Die virus het die beste in ons na vore gebring
Wees verseker van my beste wense vir u, ons gewaardeerde belanghebber, wat ook getref is deur die storm wat ons wêreld tans oorweldig. Aangesien ons almal ons in dieselfde bootjie bevind, sal dit u nie verbaas om te verneem dat die koronaviruspandemie geen deel van die NWU onaangeraak gelaat het nie. Ek het gevoel dat u, een van ons mees gewaardeerde donateurs, ʼn kykie agter die skerms verdien na hoe die pandemie ons geraak het en hoe ons probeer om die beste van die situasie te maak.
Ons Studente
Die nasionale maatreëls om die virus te bekamp het ʼn enorme impak op hoe hoëronderwysinstellings bedryf word, veral wat onderrig en leer aanbetref. Die inperking en die nodige maatreëls om die gesondheid en veiligheid van personeel en studente te verseker, het ons genoop om vinnig ons kapasiteit uit te brei om aanlyn klas te gee. Ons het onder meer ʼn opname gedoen onder studente om te bepaal hoe gereed hulle is vir aanlyn leer. ʼn Groot aantal studente het aangedui dat hulle nie oor die nodige toestelle of netwerkkonneksies en/of elektrisiteit beskik nie. Om hulle te help, het die bestuur meer as 3 400 skootrekenaars aangekoop en aan studente uitgeleen. 1 364 van hierdie skootrekenaars het reeds die studente bereik. Die res sal binnekort afgelewer word.
Daarbenewens is meer as 22 000 studente reeds van databundels voorsien, op die Universiteit se koste. Sommige van die eksterne webwerwe wat gereeld deur studente besoek word, is tydelik gratis gemaak, en die universiteit sal ook vir hierdie koste instaan. Hierdie uitdagings het enorme druk op die Universiteit se finansies geplaas. Ons het die NWU COVID-19-reaksiefonds gestig en ons doen ʼn beroep op ons belanghebbers vir ondersteuning.
Die Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovasie het onlangs ʼn risiko-aangepaste strategie aangekondig waarvolgens ʼn beperkte aantal studente toegelaat sou word om terug te keer na die universiteite toe tydens vlak 4 en 3 van die inperking. Met die implementering van die riglyne het die volgende beginsels gegeld:
- ʼn Maksimum van 33% van studente sal op ons kampusse herintegreer word;
- Studente wat hul aanlyn program van die huis af kan voltooi, word aangemoedig om dit só te doen;
- Ons akademiese programme sal steeds aanlyn en in die afstandsmodus aangebied word;
- Assesserings sal op só ʼn wyse hanteer word dat ʼn student dit op ʼn ander plek as die kampus kan voltooi; en
- Vir studente wat nie aanlyn kon studeer of van gedrukte leermateriaal kon gebruik maak nie, is ʼn Winterskool gereël om hulle te help om op te vang.
Ons Personeel
Ons personeel, wat tydens die inperking van die huis af gewerk het, keer geleidelik terug na die kampus toe. Ons gefaseerde herintegrasieplan sluit noukeurig ontwerpe gesondheids- en veiligheidsmaatreëls in soos die sanitasie van fasiliteite, higiëne-maatreëls, die dra van maskers, en verstandige sosiale distansiëringsmaatreëls. Ons het ook ons personeel ondersteun met gereelde
uitreik- en kommunikasie-inisiatiewe, opleiding, en morele en maatskaplike ondersteuningsdienste waar nodig.
Ons Gemeenskap
Ons armste gemeenskapslede voel COVID-19 se greep die meeste. Studente sowel as personeel is begaan oor hulle lot. Twee vinnige voorbeelde: studente van die NWU Potchefstroomkampus het ʼn donasie van R50 000, blikkieskos, 7,5 ton mieliemeel, en ʼn paar ton klere ingesamel vir die JB Marks-rampverligtingsprojek. Net so het een van ons Mahikengkampusstudente ʼn voetsoolvlakinisiatief geloods om plaaslike sake-eienaars in die dorpie van Logagane in die Noordwes te mobiliseer om noodkospakkies aan sukkelende huishoudings te skenk.
Ons Bydrae
Ons akademiese personeel in virologie, transdissiplinêre gesondheidsnavorsing, rampbestuur, ontwikkelingstudies, en vele ander vakgebiede het die land te hulp gesnel met vroeë kundige begeleiding en bewusmaking rondom die pandemie en die gesondheids- en ekonomiese impak daarvan. Hulle werk saam met baie toonaangewende rolspelers plaaslik en in die buiteland, en speel invloedryke rolle in talle nasionale bestuursliggame en adviesgroepe.
Ons gesondheidswetenskappe- en ingenieurswese-akademici en -studente het verskeie en versnelde inisiatiewe van stapel gestuur om werk te maak van die tekorte in diagnostiese en toetskapasiteit, ventilators, persoonlike beskermende toerusting, ens. Ons streef hierdie inisiatiewe na sonder inagneming van kommersiële gewin of institusionele grense. Ons werk saam met talle buite-instansies en deelnemers om met vinnige en doeltreffende oplossings vorendag te kom vir die uitdagings wat deur die krisis gestel word.
Ter afsluiting, namens die Noordwes-Universiteit-gemeenskap bedank ek u dat u ons epiese reis deur hierdie stormwaters met ons gedeel het. Ons waardeer u voortgesette ondersteuning. Ons deure staan steeds oop indien u met ons by die NWU wil skakel. Hou gerus ons webwerf dop vir nuus oor die situasie http://news.nwu.ac.za/ . Vir enige navrae kontak 13044249@nwu.ac.za.
Beste wense,
Prof Dan Kgwadi Hoof en Visekanselier
Noordwes-Universiteit