Alumni - Ettienne le Roux

 

 

Mnr Ettienne le Roux was 'n ekonoom verbonde aan die Nasionale Tesourie nadat hy sy loopbaan afgeskop het as dosent in ekonomie by die Noordwes-Universiteit se Vanderbijlparkkampus.  Terwyl hy by die Tesourie gewerk het, het hy ook die geleentheid gehad om sy studies in die Verenigde State van Amerika voort te sit. Mnr Le Roux het hom later in die bankwese begeef en is tans hoofekonoom vir Rand Merchant Bank (RMB).

Sy kennis van die ekonomie maak hom gesog. In Julie 2013 het mnr Trevor Manuel, in sy hoedanigheid as Minister in die Presidensie: Nasionale Beplanningskommissie, hom as lid van die Suid-Afrikaanse Statistiekraad benoem.

Sy loopbaan in die bankwese het by Eerste Nasionale Bank begin, waar hy 'n ekonoom was. Mnr Le Roux het van daar af by RMB aangesluit en later tot hoofekonoom gevorder. As 'n kundige op die gebied van valuta en betalingsbalans is sy vernaamste taak as hoofekonoom om die makro-ekonomiese omgewing te moniteer vir nuwe tendense in ekonomiese veranderlikes en beleid.

Gedurende sy tyd by RMB het hy verskeie prestasietoekennings ontvang, insluitende Beste Analis van die Jaar. Hy het ook vir twee jaar lank op die Junior Bestuursraad gedien.

Voor sy aanstelling as hoofekonoom was hy gesamentlike hoof van RMB se vaste-inkomste, kommoditeits- en valuta-navorsingspan. Hy is 'n gereelde gesig in die media en het al verskeie meningstukke en navorsingsartikels in nasionale koerante soos Business Day en Financial Mail gepubliseer.

Mnr Le Roux het die grade BCom, BComHons en MCom Ekonomie by die Vanderbijlparkkampus behaal toe dit nog 'n satellietkampus van die  Potchefstroomse Universiteit vir CHO was. Hy het al sy grade met lof verwerf.

Later van tyd het hy kursusse in Internasionale Handel en Nasionale Rekeningkunde aan New York Universiteit voltooi.

Hy handhaaf steeds sterk bande met die NWU. Mnr Le Roux bied per geleentheid gaslesings in Ekonomie aan by die NWU se Vanderbijlparkkampus. In 2012 het hy ook 'n alumni-ontbyt toegespreek oor kwessies soos die globale ekonomiese markte en die finansiële vooruitsigte vir die Suid-Afrikaanse ekonomie.