Wet op Toegang tot Inligting

POPIA

Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (2 van 2000)

Die NWU voldoen aan die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, 2 van 2000.  Ingevolge die Wet is daar 'n inligtinghandleiding beskikbaar.

Alle persone wat wil aansoek doen vir toegang tot inligting vir rekords wat deur die NWU gehou word, moet die voorgeskrewe versoekvorm wat aanlyn beskikbaar is, voltooi.

Indien u wil appelleer teen 'n besluit insake die toegang tot rekords, voltooi asb die kennisgewing van interne appél.

Neem asseblief kennis dat die vorm slegs in Engels beskikbaar is (volgens die Wet en vir kontroledoeleindes), maar dat dit wel in Afrikaans voltooi kan word. (VERSEKER ASB DAT U ALLE VELDE VOLTOOI).

Die NWU Rekordbestuursbeleid en lêerplan en beskikkingskedule (beskikbaar by die Rekordbestuurder op versoek) verskaf ʼn aanduiding van die rekords wat die NWU hou en die wyse waarop hierdie rekords bestuur word.

Neem asseblief kennis dat die rekords soos in die NWU lêerplan en beskikkingskedule nie noodwendig op versoek beskikbaar gestel sal word nie, aangesien sekere van hierdie rekords in geheel of gedeeltelik vertroulik is, en ook onderworpe is aan die reg wat u wil uitoefen of  beskerm.  Die beskikbaarheid van die rekords hang ook van die NWU se interne prosedures met betrekking tot die beskikking oor rekords af. 

 

Interne personeel:
Neem asseblief kennis dat Bestuursinligting, Studente Administratiewe Stelsels, Inligtingstegnologie en Beskermingsdienste voortaan geen versoeke vir data-ekstraksie/verslae (waar die data as persoonlike inligting geklassifiseer kan word) sal ontvang en hanteer sonder die voltooiing van die PAIA-vorm nie.

 

Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (4 van 2013)

Hierdie wet het ten doel om te verseker dat alle Suid-Afrikaanse instellings op 'n verantwoordelike wyse persoonlike inligting van individue versamel, verwerk, stoor en deel.  Dit hou ook instansies verantwoordelik as enige persoonlike inligting misbruik of blootgestel word.

Die wet bevoordeel dus die individu as eienaar van persoonlike inligting en gee aan individue sekere regte wat beskerm moet word en gee ook beheer oor hoe 'n individu se inligting gebruik mag word.  Die wet gee aan jou regte en beheer oor:

  • wanneer en hoe jy jou inligting deel (vereis toestemming);
  • die tipe en hoeveelheid inligting wat jy kies om te deel;
  • deursigtigheid en verantwoordbaarheid oor hoe jou inligting gebruik gaan word;
  • toegang tot jou eie inligting en die reg om jou inligting te vernietig;
  • wie toegang tot jou inligting het;
  • waar en hoe jou inligting gestoor en beskerm word; en
  • die integriteit en volgehoue korrektheid van jou inligting.

 

Wat is persoonlike inligting

Persoonlike inligting is enige inligting wat te make het met 'n lewende persoon en waar toepaslik, 'n bestaande juristiese persoon.  Dit sluit onder andere die volgende in:

  • ID/paspoortnommer
  • Geboortebesonderhede
  • Kontakbesonderhede (insluitend aanlyn identifiseerders)
  • Ras, geslag, etnisiteit
  • Foto's, stemopnames, videomateriaal, biometriese data
  • Verhoudingstatus en familiebesonderhede
  • Kriminele rekord
  • Private korrespondensie
  • Geloofs- en filosofiese oortuigings insluitend persoonlike en politiese opinies
  • Werknemergeskiedenis
  • Finansiële inligting
  • Opvoedkundige inligting (akademiese rekord)
  • Fisiese en geestelike gesondheidsinligting
  • Lidmaatskap van organisasies.

 

Daar moet aanvaar word dat daar nou in 'n inligtingsera geleef word en dat daar saam met hierdie voortuitgang ook die verantwoordelikheid vir elke persoon kom om sy eie inligting te beskerm.  Om die reg op privaatheid te beskerm en wanaanwending van inligting te voorkom, is die Wet op die Beskerming van Persoonlike inligting dus uitgevaardig en die NWU poog om te verseker dat alle prosesse en prosedures in plek is om te verseker dat persoonlike inligting op 'n effektiewe en korrekte wyse bestuur word soos deur die wet voorgeskryf.

Die onregmatige bekendmaking van persoonlike inligting aan eksterne partye stel die NWU aan regsrisiko's bloot en is 'n kategorie B-oortreding van die Dissiplinêre Kode soos vervat in die Gedragshandleiding van die NWU (wat in ernstige gevalle tot ontslag mag lei). Die NWU beskou hierdie oortreding dus in 'n baie ernstige lig.

 

Die wet kan egter nie die individu beskerm indien die individu homself nie beskerm nie. Individue moet op hoogte wees van hulle regte, en indien hulle versoek word om keuses in terme van die wet uit te oefen, ingeligte besluite in dié verband neem.

Vir verdere inligting lees asb die infovoorstelling.

 

Individue kan navraag doen oor hulle persoonlike inligting wat deur die NWU gehou word deur die navraagvorm te voltooi. 

PAIA en POPIA dokumente en aankondigings

Die NWU aanvaar op 17 June 2021 die Persoonlike Inligtings privaatheidsbeleid (tans slegs in Engels beskikbaar)

 

 

Indien u meer inligting verlang oor toegang tot inligting of die beskerming van persoonlike inligting, kontak:

Annamarie de Kock

Koördineerder:  Risiko en Voldoening

018 285 2771

13273396@nwu.ac.za

 

2018.07.13