun word, sal outomaties vir befondsing kwalifiseer. Hulle sal toegelaat word om te registreer sonder om enige gelde te betaal slegs nadat hulle die vrywaringsvorm met die nodige inligting ingevul het. 
  • Studente wat binne die gegewe tydsraamwerk in 2017 by NSFAS aansoek gedoen het en tot die NWU toegelaat is, sal toegelaat word om te registreer wanneer die NSFAS-befondsing goedgekeur is.  Hierdie studente sal met registrasie bygestaan word hangende die huidige stand van hulle NSFAS-aansoek. 
  • Studente wat nie by NSFAS aansoek gedoen het nie en wie se gekombineerde huishoudelike inkomste nie meer as R350 000 per jaar is nie, moet ’n vrywaringsvorm invul en inhandig om NSFAS te magtig om kredietkontroles te doen om hulle huishoudelike inkomste te bevestig. Onvolledige vrywaringsvorm sal nie oorweeg word nie. Die NWU sal ’n voorafkeuring doen van die inligting wat verskaf word voordat die student toegelaat sal word om te registreer.  Die student sal binne 72 uur nadat die VOLLEDIGE vrywaringsvorm ontvang is van die uitslag van die voorafkeuring in kennis gestel word.  Indien die student vooraf gekeur word, sal so 'n student toegelaat word om te registreer sonder om enige gelde by registrasie te betaal. Belangrik: Studente moet asseblief hulle vorms so spoedig moontlik indien sodat hulle binne die gegewe registrasietydperk bygestaan kan word – maak asseblief voorsiening vir die 72 uur wat nodig is om die voorafkeuring te doen.
  • Indien die befondsingsaansoek nie deur NSFAS goedgekeur word nie (selfs al is dit vooraf deur die NWU goedgekeur op grond van die voorafkeuring wat gedoen is), moet die student die minimum bedrag betaalbaar vereffen binne vyf werksdae nadat die uitslag van NSFAS ontvang word, anders sal die student onmiddellik gederegistreer word.  
  • Indien gemelde studente nie vir die goedkeuring van die voorafkeuring wil wag nie, moet hulle die minimum bedrag betaalbaar by registrasie betaal, en dit sal dan met finale goedkeuring deur NSFAS aan hulle terugbetaal word. 


SENIOR VOORGRAADSE STUDENTE

  • Senior studente sal toegelaat word om te registreer, mits hulle aan die minimum akademiese vorderingsvereistes voldoen. 
  • Studente wat uitstaande skuld het en wil registreer, sal aan die hand van die volgende kategorieë bygestaan word:
    • Goedgekeurde 2017-studente wat hulle leningsooreenkomsvorm (LOV)/skedule met besonderhede (SMB) onderteken het, maar vir wie die NWU nog nie enige befondsing van NSFAS ontvang het nie, sal toegelaat word om te registreer.
    • Goedgekeurde 2017-studente wat om een of ander rede nog nie hulle LOV/SMB onderteken het nie, moet die LOV/SMB dringend onderteken, maar sal toegelaat word om te registreer (slegs nadat hulle die dokumente onderteken het)
    • Studente wat voorheen ’n kwintiel 1–3-skool bygewoon het of ’n SASSA-toelae ontvang en uitstaande skuld het, moet by registrasie geïdentifiseer en bevestig word voordat hulle toegelaat sal word om te registreer.  (Let asseblief daarop dat alle instellings in hierdie verband steeds op befondsing van die DHOO wag.)
    • Enige ander redes van goedgekeurde NSFAS-studente met uitstaande skuld sal op ’n geval-tot-geval-grondslag hanteer word om hierdie studente by te staan.   


Die NWU het geen plafon vir uitstaande skuld vir studente wat kontant betaal en/of ander beurshouers nie, en sal studente tydens registrasie per individuele geval op meriete bystaan.  Versoeke om spesiale betaalreëlings sal na die finansiële registrasiekomitees op elke kampus verwys word. 

Vir enige verdere navrae, besoek asseblief jou finansiële kantoor op kampus.
 


Aansoek vir die DHOO 2018-aansuiweringstoelae

15 Januarie 2018

Die regering sal die styging, wat tot 8% beperk is, subsidieer vir alle kwalifiserende geregistreerde studente met ʼn bruto gesinsinkomste van R600 000 of minder per jaar in 2018. Dit is nie ʼn lening nie; dit is ʼn toekenning. Die toekenning sal as ʼn krediet op die studenterekening verskyn sodra bevestig is dat die student wel kwalifiseer. Die NWU-studenterekeningkantore op al die kampusse het reeds die tersaaklike inligting en die aansoekvorm ontvang:

  • Aansoekers wat aansoek gedoen het vir NSFAS-befondsing hoef nie hierdie aansoek in te dien nie; hulle sal outomaties oorweeg word.
  • Alle studente wat Kwintiel 1-, 2- en 3-skole bygewoon het in Graad 12 sal outomaties oorweeg word ná verifikasie van HEMIS-data, en sal nie nodig hê om hierdie aansoek in te dien nie.
  • Studente wat in 2017 aansoek gedoen het en gekwalifiseer het vir die DHOO-aansuiweringstoelae hoef nie wéér hierdie aansoek in te dien nie; hulle sal outomaties oorweeg word aangesien die Universiteit reeds hierdie inligting sal hê.


Laai die aansoekvorm af

Sluitingsdatum vir aansoeke: 28 Februarie 2018

Stuur asseblief die voltooide vorm en stawende dokumente na die volgende adresse:

 


NWU: registrasie van eerstejaarstudente in 2018

04 Januarie 2018

Na die President se aankondiging oor gratis onderwys vir sekere kategorieë voornemende studente, asook onlangse beroepe in die media vir sulke studente om by universiteite op te daag en daarop aan te dring om te registreer, bly die Noordwes-Universiteit (NWU) se standpunt dat geen instapstudente toegelaat sal word om vir 2018 te registreer nie.

Die NWU het ruimte vir net meer as 9 200 eerstejaarstudente, en aansoeke van voornemende studente het reeds op 30 September 2017 gesluit. Meer as 50 000 aansoeke is ontvang, en studente is voorlopig aanvaar hangende hulle voldoening aan die universiteit se toelatingsvereistes.

Soos by enige ander universiteit word die grootte van die inname van nuwe studente bepaal in ooreenstemming met die inskrywingsplan wat met die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding ooreengekom is. Slegs voornemende studente wat by die universiteit aansoek gedoen het, aan die toelatingsvereistes voldoen het en aanvaar is, sal toegelaat word om in 2018 te registreer.

’n Verklaring deur Universiteite Suid-Afrika dui aan dat voorsiening gemaak is dat studente wat nie voorheen vir finansiële bystand gekwalifiseer het nie en wat dus nie vir universiteitstoelating in 2018 aansoek gedoen het nie en nou op grond van die onlangse presidensiële verklaring vir gratis onderwys kwalifiseer, hulle besonderhede aanlyn by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) se sentrale aansoekklaringshuis (CACH) kan indien.

Die Noordwes-Universiteit het gebeurlikheidsplanne in plek om verskillende situasies te hanteer. Enige situasie wat as gevolg van verwarring in hierdie verband kan ontstaan, sal gemoniteer word, en indien nodig sal die gebeurlikheidsplanne geïmplementeer word om die veiligheid van ons personeel, studente en eiendom te verseker.