NWU in kort

NWU in kort

Waar is ons?

Die NWU is ’n multikampus-universiteit met staanplek in twee provinsies. Die Mahikeng- en Potchefstroomkampus is in die Noordwes-Provinsie en die Vanderbijlparkkampus is in Gauteng. Die hoofkantoor, bekend as die Institusionele Kantoor, is in Potchefstroom naby die Potchefstroomkampus geleë.

Wie is ons?

“Dit begin alles hier” is die NWU se slagspreuk. Die NWU het op 1 Januarie 2004 tot stand gekom deur die samesmelting van twee universiteite met baie uiteenlopende geskiedenisse, persoonlikhede en kulture: die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys en die Universiteit van Noordwes. Die personeel en studente van die Sebokengkampus van Vista-Universiteit is ook geïnkorporeer en het verdere rykdom by ons erfenis gevoeg.

Vandag word die NWU erken as een van die besbestuurde  en mees innoverende universiteite in Suid-Afrika. Ons gaan voort om multikulturalisme, veeltaligheid en multinasionalisme te vier en aan te moedig.

Korporatiewe profiel

Een woord wat die gees van die Noordwes-Universiteit saamvat, is “innoverend”. Hierdie eienskap loop regdeur al ons aktiwiteite en werksaamhede – van die navorsing wat ons uitvoer tot by ons akademiese aanbiedings, bestuursmodel, kampusstruktuur, studenteliggame, gemeenskapsbetrokkenheid en sport-prestasies.

Die publikasie wat bekend staan as die “Korporatiewe profiel” weerspieël die innoverende kultuur en die bestuursuitnemendheid van die NWU.

Die NWU-handelsmerk

Die NWU het ’n kragtige handelsmerk wat trots ons persoonlikheid en aspirasies aan die wêreld bekendstel. Die kern van hierdie handelsmerk is dat ons ’n leidende en volhoubare onderrig-leer- en navorsingsuniversiteit is wat diversiteit inspan en innovasie nastreef ten einde ’n betekenisvolle verskil in Suid-Afrika en die wêreld te maak.

Die handelsmerk het drie hoofelemente: die NWU-logo, -naam en -slagspreuk:

Ons logo: Die ketting van die drie ineengevlegte skakels simboliseer die eenheid van die Universiteit en druk die voorneme en gevoel van vennootskap daarmee visueel uit. Die drie kleure simboliseer die diversiteit van die drie kampusse en die NWU se gebruik van diverse opvoeding en institusionele aanbiedings om by te dra om die mens se wese en verhoudinge te verbeter.

Ons naam: die woordmerk Noordwes-Universiteit identifiseer al ons onderrig-, leer- en navorsingsaanbiedings of subhandelsmerke.

• Ons slagspreuk: Die slagspreuk van die Universiteit verwys na 'n plek waar drome begin - 'n plek waar jy jou aspirasies en toekomstige sukses kan visualiseer. Dit verskuif die fokus van die Universiteit as 'n institusie na die belanghebbendes van die Universiteit en wat die Universiteit vir hulle beteken.

Studiekeuses

Die NWU bied aan studente ’n besonder wye verskeidenheid studiekeuses op voor- en nagraadse vlak. Ons aanbiedings dek die spektrum van akademiese dissiplines: van landbou en die kunste regdeur tot by handel, ingenieurswese, opvoedkunde, gesondheid, regte, die natuurwetenskappe en teologie.

Akademiese programme

Elke NWU-kampus het op akademiese gebied iets spesiaals om aan te bied. Die Mahikengkampus is byvoorbeeld ongeëwenaard in sy benadering tot dieregesondheid en landbouwetenskappe, terwyl die Potchefstroomkampus unieke sterk punte in kerningenieurswese het, en die Vanderbijlparkkampus spesialiseer in ekonomiese wetenskappe en inligtingstegnologie.

Navorsing

Die NWU het ’n duidelike visie vir navorsing en innovering. Dit is om van ’n onderriggebaseerde universiteit wat gefokusde navorsing doen, na ’n gebalanseerde onderrig-leer- en navorsingsuniversiteit te vorder. Die NWU maak goeie vordering op pad na hierdie visie.

Navorsingsentiteitsmodel

Om vinniger te beweeg na ’n gebalanseerde onderrig-leer- en navorsingsuniversiteit, het die NWU ’n nuwe navorsingsentiteitsmodel bekend gestel.  Hierdie model is ontwerp om die navorsingsuitset se groei en prestasie te verhoog en versnel deur meer groepe te stig en aan te moedig om met navorsing te begin, en vir bestaande navorsingspanne meer geleentheid vir groei te skep.

Daar is vier vlakke van navorsingsentiteite, beginnende by die “intreevlak”-entiteit, ’n nisarea, gevolg deur ’n fokusarea, daarna ’n eenheid en uiteindelik ’n sentrum van uitnemendheid.