NWU, Waar kry ek die NWU

Ligging

’n Groot aantrekkingskrag van die NWU is sy strategiese ligging en die multikampusstruktuur, wat uit die kampusse in Mahikeng, Potchefstroom en Vanderbijlpark bestaan.

Die Mahikengkampus is in die hoofstad van die Noordwes-Provinsie geleë en het ’n internasionale atmosfeer, met studente uit verskeie verskillende lande wat by sy fakulteite ingeskryf is. Die kampus het ’n landelike atmosfeer, met stewige geboue en ’n veilige omgewing.

Die Potchefstroomkampus is in die geskiedkundige universiteitsdorp Potchefstroom geleë.  Naas sy sterk tradisie van akademiese uitnemendheid regoor die fakulteite, is die kampus bekend vir die uitnemendheid van sy sport- en kultuurgeriewe. Die kampus is elke jaar gasheer vir 'n groot aantal atlete van regoor die wêreld, wat deur sy hoëprestasie-oefenfasiliteite, hoogte bo seespieël en klimaat gelok word. Kultureel spog die kampus met ’n wye reeks drama-, koor- en musiekgroepe wat nasionaal en internasionaal hulle stempel afdruk.

Die Vanderbijlparkkampus is in 'n geproklameerde natuurreservaat op die walle van die Vaalrivier geleë en saam met sy diverse bevolking, spog dit ook met ’n unieke omgewing met verskeie wildspesies wat op die kampusterrein rondloop. Die kampus het tot onlangs slegs een akademiese fakulteit gehad, maar danksy die vraag van ondernemings en die bedryf en ’n sterk groei in studentegetalle, spog dit nou met twee fakulteite.

Hierdie geografiese voetspoor van die NWU hou verskeie belangrike voordele in omdat dit:

• Gerieflike toegang verleen tot ’n breër studentebasis as ander universiteite.

• Studentediversiteit bevorder – ’n kritieke suksesfaktor in die demokratiese Suid-Afrika – deur die skeiding tussen stad en platteland, rasse, tale en kulture te oorbrug. Hierdie diversiteit word weerspieël deur die NWU se veeltalige karakter, wat Engels, Afrikaans en Setswana as die amptelike kommunikasietale insluit.

• Verseker dat die NWU midde-in die tegnologiese, industriële en wetenskaplike vooruitgang is. Gauteng is Suid-Afrika se mees geïndustrialiseerde provinsie, terwyl die Noordwes-Provinsie vinnig in ’n kweekhuis van entrepreneursbedrywigheid ontwikkel.