Aankondigings Argief 2016/2017

Nuwe primêre kleur vir die NWU

24 November 2017

Met die oog op die NWU se unitêre fakulteitsgedrewe model, is dit gerade geag om weer te dink oor die huidige gebruik van drie korporatiewe kleure wat die drie kampusse verteenwoordig. Die Raad het tydens sy vergadering van 21 September 2017 'n nuwe monolitiese handelsmerkposisie en korporatiewe identiteit – as deel van die implementering van die universiteit se nuwe strategie – in beginsel goedgekeur. Die Raad het ook erken dat dit noodsaaklik is dat die nuwe handelsmerkposisioneringsproses konsultasie met belanghebbers moet insluit en betyds vir implementering in 2018 afgehandel word.

As uitvloeisel van hierdie besluit is drie voorstelle voorberei, en het verdere skakeling en konsultasie (wat 'n aanlyn opname ingesluit het), met personeel, huidige en voornemende studente, alumni en statutêre liggame van die universiteit begin. Die Universiteitsbestuurskomitee (UBK) het 'n omvattende verslag oor 'n nuwe primêre kleur wat ons unitêre struktuur beter sal verteenwoordig, aan die Raad se Ad Hoc Komitee oor Herstrukturering voorgelê.

Die Raad het die Ad Hoc Komitee se aanbeveling aanvaar om die voorstel van 'n nuwe handelsmerkposisie en korporatiewe identiteit, met pers as die primêre kleur vir die universiteit, goed te keur. Tydens goedkeuring van die voorstel het die Raad 'n reeks aangeleenthede – wat die resultate van die opname en die universiteit se strategie insluit – in ag geneem. Die universiteitsbestuur sal voortgaan met gesprekke met alle belanghebbers wat die goedgekeurde handelsmerkposisie en korporatiewe identiteit betref om inkoop in en ondersteuning vir die nuwe kleur te verseker.

Die Raad is ook gerusgestel dat die befondsing vir die implementering van die handelsmerkstrategie – vir die grootste deel van die implementering – deel van die bemarking en kommunikasie-begroting is. Die nuwe korporatiewe identiteit sal op 'n finansiëel-omsigtige wyse geïmplementeer word. Alle belanghebbers word verseker dat die NWU steeds 'n tuiste is vir almal wat hier werk en studeer, en ook vir ons alumni wie se ondersteuning vir ons belangrik is.


Belangrike NSFAS-inligting vir 2018

16 November 2017

1. Studente wat tans kwalifiseer vir NSFAS-befondsing 

Studente wat in die 2017 akademiese jaar deur NSFAS befonds is en ʼn NSFAS-kontrak onderteken het, hoef nie weer aansoek te doen vir 2018 nie.

2. Die volgende studente moet aansoek doen vir NSFAS-befondsing vir die 2018 akademiese jaar:

  • Studente wat nie NSFAS-befondsing gehad het vir die 2017 akademiese jaar nie.
  • Studente wat vantevore deur NSFAS befonds is (vóór die 2017 akademiese jaar), maar wat nou in aanmerking kom vir befondsing weens hul verbeterde akademiese prestasie.
  • Studente wie se gesinsinkomstestatus verander het en wat nou aan die kriteria van die NSFAS-middeletoets voldoen.

Neem asb. kennis dat NSFAS nie nagraadse kwalifikasies befonds nie. Die enigste uitsondering is die Nagraadse Onderwyssertifikaat (NGOS).

NSFAS befonds nie studente wat reeds ʼn eerste graad of diploma verwerf het nie (ongeag of die student vantevore NSFAS-befondsing ontvang het). Die enigste uitsondering is BA/BCom Regte wat voortgaan na LLB-studies en die NGOS.

Die sluitingsdatum vir NSFAS-aansoeke is 30 November 2017. Besoek asb. www.nsfas.org.za om aanlyn aansoek te doen.


Herakkreditasie: Noordwes-Universiteit (NWU) se Baccalaureus in Regte-program (LLB-program)

15 November 2017

Die Raad op Hoër Onderwys (RHO) het die Noordwes-Universiteit (NWU) in kennis gestel dat die akkrediteringsuitkoms van die hersiening van die LLB-program gewysig is vanaf “Kennisgewing van onttrekking van Akkreditasie” na “Herakkreditasie onderhewig aan nakoming van gespesifiseerde voorwaardes”.

In reaksie hierop het die visekanselier van die NWU, prof Dan Kgwadi, sy tevredenheid uitgespreek met die uitslag. Hy het ook alle persone wat by die proses betrokke was, veral personeel van die Fakulteit Regte, bedank.

“Van die begin af het ek ’n toegewyde span gehad wat die geïdentifiseerde tekortkominge hanteer het. Ek is seker dat die NWU, deur die probleme te hanteer wat die RHO geïdentifiseer het, sal verseker dat ons ’n selfs beter LLB-graad verskaf, nie net tot voordeel van ons studente nie, maar ook tot dié van die land.

“Ons standpunt was altyd dat die strategie wat ons nou implementeer daarop fokus om die bekommernisse te hanteer wat deur die RHO geopper word. Dié strategie is om die NWU te posisioneer as ’n unitêre instelling van voortreflike akademiese uitnemendheid, met ’n verbintenis tot maatskaplike geregtigheid.”

Die RHO se terugvoer was in reaksie op die voorlegging van ’n verbeteringsplan en ‑strategie op 6 Oktober hierdie jaar. Hierdie plan het ook die vordering ingesluit wat sedert die hersieningspaneel se terreinbesoek in 2016 gemaak is.

Tydens die Hoëronderwys-Kwaliteitskomitee (HOKK) se vergadering op 9 November 2017 is die universiteit se verbeteringsplan, saam met ander tersaaklike dokumentasie wat ingedien is, hersien. Die HOKK was tevrede dat die plan die bekommernisse ten opsigte van volledige akkreditasie hanteer het, en dat sekere tekortkominge – wat die kapasiteit van die instelling betref en wat binne ’n redelike tydperk reggestel kan word, geïdentifiseer is.

Die HOKK vereis dat ’n vorderingsverslag teen 30 Oktober 2018 ingedien word. Daarna sal ’n opvolgterreinbesoek gedoen word op ’n datum wat deur die RHO en die instelling bepaal sal word.

Volgens die RHO se terugvoer blyk dit uit die bewyse wat in die universiteit se verbeteringsplan aangebied word dat die meeste van die bekommernisse reeds hanteer word. Dit het hoofsaaklik gegaan om die ongelykheid tussen kampusse, ’n gebrek aan substantiewe integrasie en lae toelatingsvereistes, tesame met onvoldoende studentesteun.

“Die plan is gedetailleerd, en word deur omvattende getuienis ondersteun. Daar is ook ’n verbintenis om meer kanale te ondersoek om hierdie bekommernisse in die nabye toekoms te hanteer. Dit blyk dat die instelling al die tersaaklike belanghebbers betrek het om hierdie bekommernisse en aanbevelings te hanteer,” sê die RHO.

Die terugvoer dui verder aan dat die pogings wat deur die Fakulteit Regte aangewend is, prysenswaardig is. Hierdie pogings het ingesluit die hou van belangrike werkswinkels, om sommige van sy regsmodules te hersien, ander sleutelmodules by te voeg soos deur die HOKK aanbeveel is, sy sleutelbelanghebbers oor alle kampusse breedvoerig te raadpleeg, en die nodige goedkeuring en verbintenis van die uitvoerende bestuur te verkry.

Die HOKK het ook aangedui dat, hoewel die verbeteringsplan daartoe verbind is om probleme ten opsigte van studente- en personeeldiversiteit en -gelykheid met teikens en projeksies te hanteer, die universiteit aangemoedig word om verdere innoverende gelykheidstrategieë te ondersoek om die bereiking van die aspirasies soos wat dit in die verbeteringsplan weerspieël word, te versnel.

“’n Gedetailleerde strategie met duidelike tydsraamwerke en toewysing van verantwoordelikhede en hulpbronne sal die implementering van die plan bespoedig. Dit is egter ’n langtermynvoorwaarde, aangesien die grootste impak van die ingrepe eers oor die medium tot lang termyn gevoel sal word,” sê die RHO.

 


Vordering met en beplanningsproses ten opsigte van die Taalbeleid en -Plan

19 Oktober 2017

Die normale geskeduleerde raadplegende proses vir die hersiening van die NWU se Taalbeleid en Plan (TBP) sal in 2018 plaasvind, wanneer 'n verskeidenheid belanghebbers (en strukture soos fakulteitsrade, die Konvokasie, Senaat, Raad, akademici, ondersteuningspersoneel, die IF, studenteverteenwoordigers, ens.) genooi sal word om terugvoer te gee en insette te lewer.

Soos met die ontwikkeling en hersiening van alle sleutelbeleidsdokumente, verwelkom die NWU-bestuur jou insette en poog om geleenthede te voorsien waar dit deurgegee kan word vir oorweging. Hierdie kommunikasie het ten doel om te beskryf watter werk reeds tot op datum gedoen is. Dit teen die agtergrond van sleutelleiding wat deur die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding aan alle universiteite gegee is, asook voortspruitend uit belangrike samesprekings wat vanjaar in die Senaat onder leiding van die Komitee vir die Hersiening van die Taalbeleid en Plan (TBPHersKom) plaasgevind het.

Die spesifieke oogmerke van hierdie kommunikasie is tweërlei:

  1. Om terugvoer te gee oor die vordering wat sedert Junie 2017 gemaak is toe die TBPHersKom se konsep van die Taalbeleid en -Plan tydens 'n buitengewone Senaatsvergadering bespreek is, en
  2. om 'n oorsig te gee van die beplanning vir die toekomstige prosesse wat betref die hersiening van hierdie dokumente.

Vordering sedert die Junie 2017-Senaat waar die Taalbeleid en -Plan (TBP) bespreek is:

  1. Die TBP is bygewerk op grond van 'n bespreking by die Senaat en werk wat deur die TBP-taakspan gedoen is, en is gereed vir voorlegging aan alle geïdentifiseerde belanghebbers, om saam te val met die voorlegging daarvan aan fakulteitsrade, vir bespreking en terugvoer.
  2. Die TBP is aan Regsdienste voorgelê vir kontrole aan die hand van Suid-Afrikaanse statutêre bepalings.
  3. 'n Taaloudit-navorsingsprojekbeskrywing en -kontrolelys is voltooi met die oog op 'n etiekklaringsaansoek, wat nog met die voorsitter van die NWU se Etiekkomitee vir Taalsake bespreek moet word alvorens dit amptelik vir goedkeuring ingedien kan word.
  4. Konsepte van 'n voorgraadse en van 'n nagraadse en personeelvraelys vir die taaloudit-navorsingsprojek is bygewerk op grond van terugvoer wat van die TBP-taakspan ontvang is.
  5. Reëlings vir die simposium oor taal in onderwys op 31 Oktober 2017 is in proses.

Tydlyn vir die 2017- en 2018-prosesse ten opsigte van die TBP (sperdatums in vetdruk):

  1. Simposium oor Taal in Onderwys – 31 Oktober 2017
  2. Bywerking van TBP met inligting voortvloeiend uit die Taal in Onderwys-simposium – 30 November 2017
  3. Afhandeling van etiekaansoek vir taaloudit-navorsingsprojek – middel van Oktober 2017
  4. Goedkeuring van etiekaansoek vir taaloudit-navorsingsprojek – 2017-2018 (na gelang van NWU-etiekkomitee vir Taalsake)
  5. Afhandeling van etiekaansoek vir taaloudit-navorsingsprojek – middel van Oktober 2017
  6. Afhandeling van vraelyste vir taaloudit-navorsingsprojek ná terugvoer van Statistiese Dienste – einde van November 2017
  7. Verwerking van taalouditvraelyste in elektroniese formaat in gereedheid vir elektroniese meningsopname – einde van November 2017
  8. Voorlegging van die TBP vir bespreking deur fakulteitsrade en ander geïdentifiseerde belanghebbers op dieselfde datum – sluitingsdatum van agendas vir eerste fakulteitsraadvergaderings 2018, om en by middel van Februarie
  9. Van stapel stuur van taaloudit- elektroniese meningsopname – 1 Maart 2018
  10. Sperdatum vir terugvoer vanaf fakulteitsrade en ander belanghebbers vir ontvangs deur die Registrateur – 9 Maart 2018
  11. Sluitingsdatum vir taaloudit- elektroniese meningsopname – 16 Maart 2018
  12. Voltooiing van verwerking van terugvoer vanaf belanghebbers sowel as van die taaloudit- elektroniese meningsopname deur die TBP-taakspan – 29 Maart 2018
  13. Bywerking van TBP op grond van terugvoer van belanghebbers sowel as uit die oudit – voor sluitingsdatum vir agenda van Senaatsvergadering in Mei 2018
  14. Voorlaaste konsep van TBP aan Senaat voorgelê – Mei 2018
  15. Herverwerking van konsep-TBP – voor sluitingsdatum vir agenda van Raadsvergadering in Junie 2018
  16. Goedkeuring van TBP deur Raad – Junie 2018

Die TBP-taakspan (wie se opdrag in Oktober 2016 deur die Universiteitsbestuur en die Senaat goedgekeur is), sal terugvoer ontvang as deel van hulle TBP-opstelproses en sal teen die middel van 2018 aan die Senaat terugrapporteer, met die oog op die verwagte goedkeuring deur die Raad op hul Junie 2018-vergadering.

Hierdie is 'n opwindende geleentheid om as universiteit die volgende treë te gee onderweg na die bevordering van meertaligheid, en ons hoop dat almal aan die proses sal deelneem en dit ondersteun.

Navrae in verband met die proses en die konsep-TBP kan aan Johan Blaauw gerig word. Die TBP-taakspan, onder voorsitterskap van die AVK O&L, sal jou ook op hoogte hou na gelang die prosesse ontvou.

Kom ons neem almal deel aan die hersiening van ons Taalbeleid en -Plan soos die verskillende geleenthede hulle voordoen.

 


Veranderinge aan die 2017 akademiese kalender

26 Julie 2017

Neem asseblief kennis van die volgende nuwe eksamendatums, soos deur die universiteitsbestuur goedgekeur:

Kontakstudente:

  • Eerstegeleentheid-eksamenvraestelle wat tans vir 17 November 2017 geskeduleer is, word geherskeduleer om op 27 Oktober (voorheen as ʼn “geen-klas-dag” aangedui), geskryf te word. Ander klein veranderinge aan die eerstegeleentheid-eksamenroosters mag nodig wees na aanleiding van hoe studente se eksamenvraestelle versprei is.
  • Tweedegeleentheid-eksamenvraestelle wat vir 25 November tot 6 Desember geskeduleer is, word na 23 November tot 4 Desember geskuif.

Afstandstudente:

  • Vraestelle geskeduleer vir 22 November word geherskeduleer om op 27 Oktober geskryf te word.
  • Slegs eerstegeleentheid-eksamenvraestelle wat vir 17 November geskeduleer is en dieselfde vraestelle is as wat kontakstudente skryf, word na 27 Oktober geskuif. Vraestelle wat nie dieselfde is as dié wat kontakstudente skryf nie, word steeds op 17 November geskryf.

 


Verklaring deur die visekanselier van die Noordwes-Universiteit oor studente dissiplinêre sake

18 Julie 2017

Die afgelope paar jaar het die bestuur van die NWU gefokus op ’n strategie om die NWU te transformeer en te posisioneer as ’n unitêre instelling van voortreflike akademiese uitnemendheid en met ’n verbintenis tot maatskaplike geregtigheid. Dit het gelei tot groot strukturele veranderinge wat vervat is in ons nuwe Statuut, wat ons besig is om te implementeer.

As die hoof studente dissiplinêre beampte van die NWU het ek die geleentheid gehad om ’n dissiplinêre saak te oorweeg wat behels het dat studente van die universiteit kommentaar op sosiale media gepubliseer het. Studente op die kampus in Potchefstroom is daarvan beskuldig dat hulle in Mei 2017 na bewering rassistiese opmerkings gepubliseer het.

Tydens ’n verhoor op 30 Mei 2017 is ’n student skuldig bevind en ’n straf is opgelê. Hy is vir twee jaar uit die universiteit geskors, maar die vonnis is vir die res van die duur van sy studies opgeskort. Hy is ook met ’n boete van R5 000 gestraf. Hy is op twee klagtes skuldig bevind. Die eerste klagte was dat sy optrede nadelig was of nadelig kon gewees het vir die goeie naam, orde, dissipline of prestasie van die universiteit of enige deel van die universiteit, en die tweede was ’n klagte dat stellings op sosiale media gemaak is wat op diskriminasie in die vorm van rassisme neerkom.

’n Tweede student is aangekla van gedrag wat na bewering nadelig was of nadelig kon gewees het vir die goeie naam, orde, dissipline of prestasie van die universiteit of enige deel van die universiteit, dat stellings op sosiale media gemaak is wat op diskriminasie en/of haatspraak neerkom, en ook van die beweerde oortreding van die sosiale media-beleid van die universiteit. Hierdie student het uitstel gevra, en sy saak is vir 18 Julie 2017 geskeduleer.  

Die saak is vandag tydelik uitgestel en die voorlopige skorsing van die betrokke student is opgehef om die student toe te laat om met klasse voort te gaan.

Nadat ek lede van my senior bestuurspan wat vanmiddag beskikbaar was, geraadpleeg het, het ek besluit dat die saak teen die tweede student nie moet voortgaan nie en teruggetrek moet word. Die rede hiervoor is dat die getuienis wat aangebied is, nie duidelik die voortsetting van die saak regverdig nie.

Ek en my span werk hard daaraan om ’n kultuur te bou wat sosiaal inklusief, samebindend en verwelkomend is, en die diversiteit van ons universiteitsgemeenskap omhels, terwyl ons historiese konteks in gedagte gehou word. Voorvalle soos hierdie is teen al hierdie beginsels en ons moet die personeel en studente van die NWU en trouens die algemene publiek om verskoning vra. Dit is duidelik dat ons meer moet doen in ons missie om studente op te voed om in Suid-Afrika te woon en te werk – in die gees van ons missie, ons waardes en ons land se grondwet.

Die universiteitsbestuur veroordeel enige daad van rassisme of diskriminasie in die sterkste moontlike terme. Dit is teen die etos en waardes van die NWU en weerspreek ons pogings om maatskaplike geregtigheid na te streef. Ons sal voortgaan om onverpoosd te bou aan ’n kultuur waarop die universiteitsgemeenskap en die res van Suid-Afrika trots kan wees.

Navrae:   Mnr Louis Jacobs (082 901 6435)


Aanstelling van senior bestuur

Julie 2017

The following senior appointments have been made as part of the restructuring process to implement a new unitary model for the NWU.

Die volgende senior aanstellings is gemaak as deel van die herstruktureringsproses om 'n nuwe unitêre model vir die NWU te implementeer.

 


Dringende waarskuwing – Kuberaanval

14 Mei 2017

 

’n Wêreldwye losprys-kuberaanval het Saterdag, 13 Mei 2017 na Suid-Afrika versprei. Ten minste 99 lande is reeds geraak en hospitale in die Verenigde Koningkryk is lamgelê. Dit word beskryf as die grootste kuberaanval in die geskiedenis. Dit is ernstig!

IT-bestuur en -spesialiste het Saterdagmiddag’n dringende vergadering gehad en het as ’n voorkomende maatreël onmiddellik begin om alle dienste op te dateer, en sal tot die einde van die naweek hiermee voortgaan. Dit sal beteken dat ‘n aantal dienste sonder waarskuwing sal herlaai.

IT sal ’n Windows-opdatering op alle rekenaars van gebruikers wat nie op die nuutste opdatering is nie, afdwing. Dit sal gebeur sodra hulle aanteken en sal hoofsaaklik Maandagoggend plaasvind. Hierdie aksie kan vetragings in die opdatering van dienste tot gevolg hê weens die intensiteit van die opgraderingsaktiwiteite.

All gebruikers word dringend gewaarsku om nie enige onbekende e-posse of dokumente oop te maak nie. Indien u twyfel, kontak IT.

Lees meer oor die aanval: http://www.mailguard.com.au/blog/global-cyber-attack-wannacry-ransomware-creates-havoc

NWU-gebruikers sal op hoogte gehou word.


Akkreditasie van die NWU se LLB-program

18 April 2017

 

Gedurende 2016 het ’n nasionale hersieningsproses plaasgevind van alle LLB-programme wat by alle universiteite in Suid-Afrika aangebied word. Op 30 Maart 2017 het die Hoëronderwys-Kwaliteitskomitee (HOKK) die bevindings van die nasionale hersieningskomitee (NRC) ten opsigte van die NWU se LLB-program goedgekeur. Hierdie bevindings was dat die NWU kennis gegee word dat akkreditasie van die LLB-program teruggetrek kan word. Dit is ook op drie ander universiteite van toepassing. Al die ander universiteite is met voorwaardes geakkrediteer.

Daar moet beklemtoon word dat dit nie beteken dat die HOKK die akkreditasiestatus van die LLB teruggetrek het of dat die toekomstige terugtrekking onvermydelik is nie. Hoegenaamd nie.

Die NRC het kwessies geïdentifiseer wat hulle as ernstig beskou, en indien die NWU dit nie voldoende uit die weg ruim nie/genoegsaam aanspreek nie, kan die HOKK die akkreditasiestatus van die program terugtrek. Ter opsomming sluit die redes om kennis van terugtrekking te gee die volgende in:

  1. Daar is beduidende bewyse van ongelykheid tussen die kampusse in Potchefstroom en Mahikeng ten opsigte van toegang; die verskaffing van kurrikulumlewering, onderrig, leer en assessering; die profiele van personeel ten opsigte van senioriteit, kwalifikasies en akademiese reputasie; die gehalteversekering van die program; artikulasie tussen die kampusse; infrastruktuur en ander leerhulpbronne. Institusionele herstrukturering wat gerig is op die hantering sulke kwessies het nog nie in die Fakulteit Regte gemanifesteer nie.
  2. Daar is ’n gebrek aan substantiewe integrasie, in die program as geheel sowel as op die Potchefstroomkampus, tussen studente van verskillende rassegroepe, en ’n gevoel van vervreemding word deur studente van spesifieke groepe ervaar. By Potchefstroom het ’n groep hoofsaaklik swart studente wat deur die medium van tolking uit Afrikaans na Engels onderrig word, gevoel dat hulle in die akademiese ruimte “geakkommodeer” eerder as ten volle aanvaar en geïntegreer word.
  3. Relatief lae toelatingsvereistes word nie regdeur die program met voldoende studente-ondersteuning aangevul nie.

Die NWU besef dat hierdie kwessies dringend aandag moet ontvang en sal die HOKK se hersieningsbevindings konstruktief benader om teen 6 Oktober 2017 ’n toepaslike verbeteringsplan en strategie te ontwikkel. Die meeste van hierdie kwessies is geïdentifiseer tydens die NWU se onlangse strategie-ontwikkelingsproses.

Die NWU Raad het in November 2015 ’n nuwe strategie aanvaar wat ten doel het om ’n nuwe struktuur en bedryfsmodel te vestig. Ons strategie is om ’n unitêre universiteit met belynde programme en gelyke verskaffing, hulpbronne en studentervarings te bou. Die Raad het ’n nuwe struktuur aanvaar en die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding het ’n nuwe Statuut goedgekeur wat uitvoering aan hierdie unitêre struktuur verleen.  ’n Belangrike eienskap van hierdie nuwe struktuur is dat ’n enkele uitvoerende dekaan verantwoordelik sal wees vir 'n fakulteit wat oor al drie kampusse van die NWU strek.   Dit sal verseker dat programme ten volle oor alle kampusse heen belyn en bestuur word.

As deel van die selfevalueringsproses het die NWU ’n voorlopige verbeteringsplan saamgestel, en sekere doelwitte daarvan is reeds geïmplementeer. Die universiteitsbestuur sal sy volle ondersteuning verleen aan die fakulteit om die finale verbeteringsplan te ontwikkel en in gebruik te stel. Die NWU beskou die nasionale hersieningsproses as ’n geleentheid om die gehalte van die huidige program te verbeter.

Daar moet beklemtoon word dat die NWU sal voortgaan om die LLB-graad, wat steeds geakkrediteer is, aan te bied. Studente word dus aangemoedig om vir toelating tot die 2018 akademiese jaar aansoek te doen.

Aan die positiewe kant moet daar kennis geneem word dat die verslag bevestig het dat die NWU se LLB-program aan die vereistes vir ’n kwalifikasie op NKR-uittreevlak 8 voldoen. Sover dit die spesifieke graadvereistes ten opsigte van kennis, vaardighede en toegepaste bevoegdheid aangaan, is die volgende bevindings gemaak:

1.         Kennis

Die paneel is tevrede dat die LLB-program aan die Potchefstroom- en die Mahikengkampus toepaslik aan studente ’n omvattende en deeglike kennis en begrip van die Suid-Afrikaanse reg en sy verwante waardes en van sy historiese agtergrond oordra. Hulle is ook tevrede dat al die basiese gebiede van die reg, soos in die LLB-standaard gelys word, voldoende gedek word.

Daar word egter aanbeveel dat die insluiting van meer nieregsmodules ondersoek moet word en dat soveel studente as moontlik op die Potchefstroomkampus in die Regspraktyk-module aan regte/werklike kliënte blootgestel moet word. Die paneel beveel ook aan dat die module Straatreg op Potchefstroom sowel as Mahikeng as keusevak aangebied moet word om te verseker dat studente voldoende blootgestel word aan maatskaplikegeregtigheidskwessies en die reg as instrument om verandering in die samelewing te bewerkstellig. Op Potchefstroom behoort die studente se blootstelling aan regte/werklike kliënte hulle ook te help om die opvatting en eise van transformatiewe konstitusionalisme te internaliseer. Die verslag het ook gemeld dat hoewel identiese opdragte nie tot dusver ingevolge die NWU-model vereis is nie (dieselfde eksterne moderators is gebruik), moet die instelling van dieselfde summatiewe assesserings in die nuwe unitêre fakulteit dringend aandag geniet.

2.         Vaardighede

Die paneel is tevrede dat voldoende aandag tydens onderrig en leer en assessering in die verskillende modules aan die vaslegging van kritiese denkvaardighede geskenk word. Die insluiting van ’n verpligte Navorsingsopstel vir alle finalejaarstudente word geloof. Alhoewel die verslag aandui dat dit prysenswaardig is dat Taalvaardighede in Regskonteks in ses semestermodules in die eerste drie jaar van die LLB-program onderrig word, behoort hierdie modules konsekwent oor al drie kampusse heen deur dosente in die Fakulteit Regte aangebied te word. Die verslag meld ook dat ’n verskeidenheid assesserings gebruik moet word, en dat opdragte wat onafhanklike kritiese denke vereis algemeen gebruik moet word, al is daar uitdagings ten opsigte van werkslading, plagiaat en so meer.

3.         Toegepaste bevoegdhede

Die paneel is tevrede dat die konseptualisering en oorkoepelende ontwerp van die program die gebiede van toegepaste bevoegdheid wat in die LLB-standaard aangedui word, voldoende dek.

Ek is seker dat die LLB-program met ’n gesamentlike poging geakkrediteer sal word sodra die strukturele veranderinge in werking gestel en die verbeteringsplan geïmplementeer is.

Ek sal in die loop van hierdie week met alle personeel en studente van die Regsfakulteit vergader, en na hierdie aanvanklike gesprekke sal hulle deurlopend op hoogte gehou word van enige verwikkelinge in hierdie verband.

Prof Dan Kgwadi (Visekanselier van die NWU)

 


 

Nuwe NWU-statuut in Staatskoerant gepubliseer

28 Maart 2017

 

Die nuwe Statuut van die Noordwes-Universiteit (NWU) is Vrydag 24 Maart 2017 in die Staatskoerant gepubliseer. Daardeur is dit gepromulgeer en het dit van krag geword.

Dit is die kulminasie van drie jaar se werk wat eers op die aanvaarding deur die NWU-raad van 'n nuwe strategie en toe 'n nuwe struktuur uitgeloop het. Dit het weer die basis gevorm van die nuwe Statuut, wat deur die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding, dr Blade Nzimande, goedgekeur is.

Die Statuut bepaal onder meer hoe die NWU bestuur moet word, wie die ampsdraers is, hoe werknemers aangestel, vergoed en gedissiplineer moet word, die rol van vakbonde, studentesake en die toekenning van eregrade en -toekennings.

Die promulgering van die Statuut beteken dat die nuut aanvaarde struktuur nou ten volle in werking gestel kan word.

Lees die visekanselier, prof Dan Kgwadi, se boodskap oor die pad vorentoe of lees die nuwe Statuut.

 

Foto links: Prof Dan Kgwadi (Visekanselier van die NWU) ontvang die Statuut van Prof Marlene Verhoef (Institusionele Registrateur).

 

 

 


Vordering met betrekking tot NSFAS-aansoeke

1 Februarie 2017

 

ʼn Vergadering is op Saterdag 28 Januarie 2017 belê tussen lede van die Uitvoerende Komitee van Universiteite Suid-Afrika (USAf), die voorsitter van die NSFAS-raad en verteenwoordigers van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) om die agterstande te bespreek wat ontstaan het m.b.t. die verwerking van finansiëlehulpaansoeke wat ingedien is deur nuwelingstudente en terugkerende studente. Ernstige kommer is uitgespreek oor die feit dat sommige akademies verdienstelike studente wat nog wag om van NSFAS te verneem, die gevaar loop om hul plekke in akademiese programme en/of koshuise te verloor ten gunste van betalende studente.

NSFAS is redelik seker dat hulle op koers is om die toewysing van finansiëlehulppakkette aan nuwelingstudente binne 6 dae te kan afhandel, d.w.s. teen komende Vrydag, 3 Februarie 2017.

Terugkerende studente wat voorheen NSFAS-steun ontvang het, en aan NSFAS se befondsingsvoorwaardes voldoen, kan voortgaan met registrasie.

U word weereens verseker dat die Noordwes-Universiteit (NWU) voortdurend in gesprek is met NSFAS en daartoe verbind is om te verseker dat soveel as moontlik studente gehelp kan word om te registreer. Universiteite Suid-Afrika (USAf) gee ook namens alle universiteite in SA kollektief aandag aan uitstaande kwessies met NSFAS.

Alhoewel die NWU sal moet bly by die bedrag wat deur NSFAS aan ons toegewys word, is die universiteit steeds daartoe verbind om bystand te verleen aan akademies verdienstelike studente waar dit enigsins moontlik is.

U sal op hoogte gehou word van enige nuwe verwikkelings.


Waarskuwing – Verspreiding van vals inligting en die gebruik van sosiale media

31 Januarie 2017

 

Mediavryheid en die mense se reg tot vryheid van spraak is sentrale pilare van ons demokrasie. Die aanlyn mediakanale bied by uitstek aan ons die geleentheid om inligting aan ons belanghebbendes en die publiek te kommunikeer. Die mediabedryf, regoor die wêreld, ervaar ʼn proliferasie van vals aanlyn webwerwe en sosialemediarekenings wat die oogmerk het om vals inligting te versprei en die reputasies van organisasies en/of persone te skaad. Ons gaan voort om die medialandskap en dekking van die NWU regoor alle mediakanale te moniteer en glo dat ons goed geposisioneer is om enige vals webwerwe te bespeur wat voorgee om aan die NWU te behoort of die NWU te verteenwoordig. Ons doen ʼn beroep op personeel en studente om enige vermeende vals nuuswebwerwe of -rekenings aan te meld by mnr Louis Jacobs, Direkteur: Korporatiewe Kommunikasie by louis.jacobs@nwu.ac.za of 018 299 4918.

Die NWU het verskeie sosialemediarekenings goedgekeur wat dien as inligtings- en kennisdelingsplatforms onder personeel en studente. Die meeste interaksie en sienings wat gedeel word via die NWU aanlyn platforms is konstruktief en voldoen aan die universiteit se reëls en gedragskodes. Daar is egter steeds enkele individue, van binne en buite die universiteit, wat deurlopend vals inligting oor die NWU op sosiale media versprei. Die universiteit sal regstappe teen hierdie individue neem om te verseker dat hulle nie daarin slaag om die NWU se handelsmerk te skaad nie. Ons bly onwrikbaar in ons voorneme om te verseker dat die NWU een van die hoëronderwysinstellings sal bly wie se studente en graduandi gerespekteer word in Suid-Afrika en wêreldwyd.

Alhoewel die NWU robuuste debatvoering en dialoog onder studente en personeel aanmoedig oor kwessies wat die hele universiteitsgemeenskap raak, mag die uitdrukking van sienings nie geweld goedpraat of aanhits of skade berokken aan ander lede van die NWU-gemeenskap nie. Studente en personeel moet hulle daarvan weerhou om sienings te bevorder en ondersteun wat daarop gemik is om haat vir ander groepe aan te wakker op grond van ras, etnisiteit, geslag, seksuele oriëntasie, en godsdiens.

Bo en behalwe alle ander bestaande kanale, word personeel en studente aangemoedig om gebruik te maak van die amptelike sosialemediaplatforms vir akkurate inligting.

Dit is in jou eie belang om vertroud te raak met ons goedgekeurde mediabeleid en sosialemediabeleid.


NSFAS 2017-aansoekstatus

25 Januarie 2017

 

Die nuwe jaar het goed afgeskop met entoesiastiese studente wat op al drie NWU-kampusse registreer. Teen 25 Januarie het meer as 6 000 eerstejaarstudente al ingeskryf as deel van die totaal van bykans 12 000 NWU-studente wat reeds geregistreer het. Die NWU se teiken vir eerstejaarinskrywings vir 2017 is 8 894.

Die NWU is in konstante dialoog met NSFAS en is daartoe verbind om te verseker dat soveel as moontlik studente gehelp kan word om te registreer.

Die nuwe NSFAS-gesentreerde model, in ooreenstemming met die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding se verbintenis om meer behoeftige studente finansieel by te staan, insluitende die vergete middelinkomstegroep, het in Januarie 2017 van krag geword. Vir 2017 het NSFAS R270 871 000 aan die NWU toegewys – wat nie bystand aan finalejaarstudente insluit nie.

Alle NSFAS-aansoeke is aanlyn gedoen, en NSFAS was verantwoordelik vir die keuring en goedkeuring van nuwe studente.

Volgens die nuutste inligting wat op 12 Jan 2017 van NSFAS ontvang is, het 8 699 studente wat beoog om by die NWU te studeer, elektronies of d.m.v. hardekopieaansoeke by hulle aansoek gedoen. Dit sluit alle potensiële nuwe eerstejaarstudente en senior studente in wat nie in 2016 NSFAS-befondsing ontvang het nie. Studente wat nie in 2016 NSFAS-befondsing ontvang het nie, kom in aanmerking vir befondsing in 2017 mits hulle aan die akademiese kriteria voldoen (slaag 50% van hul modules) en binne die N+2-studiejaarreël is.

ʼn Totaal van 5 209 NSFAS-ondersteunde eerstejaarstudente het aansoek gedoen om aan die NWU te studeer; 3 044 van hulle het toelating gekry, en meer as 2 700 senior studente wat aansoek gedoen het, ontvang NSFAS-ondersteuning.

Dit is ʼn prioriteit om so veel as moontlik behoeftige studente te help. Dit was al reeds duidelik in 2016. As gevolg van die bekendstelling van die Nuwelinginskrywingsfonds in 2016 kon ʼn bykomende 1 794 nuwe studente hulp ontvang in 2016. Die gevolg was dat daar in 2017 meer senior studente in die stelsel was. In die verlede het die NWU ʼn 70/30-verdeling gebruik, waar 70% van die befondsing toegewys was aan senior studente en 30% aan eerstejaarstudente. NSFAS het egter ʼn 80/20-verdeling gebruik vir hul keuring en goedkeuring vir 2017. Die groot aantal Nuwelinginskrywing-studente in die stelsel het die NWU gedwing om ook ʼn 80/20-verdeling toe te pas, wat beteken dat NSFAS in 2017 minder fondse beskikbaar gestel het vir hulp aan eerstejaarstudente.

Ingesluit in die lys van die reeds goedgekeurde studente is 99 senior studente wat nie in vorige jare NSFAS-befondsing ontvang het nie. Van die 99 het ons 34 geïdentifiseer wat uitstaande skuld het, en ons het NSFAS versoek om alternatiewe bronne te vind om daardie studente by te staan. Ons wag nog vir hulle finale goedkeuring in hierdie verband.

Ons het die uitslae van senior studente aan NSFAS voorgelê en wag nou vir die finale lys van die goedgekeurde senior studente.

Daar is ook ʼn kanaal vir akademies verdienstelike studente wat nie NSFAS-befondsing ontvang het nie en nie in staat is om die minimum vereiste registrasiegeld te betaal nie. Hulle gevalle word op meriete oorweeg en hanteer deur finansiële registrasiekomitees op elk van die NWU se drie kampusse. Die komitees het ten doel om studente te help registreer mits hulle die nodige reëlings kan tref om die registrasiegeld so gou as moontlik te betaal.

Dankie aan al ons studente en personeel vir al julle geduld en bystand om ʼn suksesvolle registrasieproses te verseker. Ons sal u ingelig hou oor enige verdere NSFAS-verwikkelings.

Vir die nuutste inligting vanaf NSFAS klik hier


Aansuiweringstoelaag vir vergete middelinkomstegroep

24 Januarie 2017

Ekstra inligting


Die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding se fooiaanpassingtoekenning - 2017

11 Januarie 2017

 

Ná ons vorige skrywe oor die styging in klasgeld vir 2017 is hierdie ʼn verduideliking van die aansoekproses vir die verlore middelklas se fooiaanpassing-toekenning.

Die regering sal in 2017 die styging – wat tot 8% beperk is – befonds vir alle kwalifiserende geregistreerde studente met ʼn bruto gekombineerde gesinsinkomste van R600 000 of minder per jaar. Dit is ʼn toekenning en studente wat daarvoor kwalifiseer hoef dit dus nie terug te betaal nie. Die toekenning dek slegs klasgeld en akkommodasie wat deur universiteite verskaf word.

Wie kwalifiseer?

  • Slegs Suid-Afrikaanse burgers en inwoners met permanente Suid-Afrikaanse verblyfpermitte wat in 2017 vir ʼn voorgraadse of nagraadse kwalifikasie ingeskryf is.
  • Die aansoeker en onmiddellike familie (moeder, vader, eggenoot of wettige voogde) met ʼn BRUTO gekombineerde gesinsinkomste van R600 000 of minder per jaar voor belastingaftrekkings.

Wie kwalifiseer wel, maar hoef nie aansoek te doen vir die toekenning nie?

Die volgende studente hoef nie aansoek te doen vir die toekenning nie, aangesien hulle outomaties oorweeg sal word:

  • Aansoekers wat aansoek gedoen het vir NSFAS-befondsing.
  • Alle studente wat Kwintiel 1-, 2- en 3-skole in Graad 12 bygewoon het.

Wie kwalifiseer nié en kan dus nie aansoek doen vir die toekenning nie?

Studente wat studiebeurse ontvang wat hul klasgeld en verblyf dek, kan nie vir die toekenning aansoek doen nie; hul beurse moet die volle persentasie-aanpassing dek.

Alle ander studente sal vir die toekenning moet aansoek doen. 

Hoe doen ʼn mens aansoek?

  • Alle aansoeke moet ingedien word op die toepaslike aansoekvorm wat op die NWU se webblad (klik hier) of by die finansiëleondersteuningskantore op die onderskeie kampusse verkrygbaar is. Aansoeke het reeds geopen, en die sluitingsdatum is 28 Februarie 2017 vir die eerste semester en 30 Augustus 2017 vir studente wat vir die tweede semester moet registreer.
  • Aansoeke kan elektronies ingedien word by die volgende e-posadresse:
  • Mahikengkampus: mcmissingmiddle@nwu.ac.za
  • Potchefstroomkampus: pcmissingmiddle@nwu.ac.za
  • Vanderbijlparkkampus: vcmissingmiddle@nwu.ac.za
  • Die toekenning sal op die studenterekening verskyn sodra die student as ʼn kwalifiserende toekenning-ontvanger geverifieer is. Die uitkoms van die aansoek sal binne die eerste kwartaal van 2017 bekend wees.
  • Alle aansoeke moet gewaarmerkte afskrifte van die ouers/eggenote en/of wettige voogde asook die student se ID's insluit. Onvolledige aansoeke sal nie oorweeg word nie.
  • Ouers, eggenote en wettige voogde sal versoek word om te erken dat hulle verstaan dat persoonlike inligting versoek en aan derde partye verskaf sal word wat die universiteit met die verifiëring van inkomste sal help, en dat hul handtekening op die aansoek neerkom op uitdruklike skriftelike toestemming.
  • Alle partye (vader/moeder/eggenoot/wettige voogde/student) moet die aansoek voltooi en onderteken.
  • Studente wie se aansoeke onsuksesvol is, kan binne 14 dae ná die uitkoms van die besluit appelleer deur ʼn appèlvorm wat op die universiteit se webblad beskikbaar sal wees, te voltooi. 

Studenteskuld

  • Die finansiële volhoubaarheid van universiteite kom ernstig in die gedrang indien studente nie hul gelde en uitstaande skuld betaal nie.
  • Soos in die verlede moet alle studente registrasiegeld en minimum betaalbare gelde betaal wanneer hulle registreer. Slegs NSFAS-goedgekeurde studente en studente wat deur ander goedgekeurde borge befonds word, is vrygestel van hierdie betalings. Bewysdokumentasie moet ingedien word.
  • Akademies verdienstelike studente wat sukkel om hul registrasiegeld en/of uitstaande skuld te betaal, moet met die universiteit se Finansiële Kantoor in verbinding tree om op ʼn terugbetalingsplan ooreen te kom. Tydens die registrasieproses sal hulp op die kampusse beskikbaar wees.
  • Universiteite is versoek om studenteskuld deur regverdige en deursigtige skuldbestuursbeleide en -prosesse te bestuur om te verseker dat alle uitstaande studenteskuld binne ʼn redelike en aanvaarbare tydperk verhaal word.

 

Rig asseblief alle navrae aan:
MAFIKENGKAMPUS:

018 389 2330 / 2372

POTCHEFSTROOMKAMPUS:
018 299 2052 / 2046 / 2045

VAALDRIEHOEKKAMPUS:
016 910 3157


Klasgeld en registrasie 2017

18 November 2016

Die voorgestelde universiteitsbegroting vir 2017, gebaseer op 'n diepgaande analise van die universiteit se finansiële posisie, is tydens die Raadsvergadering op 17 November 2016 goedgekeur. 'n Jaarlikse verhoging van 8% in studie- en inwoningsgeld is ook as deel van die begroting goedgekeur.
In beginsel beteken dit dat alle studente wat vir NSFAS-beurse kwalifiseer, sowel as studente wat in die verlore middelklas val (d.w.s. daardie studente wie se huishoudelike inkomste meer as die NSFAS-drempel, maar minder as R600 000 per jaar is), nie deur die verhoging in gelde vir 2017 geraak sal word nie.
Die goedgekeurde verhoging sal deur die regering in die vorm van 'n toelaag (sogenaamde gapingsbefondsing) aan die universiteit uitbetaal word en dit sal as 'n krediet in hierdie studente se rekeninge reflekteer. Studente met beurse wat alle uitgawes dek, sowel as studente wie se huishoudelike inkomste meer as R600 000 is, sal nie vir die gapingsbefondsing kwalifiseer nie. Soos in die verlede sal alle studente registrasie en minimum-betaalbare gelde met registrasie moet betaal. Slegs NSFAS-goedgekeurde studente en studente wat deur ander goedgekeurde borge befonds word, sal van hierdie betalings vrygestel word, en sal tydens registrasie stawende dokumentasie in dié verband moet toon.
 

1. Bystand gedurende die registrasieproses

1.1 Studente met beurse (behalwe die goedgekeurde NSFAS-studente)

Studente wat beurse ontvang het (behalwe die goedgekeurde NSFAS-studente soos per die gesentraliseerde aansoekproses), moet stawende dokumentasie van die spesifieke beurs gedurende registrasie verskaf. Waar ’n uitstaande bedrag vir die vorige jaar betaalbaar is, sal studente toegelaat word om te registreer indien die beursverskaffers skriftelik onderneem het om hierdie uitstaande bedrag ook te betaal.

1.2 Studente met banklenings en Eduloan (Fundi)

Studente moet tydens registrasie stawende dokumentasie van die lenings verskaf. Waar ’n uitstaande bedrag vir die vorige jaar betaalbaar is, sal studente toegelaat word om te registreer indien die lening voorsiening maak om hierdie uitstaande bedrag ook te betaal.

1.3 Individuele gevalle

Soos in die verlede sal daar formele strukture soos byvoorbeeld die registrasiekomitee (waarop die Kampus Verteenwoordigende Studenterade ook verteenwoordig sal wees), op al drie NWU-kampusse wees om oor individuele gevalle te besluit. Elke geval sal op meriete oorweeg word, inaggenome die beskikbaarheid van fondse. Slegs studente wat vir watter finansiële rede ook al nie kon registreer nie, sal na hierdie strukture verwys word. Die doel is om soveel akademies verdienstelike en finansieel behoeftige studente as moontlik in staat te stel om in 2017 te registreer.
Die assessering van hierdie individuele gevalle sal onder andere die oorweging van die student se akademiese prestasie en in gevalle waar ’n paar modules nog uitstaande is vir die voltooiing van 'n kwalifikasie, insluit.

Wanneer ’n student vir ’n merietebeurs kwalifiseer vir ’n bedrag wat ten minste die eerste betaling sal dek, sal daardie student toegelaat word om te registreer.
Die Realpay-paaiement-opsie sal as ’n alternatiewe metode beskikbaar wees om gelde deur middel van ’n ondertekende debietorder oor ’n tydperk te betaal. Registrasiegelde is egter steeds betaalbaar. Let asseblief daarop dat bepalings en voorwaardes geld.
 

2. Uitstaande gelde

Die NWU doen ’n ernstige beroep op ouers en studente om dringend reëlings vir die betaling van alle uitstaande gelde te tref. Dit is om te verseker dat studente hulle studies kan voortsit en by voltooiing hulle graad kan ontvang.
Dit sal nie moontlik wees vir alle studente om te registreer nie, ongeag al die hulpbronne en prosesse wat hierbo gemeld word. Studente wat deur die hele proses gaan sonder om oplossings te vind, mag steeds nie kan registreer nie, ten spyte van pogings om hul kwessies op te los.
 

3. Verlore middelklas-studente

Studente wie se huishoudelike inkomste meer as die NSFAS-drempel, maar minder as R600 000 per jaar is, sal versoek word om deur middel van 'n amptelike aansoekproses by die NWU vir die gapingsbefondsing aansoek te doen (om slegs die verhoging in gelde te dek).
Die aansoekproses vir hierdie verlore middelklas-studente sal binnekort in 'n aparte kennisgewing gekommunikeer word. Neem asseblief kennis dat die volgende dokumentasie intussen as stawende bewyse van huishoudelike inkomste verskaf moet word wanneer aansoek gedoen word: salarisadviese van ouers/voogde, gesertifiseerde afskrifte van hul ID's, sowel as 'n vorm wat toestemming gee dat die universiteit 'n kredietwaardigheidskontrole kan doen, indien nodig.
 

4. Internasionale studente

Internasionale studente, wat SAOG-studente insluit, kwalifiseer nie vir die fooi-aanpassingstoelaag nie.

 

Ons het begrip vir ons studente se bekommernisse oor onbekostigbare studiegelde, maar die NWU, soos enige ander instelling, moet finansieel volhoubaar bly om met ons kernbesigheid voort te kan gaan en 'n nasionale bate te bly. Hierdie kernbesigheid behels die lewering van voorpuntnavorsing en kwaliteitonderrig - terwyl die lewens van ons studente gevorm word - om te verseker dat ons goedgebalanseerde graduandi lewer. 

Die NWU gee erkenning aan die regering se inisiatiewe om die fooi-aanpassing vir minder gegoede studente en die verlore middelklas vir 2017 te absorbeer, en ondersteun die poging om hoër onderwys in die toekoms toenemend meer bekostigbaar te maak.

Daarby bly bestuur ook toegewyd daartoe om ons studente te help, en moedig ons hulle en hul ouers/voogde aan om ons te nader om sodoende te verseker dat alle moontlikhede ondersoek word om studente in staat te stel om te kan registreer en met hul studies voort te kan gaan.

Die bestuur van die universiteit wens al ons belanghebbers 'n wonderlike feesseisoen en voorspoedige 2017 toe.

 

Stuur asseblief enige navrae aan:

MAFIKENGKAMPUS:
018 389 2020/ 2478

POTCHEFSTROOMKAMPUS:
018 299 2667/ 2668/ 2669/ 2670/ 2671/ 2672/ 2673

VAALDRIEHOEKKAMPUS:
016 910 3155/ 3530