Kobie van Rensburg | Alumni

 

Kobie van Rensburg het ’n toekomstige loopbaan in die regte en internasionale politiek vir musiek verruil. Hy het sy drome gevolg en ’n wêreldbekende tenoor, musikus, onderwyser en regisseur geword.

Hy is in Johannesburg gebore, het in Potchefstroom studeer en later na Duitsland verhuis. Kobie is tans die hoof van die Umculo Opera Incubator, ’n organisasie wat ten doel het om opera as kunsvorm te ontwikkel en versoening te bevorder. Hulle het reeds ’n aantal musiekproduksies en opvoedkundige geleenthede in onderontwikkelde Suid-Afrikaanse gemeenskappe op die planke gebring.

Sy aanvanklike belangstelling in die regte het in 1992 tot ’n graad in regte en internasionale politiek (cum laude) aan die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys gelei. Hy het sy studies op hierdie gebied voortgesit met ’n honneursgraad in internasionale politiek (ook cum laude) in 1993, en ’n LLB-graad in 1994.

Dit was egter sy liefde vir musiek wat gewen het en aan hierdie beroemde tenoor verskeie toekennings besorg het.

Kobie het deur sy werk met die Umculo Opera Incubator ’n geweldige impak op plaaslike gemeenskappe gehad, en het in 2010 en 2016 in Ikageng in Potchefstroom produksies aangebied.

Sy uitnemendheid op hierdie gebied is met vier nasionale en 17 internasionale toekennings erken. Hy het in 2004 ’n Grammy-toekenning vir die beste opera-opname, asook Gramaphone Records se Opname van die Jaar-toekenning ontvang. Hy is vanaf 2002 tot 2006 as buitengewone professor by die NWU aangestel.