Karen Meiring | Alumni

 

Die naam Karen Meiring is sinoniem met vermaak, vanaf haar vroeë werk op die verhoog en haar bydraes tot Suid-Afrikaanse kunstefeeste, tot haar innoverende werk om kykNet as ’n gewilde en suksesvolle Afrikaanse televisiekanaal te vestig.

Karen het ’n honneursgraad in drama aan die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys verwerf en het in 1985 haar loopbaan in die vermaakbedryf by die voormalige Streekraad vir die Uitvoerende Kunste in die Oranje-Vrystaat begin, waar sy op en van die verhoog af by verskeie produksies betrokke was.

Sy het in 1990 begin vryskut en het in produksies vir die Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste opgetree voordat sy die ikoniese en gevierde a capella-groep, Cutt Glass, gestig het.

Dit was die jaar 2009 wat ’n nuwe era in Karen se lewe ingelui het. Sy is aangestel as die hoof van die Afrikaanse M-Net-kanale, wat nou onder andere kykNet insluit. Haar kundigheid het gesorg dat sy in 2013 tot direkteur van die Afrikaanse kanale bevorder is.

Sy streef voortdurend daarna om die kunste in Afrikaans te ondersteun en ontwikkel, en talle groot projekte om Afrikaans te bevorder, is al onder haar leiding tot stand gebring. Dit sluit die mees gesogte toekennings soos die Fiëstas en die Ghoemas, die Silwerskermfees-kompetisie en die Afrivisie-liedjieskryfkompetisie in.