Printer-friendly version
Druk
Share this
 

 ALUMNI 

Alumni-toekennings 2013 - erken uitblinker-alumni

Die NWU is trots op sy alumni en het besluit om amptelike erkenning te gee aan diegene wat persoonlike en beroepsprestasies behaal en uitsonderlike bydraes tot hul gemeenskappe lewer.

Die NWU-Konvokasie nooi dus graag alle amptenare van die NWU, alumni, permanente NWU-personeel, raadslede en lede van die Raad van Donateurs om nominasies in te dien vir die Alumni-toekennings.

Uitsondering: Huidige lede van die uitvoerende komitees van die NWU se Raad en Konvokasie, asook lede van die Institusionele Bestuur kom nie in aanmerking vir die toekennings nie en mag dus nie genomineer word nie.

Die Konvokasie mag besluit om uit die nominasies wat vir die Alumni-toekenning ontvang is, die Lewensprestasie-toekenning aan 'n uitsonderlike genomineerde toe te ken. Hierdie toekenning sal net op seldsame geleenthede toegeken word waar die kandidate werklik buitengewone diens aan die gemeenskap gelewer het.

Kriteria

Om vir die Alumni-toekenning te kwalifiseer, moet alumni aan die volgende vereistes voldoen:

- Hulle moes 'n graad of diploma aan die NWU behaal het

- Hulle moes uitnemende persoonlike of beroepsprestasies behaal het

- Hulle moes voortreflike bydraes tot die gemeenskap gelewer het

- Hulle moes beduidende leierskap getoon het op bogenoemde terreine

- Hulle moet voortgaande toewyding aan die NWU toon

Hoe om te nomineer

Klik hier om die elektroniese nominasievorm te voltooi.

Onthou om al die velde van die vorm te voltooi en hou ook die kriteria soos uiteengesit, in gedagte, en verskaf deeglike motivering waar nodig. Volg die instruksies op die vorm om dit te stuur en onthou om al u stawende dokumentasie by die e-pos aan te heg.

Voltooide nominasievorms kan ook gepos word aan me Therina du Pisani, Interne bussie 612, Institusionele Kantoor, Noordwes-Universiteit, Privaatsak X1290, Potchefstroom, 2520. Dit kan ook gefaks word na 018 299 4605.

Sluitingsdatum vir nominasies

Nominasies moet voor of op 31 Maart 2013 ingedien word.

Navrae

Enige vrae oor die nominasieproses kan gerig word aan me Therina du Pisani in die kantoor van die Direkteur: Ontwikkeling en Alumniverhoudinge by tel 018 299 4156 of therina.dupisani@nwu.ac.za.

 

Oor ons

Daar is talle redes om met u alma mater kontak te behou nadat u ’n graad behaal het. Dit sluit in dat u deel kan wees van ’n wêreldwye netwerk van NWU-alumni wat u opvoedkundige agtergrond deel, dat u toegang kan hê tot die Alumni-loopbaanpoort en die geleentheid kan hê om tot die toekomstige ontwikkeling van die NWU by te dra.

Die Universiteit het twee hoofkanale waardeur kontak met alumni behou word: die Alumnivereniging en die Konvokasie.

Konvokasie

Die Konvokasie is ’n formele struktuur wat die welsyn van die Universiteit bevorder en sy sake aktief deur verteenwoordiging op die NWU-Raad beïnvloed. Vier lede van die Raad kom uit die Konvokasie en word vir hierdie doel deur die Konvokasie verkies. Die liggaam werk ook nou saam met ander NWU-strukture soos die Alumnivereniging, wat graag die interaksie tussen die Universiteit en sy alumni wil bevorder.

Elke gegradueerde van die NWU of sy voorgangers het die reg om aan die Konvokasie te behoort, om genomineer te word om die Konvokasie op die Raad te verteenwoordig en om vir sy lede op die Raad te stem. Lidmaatskap van die Konvokasie is ook oop vir alle vorige en huidige permanente personeellede van die Universiteit.

Alumnivereniging

Die NWU-Alumnivereniging is ’n vleuel van die Konvokasie en bevorder lewenslange skakeling tussen alumni en die Universiteit. Die Vereniging het ’n Alumnikantoor op elkeen van die drie kampusse. Hierdie kantore reël alumnibyeenkomste, van reünies tot gholfdae, en hou lede op hoogte van belangrike verwikkelinge by die Universiteit.

Elkeen wat ’n diploma of graad aan die NWU (of sy voorgangers) verwerf het, kan ’n lid van die Alumnivereniging word. Die vereniging verwelkom ook die lewensmaats van alumni as medelede, asook individuele donateurs wat nie aan die NWU studeer het nie. Medelede het dieselfde regte en voorregte as ander lede.

Einde 2009 het daar nie ‘n nuusbrief verskyn nie – ‘n glansblad Alumnitydskrif het die lig gesien.  Klik hier om die tydskrif te besigtig.