Shante Bukes | Alumni

 

Shanté Bukes se passie vir waterponie- (jet ski) resies het haar na internasionale sportgebeurtenisse geneem en haar prestasies in hierdie vinnige sport voorspel selfs nog groter dinge.  

Sedert sy ses jaar gelede met professionele waterponieresies begin het, het sy top-podiumplekke behaal.  Haar talle oorwinnings sluit die titel van professionele Watercross-vrouewêreldkampioen in, wat sy in die Verenigde State van Amerika gewen het.

Dit is nie net internasionaal waar sy een titel na die ander inpalm nie. Shanté is ook die 2015 Suid-Afrikaanse Runabout nasionale vroue-kampioen en was die naaswenner in onderskeidelik die Pro Runabout Stock Class Overall- en die Pro Runabout Open Class Overall-kategorieë.

Sy het derde gekom in die wêreldfinaal van die Pro-Am Runabout Stock Class-kategorie by die wêreldkampioenskap in Lake Havasu, waar sy teen manlike mededingers uit meer as 44 lande deelgeneem het.

Shanté is reeds vir ses agtereenvolgende jare ’n Suid-Afrikaanse nasionale kampioen in die sport en dra die onderskeiding dat sy die eerste vrou in die Vanderbijlpark is om ’n waterponie-wêreldkampioen te word, asook die eerste vrou om die World Kings Cup in Thailand te wen.

Sy het in 2015 ’n BCom-graad in entrepreneurskap en ondernemingsbestuur aan die NWU se Vanderbijlparkkampus verwerf.