ES- Elektroniese Dienste - Oor Ons

Elektriese en Elektroniese Dienste

Verwelkoming van die departementshoof

Oor Ons

Welkom by Elektriese en Elektroniese Dienste. My naam is Danie Stoop.

EED verskaf dienste aan feitlik elke persoon wat die Potchefstroom-geriewe van die NWU gebruik, sonder dat almal dit werklik besef.

Ons dienste vergesel jou – student, personeellid of besoeker – vanaf die oomblik dat jy deur een van die hoofingange beweeg. Ons dienste gaan voort wanneer jy deur middel van toegangsbeheer toegang tot jou gebou verkry, wanneer jy in die lesingsaal sit en na ’n lewendige, aanlyn of opgeneemde lesing luister, jou werk in ’n laboratorium doen, in ’n koshuis woon of een van die kafeterias of eetsale gebruik, na PukFm luister of komponente soldeer op ’n etskringbord wat deur ons vervaardig is.

Jou veiligheid word verbeter deur CCTV, diefalarms en brandalarms wat ons verskaf en versien. Selfs al meld jy net ’n uitgebrande gloeilamp aan, gebruik jy ons elektriese instandhoudingsdienste. Ons hanteer ook elke maand die elektrisiteits- en erfbelastingrekening vir die Potchefstroom-gebaseerde NWU-geriewe.

Sedert Februarie 2014 is ons verantwoordelik vir die eenstop-inbelsentrum wat noodherstelwerk in akademiese geriewe hanteer.

Ons huur geselekteerde elektriese en elektroniese dienste waar daar ’n korttermynbehoefte is.

EED werk in ’n baie dinamiese veld waar nuwe tegnologie daagliks ontwikkel, en soms net so vinnig verdwyn! In so ’n veranderende wêreld is dit veral belangrik om stabiele, werkende stelsels te verseker wat vir ’n aantal jare lank ’n diens kan lewer – tipies meer as een dekade lank. EED vervul hierdie rol reeds baie jare lank.

Ons is trots daarop dat ons instandhouding op ’n beplande sowel as ’n reaksiegrondslag, en ook projekte vanaf die konsep deur installasie en nasorg hanteer – min of meer van die wieg tot in die graf.

Ons is ’n dinamiese span wat werklik in die beste belang van die Universiteit in die elektriese en elektroniese behoeftes van die mense om ons wil voorsien.  

Kontak ons gerus by 018 299 4111 met jou behoeftes.

 

Ons fokus

By EED is ons fokus om op so ’n manier vir die Universiteit tot diens te wees dat die totale lewensikluskoste van elektriese en elektroniese stelsels so ekonomies as moontlik gehou word en dat die aktiwiteite waarby ons betrokke is, in die beste belang is van en die Universiteit se strategieë ondersteun.

 

Kort geskiedenis

Die Fisikagebou is in 1954 voltooi en prof Pieter Stoker het daar begin met navorsing wat metings in Antartika by die SANAE-basis behels het.

Daar was geen elektroniese instrumente beskikbaar wat kon meet wat Stoker moes meet, en wat ook die uiterste toestande in Antarktika kon oorleef nie. Stoker het gevra dat drie tegnici aangestel moet word om toerusting te ontwikkel. Hulle was Ernst (Blikkies) Blignaut, Leon Ehlers en Wim Verhagen.

Hierdie drie persone in die Fisikadepartement is in 1971 na die pasgestigte Departement Elektroniese Dienste (ELS) oorgeplaas, met mnr Wim Verhagen aan die hoof. Hy is later deur dr Cobus van der Walt en ander opgevolg.

Mnr Danie Stoop is in Oktober 2000 in die pos as die hoof van ELS aangestel. Mettertyd het daar ’n behoefte ontstaan dat Elektroniese Dienste (ELS) ook uiteenlopende stelsels soos toegangsbeheer- en alarmstelsels moet installeer, en ELS het dus geleidelik al hoe meer bedryfstake en minder ontwikkeling van elektroniese stelsels onderneem.

In November 2013 het ELS ook die verantwoordelikheid vir die kampus se elektriese instandhouding oorgeneem, wat gedesentraliseer is van die institusionele kantoor genaamd Fisiese Infrastruktuur en Beplanning.
Op 1 Januarie 2014 is personeel en toerusting saam met toepaslike begrotings vir die taak, sowel as die kontrak vir Phambile2000, die elektriese-instandhoudingskontrakteur, oorgeplaas. Dit het die totale personeel vir EED op 27, plus die kontrakteur se personeel, te staan gebring.
Die naam van die departement is terselfdertyd na Elektriese en Elektroniese Dienste (EED) verander.

Op 1 Februarie 2014 het die eenstopinbelsentrum, ’n noodinbelsentrum met die hoofoogmerk om akademiese personeel by te staan, sy deure by EED geopen. Die rol wat EED speel is om bloot die inbelsentrum te fasiliteer.