Ferdinand Postma biblioteek

Ferdinand Postma Biblioteek (E7)

Ferdinand Postma Library 1965

Die hoeksteen van die Ferdinand Postma Biblioteek is op 17 Maart 1951 gelê op dieselfde dag as die selfstandigwording van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO). Op 29 November 1952 is die sierlike en doeltreffende nuwe biblioteekgebou in gebruik geneem.

Dit is met trots vernoem na die persoon wat vir 46 jaar aan die Universiteit verbonde was, 29 jaar daarvan as Rektor, naamlik Prof Ferdinand Postma. Die aanvanklike biblioteek was in sinkgeboue gehuisves, waarna dit vertrekke in die nuwe Hoofgebou ingeneem het in 1931.

Die skokkende einde van hierdie tydperk van die biblioteek, die brandrams van 23 Februarie 1949. die brand kon beperk word tot die eerste verdieping van die noordoostelike vleuel, maar die biblioteek is in puin gelê. Daar word bereken dat 30 000 boeke en 4 000 tydskrifte in die slag gebly het. Van die onvervangbare items was oorspronklike manuskripte van die werke van die skrywer Jan F. Cilliers. Daar is dadelik begin om planne te maak vir 'n nuwe moderne biblioteekgebou.

Die gebou is ontwerp deur die argitekte Meiring en Naude en opgerig deur die firma Van Heerden en Johnson teen 'n koste van ongeveer £ 65 000 (R 128 000).

Die nuwe biblioteek het met die ingebruikneming daarvan bergruimte vir 100 000 tot 120 000 boekdele in die magasyn gehad, ruimtes vir ongestoorde studies vir 160 studente in 'n studiesaal en 12 klein studeerkamers vir gevorderde navorsingstudente. Daar is ruim voorsiening gemaak vir kantoor- en werkruimtes vir biblioteekpersoneel, vir 'n goed toegeruste boekbindery, 'n fotografiese afdeling en vir enkele seminaarkamers.

Library 1963

Die biblioteek was die eerste universiteitsbiblioteek in Suid-Afrika om van optiese dataskywe gebruik te maak om inligting vinnig en doeltreffend aan dosente, navorsers en studente te voorsien. 'n Kompakte laserskyf het vir daardie era 'n ongelooflike kapasiteit gehad - meer as 1 000 boeke se inligting kon daarop geberg word - 'n hele biblioteek op 'n skyfie van 12cm!

Die biblioteek het op ;n stadium 'n ruimteprobleem ondervind en dit het gelei tot die uitbreiding van die gebou. Teen 1971 was die planne voltooi om die biblioteek aansienlik te vergroot en die uitbreidings was teen 1974 afgehandel. dit is basies die gebou soos wat tans in gebruik is.

Library - 1950