X

Voorblad

 

Die gewilde musiekblyspel Fame is op 30 en 31 Augustus en op 1 en 2 September in die Sanlam Ouditorium op die kampus in Potchefstroom opgevoer en watter opwindende, onvergeetlike fees vir die sintuie was dit nie!

Die kreatiewe span verantwoordelik vir Fame, naamlik lede van Artéma, Alabama Produksies en NWU Potch Kunste, het die gehoor getrakteer op ’n reis vol wonderlike uitvoerings deur talentvolle kunstenaars, wat studente en dosente ingesluit het.

 

Alumna Nacia Kruger het hierdie opwindende produksie geregisseer en gechoreografeer, terwyl Pieter de Bruin, die kunsdirekteur van die Artéma-opname-ateljee, in beheer van die musiek was. ’n Orkes met nege musikante het die begeleiding verskaf.

Op die voorbladfoto dans Stephen Bogatsu (as Tyrone Jackson) met Lyrinda Venter (in die rol van die balletdanser Iris Kelly).

 

FOTO: Nacia Kruger

 

 

 

PROFIELE

“Ek wil mense se lewens verander,” sê die bekroonde onderwyser Nikiwe Mgwigwi, wat as die beste hoërskoolonderwyser in Suid-Afrika aangewys is.


Haar voetspore bly op die kampus

 

Nikiwe het in haar finale jaar in die Gaenthone Sekondêre Skool in Noordwes by die NWU se Ikateleng-projek aangesluit. Sy het in 2007 by die kampus in Vanderbijlpark vir ’n BEd-graad met hoofvakke wiskunde, fisiese wetenskappe en verdere onderwys en opleiding ingeskryf.

 

“Ek is so dankbaar vir die geleenthede wat die universiteit aan ons gegee het,” sê Nikiwe. Sy voeg by dat die finansiële bystand, toegang tot rekenaarlaboratoriums en ’n veilige studie-omgewing baie tot die akademiese en studente-ervaring bygedra het.

 

“Die kampus het baie gegroei sedert ek weg is! Die nuwe geboue en kursusse laat my lus voel om weer by die kampus betrokke te raak en daarom sal ek binnekort vir my honneursgraad inskryf.”

 

“My filosofie as onderwyser is dat ’n skool nie bloot ’n plek van leer is nie, maar ook ’n geleentheid om verantwoordelike burgers en dinamiese toekomstige leiers te vorm.”

Onderwyser Nikiwe inspireer die volgende generasie

Wanneer ’n mens na die leerders van die Suncrest Hoërskool in Vanderbijlpark luister, word dit duidelik dat hulle onderwyser, Nikiwe Mgwigwi, ’n besondere positiewe impak op hulle lewens het.

Nog ’n onderwyser wat ’n impak op haar leerders gehad het, is Bill Gates se laerskoolonderwyser, Blanche Caffiere. In ’n onlangse onderhoud het die medestigter van Microsoft en Amerikaanse besigheidsmagnaat haar geloof vir die “geweldige” impak wat sy op sy lewe gehad het.

 

Soos Blanche en ander toegewyde lede van hulle professie, motiveer en inspireer Nikiwe ook die volgende generasie.

 

Die 29-jarige Nikiwe is ’n trotse alumna van die NWU se kampus in Vanderbijlpark, en volgens die Departement van Basiese Onderwys die beste hoërskoolonderwyser in Suid-Afrika.Nikiwe se passie vir onderwys is tydens die 2017 Nasionale Onderwystoekennings met die hoogste toekenning in die kategorie: Uitnemendheid in Sekondêre Onderwys bekroon.

 

“Ek kan my nie indink om nie ’n onderwyser te wees nie.”

 

Volgens Nikiwe – wat wiskundige geletterdheid onderrig – is haar liefde vir die onderwys en haar hoë agting vir die professie deur haar hoërskoolonderwysers aangewakker.

 

“Ek skryf my persoonlike en professionele groei aan my onderwysers toe, en veral een van hulle wat my aangemoedig het om deur te druk, al was die pad nie altyd maklik nie,” onthou Nikiwe, wat instinktief geweet het dat onderwys ook haar roeping sou wees.

 

Sy het haar loopbaan in 2010 by die Suncrest Hoërskool begin terwyl sy nog met haar finale studiejaar besig was. Sy het in 2015 by die skool se bestuurspan aangesluit en is as die departementshoof vir wiskunde en wiskundige geletterdheid aangestel. Sy is ook die mentor vir graad 10 en verantwoordelik vir alle sake wat met dissipline, ouers se navrae, en mentorskap verband hou.

Gedurende haar loopbaan by Suncrest Hoërskool het Nikiwe reeds verskeie toekennings en vermeldings vir haar werk ontvang.Hierdie prestasies sluit in ’n 100%-slaagsyfer in die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen (NSS-eksamen), ’n eerste plek in die Sedibeng Onderwysdistriktoekennings, ’n uitnemendheidstoekenning van die Gautengse LUR vir Onderwys, en ’n Goue Prestasie-toekenning van die Minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga.

Nikiwe motiveer nie net leerders in haar klaskamer nie, maar ook leerders van skole in die gemeenskap wat onderpresteer. Deur die skool se Sekondêre Skool-intervensieprogramme onderrig sy oor naweke en tydens skoolvakansies leerders in wiskundige geletterdheid.

As ’n mens na Nikiwe se loopbaan kyk, is dit baie waarskynlik dat haar leerders haar eendag sal onthou as daardie spesiale onderwyser wat hulle geïnspireer het soos haar eie onderwyser haar geïnspireer het, en Bill Gates se onderwyser vir hom. En wie weet: dalk sal Nikiwe se klaskamer die volgende Bill Gates oplewer.

* Die  Nasionale Onderwystoekenningstelsel wat in 2000 ingestel is, is reeds 17 jaar lank aan die gang. Deur hierdie inisiatief erken die Departement van Basiese Onderwys die buitengewone pogings wat onderwysers maak, dikwels onder moeilike omstandighede.

 

 

die NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Navigasie

>

<

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

mEER INLIGTING

KLIK

DEEL

Kyk na hierdie video wat deel was van Espresso, ’n ontbytprogram op SABC3.

Nikiwe pronk op die rooi tapyt by die Nasionale Onderwystoekennings.

Klik hier om na die oorspronklike artikel terug te gaan.

NWU & U  |

NWU & U  |

CONTENTS

NWU & U