X

nuus

Dr Johann de Jager se studente noem hom “Oom Jabu”.

Vriendskap
oorbrug die kloof

Neem een wit Afrikaner-akademikus met sy Potchefstroomengels en voeg een swart nagraadse student wat bekend is vir sy politieke aktivisme by… Dit klink na 'n resep vir ʼn ramp, nie waar nie?

Nie noodwendig nie – veral nie as hulle dr Johann de Jager en Raymond Hlungwani is nie.

 

In twee inspirerende briewe wat onlangs op Netwerk24 verskyn het, vertel hierdie twee die storie van hoe die volhardende welwillendheid van 'n kultuursensitiewe wit man die diepe agterdog van 'n swart man in respek en selfs liefde verander het.

 

Aanvanklik was Johann, alumnus en voormalige dosent aan die Potchefstroomkampus – en meer onlangs die Mafikengkampus ook – beslis nie die studieleier wat Raymond vir sy meestersgraad in joernalistiek in gedagte gehad het nie.

 

'n Wit studieleier? Rêrig?

 

In sy brief sê Raymond dat hy hoegenaamd nie kon verstaan waarom die universiteit 'n wit studieleier aan hom – die mees omstrede student op kampus – toegewys het nie.

 

“En toe kom hierdie man en verander my houding op soveel maniere.”

 

Hy het in Johann eienskappe soos eerlikheid, goedheid en opregte besorgdheid ontdek, en Johann het vir hom meer as net 'n studieleier geword.

“Ek het my hele lewe lank witmense wantrou… en ek was verkeerd. Net soos daar swartmense was wat apartheid ondersteun het, was daar witmense wat dit nie ondersteun het nie.”

 

Dit klink baie waar van Johann. In sy brief skryf hy sy oupa en 'n Zoeloe-hoofman was vir jare lank goeie vriende en dat sy pa in 'n Zoeloe-hut gewoon het terwyl hy vir sy meestersgraad in volkekunde navorsing oor dié kultuur gedoen het.

 

Net soos enige ander gas

 

“In ons huis is Afrikane by die voordeur ontmoet en is hulle, nes enige ander gas, in die ‘grênd’ sitkamer ontvang... Die gesprekke was dan in isiZulu en Sesotho.”

 

Nadat hy as kommunikasiekundige by Absa bedank het, het Johann in 2008 Mahikeng toe getrek om op die NWU se Mafikengkampus "die kinders te leer". Daar het hy besef dat sy Mafikengstudente presies soos sy voormalige Potchefstroomstudente, sy eie dogters, seun en kleinkinders, is – met dieselfde verwagtinge, ideale en drome.

 

'n Spesiale naam

 

Vandag woon Johann en sy vrou, Lien, in Pretoria, maar hy gee steeds studieleiding aan 'n paar nagraadse studente. Hy sê sy studente noem hom “Oom Jabu”, wat die verkorte weergawe van sy Zoeloe-naam, Jabulané, is.

 

Die naam wat Raymond hom gegee het, is selfs nog meer spesiaal. Aan die einde van sy brief skryf hy: “Ek noem hom agbare Jabu, my beste studieleier ooit.”

 

Die storie wat hierdie twee briewe vertel is genoeg om alle Suid-Afrikaners aan te moedig om saam met Raymond te stem: “Om Suid-Afrika se uitdagings in die onderwys, gesondheid, die ekonomie en mynwese te oorkom, het ons 'n verenigde nasie nodig.”

 

Wat 'n suksesresep.

 

 

Die NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto’s of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Klik

deel

<

>

Navigasie

volgende artikel

vorige artikel

klank

video

Meer inligting

Raymond Hlungwani sê Johann het sy houding of soveel maniere verander.

NWU & U  |