Adv. Jan Henning word allerweë beskou as een van die beste staatsaanklaers en bestuurders wat Suid-Afrika se vervolgingsgesag nog ooit opgelewer het. Hy het gehelp met die stryd teen binnehandel op die effektebeurs, is bekend as ʼn voorstander van beter werkstoestande vir staatsaanklaers en het leierskapsrolle op verskeie gebiede en in verskeie instansies vertolk – onder meer die Instituut vir Kommersiële Forensiese Praktisyns, die Vereniging van Gesertifiseerde Bedrogondersoekers en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).
Tydens sy loopbaan het hy in verskeie hoëprofiel- en komplekse kriminele sake opgetree in die Hooggeregshowe en die Hoogste Hof van Appèl. Dit sluit in gevalle van moord, verkragting en handelsmisdade, sowel as sekuriteit en geheime operasies.
Adv Henning was ook lid van die span wat ten gunste van die afskaffing van die doodstraf geargumenteer het in die nuwe konstitusionele bedeling in Suid-Afrika.
Hy het sy loopbaan afgeskop deur aan te sluit by die Departement van Justisie, as staatsaanklaer in die kantoor van die Prokureur-generaal in onderskeidelik Grahamstad, Kimberley en Johannesburg, waar hy hoof was van die Prokureur-generaal se Handelsmisdaadeenheid. Hy het in 2006 afgetree as Adjunkhoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), ná ʼn loopbaan van 33 jaar.
Die destydse president FW de Klerk het aan hom die status van hoofadvokaat gegee in 1992; in 1999 is hy aangewys as Spesiale Direkteur vir Hofbestuur in die NVG. In hierdie hoedanigheid het hy in 2001 op versoek van die Minister van Justisie en Konstitusionele Ontwikkeling ʼn verslag oor die werklading van die Spesiale Ondersoekeenheid voltooi.
Adv. Henning het op die Raad van die Noordwes-Universiteit gedien. Hy was lid en voorsitter van die Ouditkomitee van die Raad en Voorsitter van die Konvokasie. Hy het die grade Blur en LLB aan die voormalige PU vir CHO verwerf.
Selfs noudat hy afgetree is, huiwer adv. Henning nie om indringende kommentaar te lewer op kwessies wat ons grondwetlike demokrasie en spesifiek die funksionering van die strafregstelsel raak nie.