NUUs

Prof Christa Rautenbach (middel) saam met die Duitse kanselier, Angela Merkel, by die Alexander von Humboldt-stigting (AVH-stigting) se Alumnitoekenningsfunksie. Foto: Alexander von Humboldt-stigting.

 

Die jongste nuus

 

Prof Christa het so pas ’n genootskap van die Kӓte Hamburger-sentrum vir Gevorderde Studie in die Geesteswetenskappe: Regskultuur in Bonn, Duitsland ontvang, wat in Augustus 2020 begin.

 

Dit behels ’n navorsingsprojek wat tot ’n begrip van die reg sal bydra, juis wanneer die wêreld se normatiewe orde aan vinnig toenemende globalisering onderwerp word.

 

Dosent se netwerking besorg aan haar Duitse genootskappe

Netwerking is nie net ’n waardevolle instrument om by eweknieë en kollegas betrokke te raak nie, dit verskaf ook toegang tot broodnodige hulpbronne, en kan deurslaggewend wees om regte te bevorder. Kortom, netwerking kan lewens verander.

Prof Christa Rautenbach, ’n NWU-alumna en -regsdosent wat met haar innoverende netwerkingsinisiatiewe ’n verskil in die lewens van vroue wil maak, het vroeër vanjaar ’n alumnitoekenning van die Duitse Alexander von Humboldt-stigting (AVH-stigting) ontvang.

 

Waar dit alles begin het

 

Christa se affiliasie met die AVH-stigting, wat akademiese samewerking bevorder, het in 2006 begin toe sy die gesogte Georg Forster-navorsingsgenootskap ontvang het om ’n jaar lank in Duitsland navorsing te doen. Sy was een van slegs ’n paar suksesvolle aansoekers.

 

Ná voltooiing van die genootskap het sy ’n alumna van die AVH-stigting geword. Sedertdien het sy haar verskeie netwerkingsinisiatiewe ingespan om akademiese en kulturele verhoudings tussen Suid-Afrika en Duitsland te bevorder.

 

Vroue en die ‘glasplafon’

 

Die netwerk vir tradisionele regering en vroue (Traditional Governance and Women Network) wat Christa tot stand gebring het, bestaan uit navorsers van Duitsland, Suid-Afrika, Zambië en Nederland. Die navorsers kom in hul onderskeie lande byeen om die spanning tussen tradisionele regeringsvorms en geslagskwessies te bespreek.

 

Christa sê die doel van haar netwerk is om antwoorde op verskeie vrae te verskaf.

 

Dié vrae sluit in hoe vroue kan help om vorm te gee aan samelewings wat nog steeds deur tradisionele gesag en instellings regeer word.  ʼn Voorbeeld is hoe hulle op gelyke grondslag kan deelneem in leierskapsposisies wat gewoonlik vir die senior manlike lede van koninklike families gereserveer word.

 

Haar voetspore in Duitsland

 

Christa het haar huidige ses maande lange genootskap in Duitsland – waar sy danksy die stigting haar navorsing verder kon uitbrei – nou byna voltooi.

Gedurende hierdie tydperk het sy by die Max-Planck Instituut vir Vergelykende en Internasionale Privaatreg in Hamburg gewerk.

 

Die stigting het ook twee van haar doktorsgraadstudente, Allison Geduld en Caroline Muller van der Westhuizen, geborg om saam met haar Duitsland toe te gaan, waar hulle onder haar leiding navorsing doen.

 

Die doel van die projek waaraan hulle werk, is om haar netwerk vir tradisionele regering en vroue tussen akademici van Europa en Suider-Afrika verder uit te bou.

 

 

 

DIE NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Navigasie

>

<

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

MEER INLIGTING

KLIK

DEEL

 

Prof Christa Rautenbach het die volgende grade aan die NWU behaal:

 

  • BJuris (cum laude) (1984-1985)
  • LLB (cum laude) (1986-1987)
  • LLM (1993-1995)
  • LLD (1996-2001)

NWU & U  |

NWU & U  |

NWU & U