Van oorleef tot floreer

 

Die internasionale veldtog van 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders vind elke jaar van 25 November tot 10 Desember plaas.

Volgens die Verenigde Nasies (VN) was daar tydens die Covid 19-gesondheidskrisisar ’n wêreldwye toename in huishoudelike geweld. Oproepe na telefoonhulplyne vir geweld teen vroue en kinders het gedurende die eerste week van die pandemie vyfvoudig toegeneem.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is die voorkoms van geslagsgebaseerde geweld vyf keer hoër as die globale gemiddelde.

Die Noordwes-Universiteit duld nie geslagsgebaseerde geweld nie en dra weereens sy deel by deur bewusmaking en deur belangrike inligting te deel.

Michelle Bownes - NWU gee aandag aan GBV

Met die voorkoms van geslagsgebaseerde geweld (GBV) in Suid-Afrika wat vyf keer hoër as die wêreldwye gemiddelde is, doen die Noordwes-Universiteit (NWU) sy deel deur ’n bewustheid te skep en ondersteuning te verskaf aan diegene wat dit nodig het.

Die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding het vroeër vanjaar ’n beleidsraamwerk oor GBV uitgereik wat alle naskoolse onderwys- en opleidingsinstellings moet gebruik om ’n interne GBV-beleid en -prosedure te ontwikkel.

’n Taakspan wat uit verskillende NWU-verteenwoordigers bestaan, het ’n GBV-beleid opgestel wat alle belanghebbers by die universiteit sal help om gevalle van GBV deur middel van ’n dissiplinêre of alternatiewe geskilbeslegtingsproses aan te meld, te ondersoek, te moniteer, ’n bewustheid daarvoor te skep en dit te hanteer.  Berading sal ook deur die departement van Werknemerswelstand en dié van Studenteberading aan slagoffers van GBV verskaf word.

Volgens Michelle Bownes, die senior werknemersverhoudingspesialis by die NWU se departement vir Werknemerverhoudinge en Welstand en die taakspankoördineerder, is die hoëvlakverslag vir goedkeuring aan die UBK voorgelê om by ander bestuurskomitees en fakulteitsrade vir oorweging, aanbeveling en goedkeuring te dien.

Sy voeg by dat wanneer al die insette ontvang is, dit gekonsolideer sal word en dat die finale konsep voor die NWU se verfyningskomitee sal dien.  Indien die verfyningskomitee saamstem, sal hulle ’n aanbeveling vir finale goedkeuring en implementering aan die UBK en die Raad maak.

Wanneer die beleid goedgekeur is, sal die taakspan ’n standaardbedryfsprosedure vir GBV opstel.

“Die universiteit is daartoe verbind om gevalle van GBV te hanteer en ’n veilige omgewing vir personeel en studente te verskaf.  Die GBV-beleid sowel as die standaardbedryfsprosedure sal vir alle personeel en studente beskikbaar wees,” sê Michelle.

Die beleid sal vroeg in 2021 gefinaliseer word.

Prof Hayley Walker-Williams - Geslagsgebaseerde geweld – hulp is nodig

Daar was oor die afgelope vyf maande talle verhale in die media oor slagoffers wat deur hulle lewensmaats getreiter, aangeval en selfs vermoor is. Volgens Statistieke SA is die voorkoms van geslagsgebaseerde geweld (GBV) in Suid-Afrika vyf keer hoër as die wêreldwye gemiddelde.

Prof Hayley Walker-Williams, die adjunkdirekteur van die Skool vir Psigososiale Gesondheid aan die Noordwes-Universiteit (NWU), verskaf insig oor waarom GBV-slagoffers dit moeilik vind om hierdie verhoudings te verlaat en wat gedoen kan word om hulle te help.

Prof Hayley verduidelik dat GBV fisiek, seksueel, emosioneel en finansieel kan wees, en dat dit deur lewensmaats, kennisse, vreemdelinge en instellings gepleeg kan word. Mans sowel as vroue kan slagoffers wees, maar in die meeste gevalle word GBV deur mans teenoor vroue gepleeg. Die man wat die geweld pleeg, is dikwels aan die vrou bekend, byvoorbeeld ’n lewensmaat of familielid.

Waarom bly slagoffers in gewelddadige verhoudings?

Prof Hayley sê dat dit goed gedokumenteer is dat die meeste vroue ’n gewelddadige verhouding vier tot sewe keer met wisselende grade van permanensie verlaat voordat hulle finaal uit die oortreder se beheer kan loskom. Die vrees vir die daad van verlating is dikwels baie groter as die vrees om te bly.

Die rede hiervoor is dat die slagoffers vrees dat hulle die aanvaller verder sal uittart, wat daartoe kan lei dat hulle en hulle kinders daaronder sal ly. As iemand sosiaal, geografies, fisies en finansieel geïsoleer is en geen toegang tot hulpbronne het wat hulle in staat kan stel om onafhanklik van die oortreder te funksioneer nie, is daar nog verdere redes vir slagoffers om nie pad te gee nie.

Aangesien GBV met geheimhouding en stigma gepaard gaan, keer die vrees om in die skande te kom of gestigmatiseer te word omdat hulle die persoon verlaat die slagoffers ook om iets aan die saak te doen. Indien die slagoffer voorts in ’n gewelddadige huis grootgeword het, beïnvloed die geweldsiklus ook die geloof in hulleself en hulle eiewaarde.

Prof Hayley voeg by dat godsdienstige of kulturele waardes ook ’n rol speel in die feit dat slagoffers nie gewelddadige verhoudings verlaat nie, aangesien sommige gelowe en kulture skeiding, egskeiding of opstand teen die patriargale leierskap in die gesin verbied.

Die literatuur rapporteer ook dat vroue hulle geloof in die polisiediens of regstelsel verloor het, en kan ervaar dat daar niemand is wat hulle of hulle kinders kan beskerm nie.

Wat kan gedoen word?

GBV het ’n vernietigende langtermyneffek op bykans elke aspek van die slagoffer se lewe. Slagoffers ervaar dikwels probleme met geestesgesondheid, inter- en intrapersoonlike en seksuele verhoudings.

Die kritieke uitgangspunt moet ’n fokus wees op die herstel van die slagoffer en die neutralisering van die vernietigende langtermynimpak op die slagoffer se vermoë om ’n normale lewe te voer. Slagoffers kan gehelp word as hulle ’n regsbenadering gebied word wat bemagtigend, medelydend en responsief ten opsigte van hulle behoeftes is. Dit kan gedoen word deur hulpbronne te mobiliseer en beskermende gemeenskapshulpbronne te versterk.

Die wêreld kan ’n eensame, geïsoleerde en vreesaanjaende plek vir die slagoffers van GBV wees. Familie en vriende moet vir slagoffers ondersteuning bied en verseker dat hulle die slagoffer se gevoelens valideer.

Prof Hayley sê dat slagoffers wat langtermynmishandeling ervaar, ’n veiligheidsplan moet skep wat hulle kan voorberei om die verhouding op ’n veilige manier te verlaat. Daar moet ondersteuning en hulpbronne aan slagoffers gebied word. Familie en vriende kan hulle help om ’n maatskaplike werker, sielkundige, mediese dokter, prokureur, of selfs hulle mensehulpbronnebeampte by die werk te nader. Moedig hulle aan om by plaaslike traumaklinieke by primêregesondheidsorggeriewe, beradingsdienste soos LifeLine, of niewinsgewende organisasies soos People Opposing Women Abuse (POWA) aan te klop.

Indien die slagoffers van GBV die nodige ondersteuning ontvang, sal dit vir hulle makliker wees om hierdie lewensbedreigende verhoudings te verlaat.

Tebello Mabusela - Die belangrikheid van ondersteuning

Dit neem ’n slagoffer van geslagsgebaseerde geweld gemiddeld sewe pogings voordat hulle ’n toksiese verhouding verlaat. Dit raak egter makliker vir ’n slagoffer om die moed bymekaar te skraap om uiteindelik pad te gee – en weg te bly – as hulle ondersteuning van familie en vriende ontvang.

Tebello Mabusela, ’n dosent aan die Skool vir Psigososiale Gesondheid by die Noordwes-Universiteit (NWU), praat oor die belangrikheid van ondersteuning van familie en vriende wanneer iemand in ’n toksiese verhouding is.

Tebello sê dat slagoffers weet dat hulle sleg behandel en misbruik word, maar dat hulle geneig is om ter wille van hulle kinders, die gevoel dat hulle êrens behoort, en finansiële ondersteuning in hierdie verhoudings te bly. Hulle bly ook daar omdat hulle die kuns bemeester het om met die mishandeling en die gewelddadige lewensmaat saam te leef.

Dit is belangrik dat familielede navorsing doen oor die redes en faktore waarom die slagoffer nie die toksiese verhouding verlaat nie, en dit verstaan.

“Voordat jy iemand help om ’n gewelddadige verhouding te verlaat, maak seker dat jy hulle ekstern en intern voorberei het vir die verandering wat gaan plaasvind. Maak seker dat daar eksterne hulpbronne is wat die slagoffer sal help om buite die verhouding te funksioneer. Hierdie hulpbronne sal die slagoffer help dat hulle nie na hulle mishandelaar terugkeer nie,” sê Tebello.

Volgens Tebello moet familie en vriende onvoorwaardelike en nieveroordelende ondersteuning aanbied. Hulle moet daar wees vir die slagoffer, en aan die slagoffer praktiese raad gee soos dat hulle die polisie, krisissentrums, ens. moet bel.

“Om te help, beteken om teenwoordig te wees, selfs al het jy 100 keer vir die slagoffer gesê dat sy die gewelddadige verhouding moet verlaat. Om teenwoordig te wees, beteken om deur te druk en geduldig te wees met iemand wat lyk of hulle ‘’n obsessie’ oor die mishandelaar het. Vir hulle is mishandeling normaal,” sê Tebello.

Tebello beklemtoon dat GBV-slagoffers berading moet ontvang nadat hulle die toksiese verhouding verlaat het.

“Berading sal die slagoffer help om vaardighede en interne hulpbronne te ontwikkel om aan te beweeg en onafhanklik te word. Slagoffers moet daaraan herinner word wat geluk is en hoe selfliefde en selfversorging lyk.  Terapie en kraggebaseerde intervensie deur ’n gesondheidsorgkundige kan help om die persoon uit hulle eie geestesgevangenis vry te laat,” sê Tebello.

GBV-hulplyne:  

  • Nasionale GBV-hulplyn: 0800 150 150
  • People Opposed to Women Abuse (Powa): 011 642 4345/ info@powa.co.za
  • Families South Africa (Famsa): 011 975 7106/7
  • Thuthuzela-versorgingsentrums (TCCs): 0800 428 428
  • Tears Foundation: SMS-hulplyn *134*7355# /info@tears.co.za

Dr Tertia Oosthuizen - Tipes geweld

Wanneer daar oor geslagsgebaseerde geweld (GBV) gepraat word, aanvaar mense dat dit na fisieke geweld verwys, maar dit is nie altyd die geval nie. Daar is verskillende maniere wat mishandelaars mag en beheer oor hulle lewensmaats kan verkry en dit kan volhou.

Dr Tertia Oosthuizen van die Skool vir Psigososiale Gesondheid aan die Noordwes-Universiteit (NWU) verduidelik die verskillende tipes mishandeling wat binne ’n verhouding voorkom en gee voorbeelde van elkeen.

Fisieke mishandeling

Hierdie tipe mishandeling vind plaas wanneer slagoffers fisiek aangeval en beseer word met die doel om skade te berokken. Die oortreder sal fisieke krag gebruik om hulle mag oor die slagoffer te toon deur hulle te slaan, te wurg of te brand, of voorwerpe te gebruik om die grootste skade te berokken of die slagoffer só te skend dat niemand anders in hulle sal belangstel nie. Brutale dade tydens geslagsomgang vorm ook deel hiervan. Die ergste vorm van fisieke mishandeling is wanneer die oortreder hulle slagoffer vermoor.

Sielkundige/emosionele mishandeling

Hierdie tipe mishandeling is een van die pynlikstes en kan beskryf word as die uitbuiting, manipulering, afbreking, kritisering en beheer oor die besluitneming van die slagoffer. Die oortreder sal gedurig ’n aanval loods wanneer dinge nie volgens hulle spesifieke wense en eise gedoen word nie. Die oortreder sal die slagoffer verneder deur hulle te verkleineer, neerbuigend te behandel, smalend te praat, sarkasties te wees en die slagoffer emosioneel af te breek sodat hulle selfbeeld vernietig word.

Die slagoffer word nog meer onderdanig, en as hulle nie volgens die oortreder se eise optree nie, sal die oortreder begin om geweld te gebruik.

Ekonomiese of finansiële mishandeling

Geslagsongelykheid, wanneer een lewensmaat meer suksesvol is as die ander een en die oortreder voel dat hulle status in gedrang is of dat hulle “mag verloor”, kan tot gewelddadige uitbarstings lei.

Finansiële mishandeling kom ook voor wanneer ’n lewensmaat besluit hoe die inkomste van albei partye bestee sal word, en die slagoffer geen sê het nie. Oortreders ten opsigte van finansiële mishandeling is ook geneig om die huishoudelike inkomste op alkohol of onnodige aankope te bestee.

Intimidasie en isolasie

Die oortreder verwag dat die slagoffer te alle tye gehoorsaam moet wees en sal dus besluit wanneer die slagoffer kan uitgaan, wie hulle kan besoek, en wanneer en waarheen hulle mag gaan. Hierdie mishandeling gaan gewoonlik gepaard met emosionele afpersing en dreigemente om die slagoffer se geliefdes skade aan te doen.

’n Ernstige vorm van hierdie intimidasie en isolasie is wanneer hulle die slagoffer in die aand en oor naweke letterlik in die huis toesluit.

Seksuele mishandeling, insluitende verkragting

In hierdie geval gaan seks oor die oorweldiging, vernedering en versekering van eienaarskap oor die slagoffer.

Verkragting, wat deel vorm van seksuele mishandeling, word beskou as die fisieke geslagsdaad waar die oortreder hulleself op die slagoffer afdwing. Verkragting kan binne ’n intieme verhouding of huwelik plaasvind waar een van die lewensmaats nie tot geslagsomgang ingestem het nie en die ander maat dit net eis en “neem”.

Pornografie verlaag die slagoffer tot ’n seksobjek en iemand wat uitgebuit kan word om die behoeftes van die persoon wat daarna kyk, te bevredig. Dit bevorder die oortuiging dat slagoffers ’n speletjie speel (play hard to get) en van ruwe seks hou en daarna volg mishandeling en fisieke pyn gewoonlik.

Geestelike mishandeling

Geestelike mishandeling word gedefinieer as die gevoeligheid wat iemand vir die Heilige Skrif het en glo dat God vir hulle sê dat hulle aan hulle lewensmaat gehoorsaam moet wees en nie die verhouding mag verlaat nie, ongeag hoe erg die mishandeling is waaraan hulle blootgestel word.  Mense vertrou godsdienstige leiers en wanneer hulle met hulle probleme na hulle toe gaan, kan hierdie vertroue misbruik word deurdat hierdie beraders nie die werklike pyn van die slagoffer erken nie. 

Tumelo Muteme - Praat oor mishandeling

Met een uit drie vroue wêreldwyd wat al een of ander vorm van fisieke of seksuele mishandeling ervaar het, is dit belangrik dat ons ’n bewustheid oor geslagsgebaseerde geweld skep.

’n Toenemende bewustheid oor die saak kan tot ’n verandering in ons samelewing en regsraamwerk lei.

Tumelo Muteme, ’n aktivis teen geslagsgebaseerde geweld en ’n kommunikasiespesialis by die Noordwes-Universiteit (NWU), praat oor hoe sy drie jaar van huishoudelike geweld oorleef het. Tumelo praat openlik oor haar ervaring om jong mense te motiveer om verhoudings wat toksies en gewelddadig is, te verlaat.

Vertel ons iets oor jouself

Ek is in Ekurhuleni gebore en het daar grootgeword. Ek het in 2011 my loopbaan as joernalis begin, en het amper sewe jaar lank vir ’n aantal plaaslike koerante en ’n nasionale tydskrif gewerk. Ek het die pa van my kind en my mishandelaar in 2008 ontmoet. Teen die einde van 2011 is ons met ’n dogtertjie geseën.

Hoe lank het jy in die gewelddadige verhouding gebly?

Ons was vir ’n totaal van sewe jaar bymekaar en die mishandeling het ná vier jaar in ons verhouding begin. Ongelukkig het ek ’n verdere drie jaar by hom gebly voordat ek finaal geloop het.

Wanneer het jy besef dat jy in ’n gewelddadige verhouding is?

Dit is waar wat hulle sê dat wanneer jou lewensmaat jou een keer geslaan het, hulle dit weer gaan doen. Die pa van my kind het my ses maande ná die geboorte van ons dogtertjie die eerste keer geklap. Ek het gedink dit is ’n eenmalige gebeurtenis, aangesien dit eers ná vier jaar in die verhouding gebeur het.

Ná die eerste fisieke aanranding was alles net op die afdraande pad. Ek sou vir enigiets onder die son geklap, gestamp en selfs geskop word.  Toe ek in 2013 begin het om meer oor huishoudelike geweld te lees, het ek besef dat ek mishandel word. En dat dit nie normaal is nie.

Hoe het jy die verhouding verlaat?

Die feit dat ek fisiek mishandel is, was ’n geheim. Dit is hoekom dít so lank aangehou het. Toe ek egter met my familie en vriende daaroor begin praat, het ek besef dat ek nie langer so wil lewe nie. Ek het vir hom gesê dat ek nie meer ’n verhouding met hom wou hê nie, maar hy het gedink ek maak ’n grap. Toe hy besef dat ek ernstig is, het hy begin om my te agtervolg. Ek het getrek en by my broer gaan woon en ’n beskermingsbevel teen hom gekry.

Was die tekens van die begin af daar?

Die tekens was van die begin af daar. Hy was baie kontrolerend en ek het dit verkeerdelik vir liefde aangesien.

Watter raad sal jy aan slagoffers gee wat hulleself in hierdie situasie bevind?

Die meeste mishandelaars verander nie. Asseblief – sodra jy besef dat hy jou mishandel, hetsy emosioneel of fisiek, loop. Die situasie gaan net erger raak.

Dr Goitseone Leburu - Die verwantskap tussen GBV en MIV/Vigs

Die verband tussen geslagsgebaseerde geweld (GBV) en MIV/Vigs is gewoonlik in die ongelyke magsbalans tussen mans en vroue geleë.

Dit was een van die bevindings van die navorsing wat uitgevoer is deur dr Goitseone Leburu wie se meerstersgraad- en doktorale studies – albei by die Noordwes-Universiteit (NWU) – oor verskillende aspekte van GBV gehandel het.  

Haar meestersgraadstudie, wat in 2015 voltooi is, het die verwantskap tussen GBV en MIV/Vigs ondersoek, en hoe die twee maatskaplike probleme manifesteer en oorvleuel en die lewens van talle vroue raak.

Die studie het die ervarings ondersoek van 30 vroue by geregistreerde nieregeringsorganisasies wat slagoffers van GBV en mense wat met MIV/Vigs leef, bystaan. 

Die rol van mag

Dr Leburu se navorsing het bevind dat die magsverhoudings in hierdie vroue se vorige intieme verhoudings uiters ongelyk was. Die meeste vroue het gesê dat hulle baie jonger as hulle seksmaats was en ook werkloos, wat hulle ekonomies afhanklik gemaak het.

Wat vroue met ’n eie inkomste betref, het die studie bevind dat ’n aantal van hulle hul besluitnemingsmag as gevolg van kulturele druk afgestaan het.

“Die klaarblyklike kulturele verband het vir hierdie deelnemers duur te staan gekom. Hulle kultuur het gesprekke oor seks, seksualiteit, GBV, die onderhandeling oor die gebruik van kondome, die beoefening van veilige seks en MIV/Vigs taboe gemaak,” sê dr Leburu.

Die studie het ook getoon dat al die deelnemers, asook ander vroue in hulle gemeenskappe, verskillende vorms van mishandeling binne hulle intieme verhoudings ervaar het, maar veral seksuele geweld. Sy voeg by dat vroue gevolglik verkies om in stilte te ly eerder as om hulle huishoudings se “vuil geweldswasgoed in die openbaar te was”.

Volgens dr Leburu manifesteer seksuele geweld teen vroue in verskillende gemeenskappe en binne gesinne in die hoë voorkoms van MIV/Vigs. Sy het ook gevind dat alkoholmisbruik ’n baie groot bydraende faktor in die verspreiding van MIV/Vigs en GBV is.

Nadat sy ’n verband tussen GBV en MIV/Vigs gevind het, het dr Leburu met haar PhD aan die NWU begin en gefokus op maniere waarop slagoffers bemagtig kan word. Haar navorsing was getitel “Evaluating social work services within the Victim Empowerment Programme in addressing gender-based violence in North West Province”. 

Met 7,7 miljoen mense in Suid-Afrika wat met MIV leef, en Suid-Afrikaanse vroue wat ’n vyf maal groter gevaar as vroue in ander lande loop om deur hulle seksmaats doodgemaak te word, is die implikasies van hierdie twee onderling-afhanklike maatskaplike probleme geweldig en beklemtoon dit die noodsaaklikheid van navorsing soos dié van dr Leburu.