X

Profiele

Vir DJ van der Linde, Vrystaat Landbou se Jongboer van die Jaar, is werksbevrediging om jou harde werk te sien vrugte dra.

ʼn Boer maak ’n plan

ʼn Passie vir boerdery

DJ van der Linde (32), is vanjaar aangewys as Vrystaat Landbou se Jongboer van die Jaar.

 

Hy is nie skaam om te sê dat die droogte van hom ‘n beter boer gemaak het nie. Waar hy op sy familieplaas in die Vierfonteindistrik in Noordwes met mielies, sonneblom en beeste boer, het die droogte hom op sy knieë gebring. “Dit is maklik om te knak in sulke tye, maar mens moet net vasbyt, dit is nou dalk ’n moeilike tyd, maar so iets bereik ook sy piek en dan gaan dit weer goed.”

 

Positief vorentoe

 

Dit is hoe DJ is. ‘n Positiewe mens wat sy boerdery ook so bestuur. “Ek sien altyd die positiewe agter iets raak. Mens kan liewer enige situasie met positiwiteit aanpak en regmaak as om die hele dag negatief te wees.”

Wanneer hy aan positiewe dinge dink, sluit dit beslis sy studentejare in.

 

“Die lekkerste vyf jaar van my lewe,’’ lag hy. Hy het in 2003 BSc Plant-en Dierkunde studeer voor hy sy studierigting in 2004 na BEd Tegnika verander het. Hy het in sy eerstejaar in Veritas-manskoshuis gebly en daarna in ’n woonstel.

 

““Ek het baie goeie herinneringe aan die Potchefstroomkampus en ons groep vriende hou gereeld reünie.” Hy het ook liefde daar in Potchefstroom gevind en hy en Rianette, ’n verpleegsuster, het twee kinders.

 

Voor hy plaas toe is, het hy vir agt maande skoolgehou tot sy pa in 2008 ernstig siek geword het en DJ die leisels op die plaas, St Helena, moes oorneem. Sedert sy mentor en pa, Dawie, in 2012 oorlede is, bewerk hy die 750 ha alleen.

 

ʼn Raakvat-boer

 

Hy het die boerdery sedertdien stelselmatig uitgebrei en al het die span op St Helena dalk nie al die nuutste implemente en tegnologie tot hulle beskikking nie, is DJ ‘n raakvat-boer. Hy sê sy studies in tegnika kom veral handig te pas. “Ek maak alles self reg en is gesteld op die onderhoud van al my werktuie.”

 

Hy maak graag planne met die toerusting en vaardighede wat op die plaas beskikbaar is. Al kan hy nie gereeld toerusting en implemente vervang met nuwer tegnologie nie, pas hy dit wat hulle het aan om by die vinnig ontwikkelende bedryf by te hou.

 

Planmakers van môre

 

Boerdery is sy lewe. “Om mens se harde werk te sien groei tot iets moois. Dit is mos nou werksbevrediging.”

 

Volgens DJ is die jongboere van vandag die planmakers en die toekoms van die bedryf. “Ons is die landbouers van môre en ons moet weer sorg dat ons kinders kos vir Suid-Afrika plant.”

 

Met jongboere van Rupert en DJ se stoffasie, lyk dit inderdaad asof landbou in Suid-Afrika in goeie hande is.

 

 

Die NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto’s of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Klik

deel

<

>

Navigasie

volgende artikel

vorige artikel

klank

video

Meer inligting

NWU & U  |