X

Profiele

Rupert Richter se kundigheid as meganiese ingenieur help hom om op ʼn nuwe manier na dinge te kyk – ook in die landbou.

’n Passie vir boerdery

ʼn Boer maak ʼn plan

Op 31 is Rupert Richter die jongste nie-uitvoerende direkteur in die geskiedenis van NWK.

Hy is in September 2015 verkies tot die direksie van NWK, ʼn toonaangewende landboubesigheid in Lichtenburg wat hoofsaaklik vanuit die Noordwesprovinsie funksioneer.

 

Boerdery is in Rupert se bloed en waar hy op die plaas Klippan in die Lichtenburgdistrik boer, is hy op sy gelukkigste. “Mens moet passievol wees oor wat jy doen, anders raak dit moeilik om Maandagoggende op te staan en werk toe te gaan,” gesels hy.

 

Werk toe gaan is vir hom “waar jy skoon, vars lug inasem” en sien hoe goed groei. Op Klippan boer hy met besproeiingsmielies, -koring, droëland mielies en kommersiële beeste.

 

Veiligheidsnet vir ʼn taai omgewing

 

Voor hy homself egter ’n boer kon noem, het Pa Richter gesê hy moet hom eers kwalifiseer buite die boerderyomgewing. “Sodat ek iets het om op terug te val; landbou is mos maar ’n taai omgewing.”

Hy het sy studies in meganiese ingenieurswese in 2006 voltooi en sê hy mis die studentedorp-gevoel van Potchefstroom.

 

“Ek dink die studente-omgewing van die Potchefstroomkampus kan nie vergelyk word met ander kampusse nie. Dit was ’n besonderse belewenis.” Maar, voeg hy by, as jy ingenieurswese studeer is daar nie tyd om ander goed te doen nie.

 

Ná sy studies het sy loopbaan as ingenieur afgeskop en terwyl hy voltyds gewerk het, het hy sy meestersgraad deeltyds voltooi. Die plaas het bly wink en dit was nie lank nie of hy het ‘n lonende beroep as ingenieur vaarwel geroep om sy passie te volg.

 

ʼn Handige agtergrond

 

Sy studies kom handig te pas in die boerdery. “Ingenieurswese het my denkrigting verander en my geleer om dinge anders te benader. In boerdery is daar elke dag iets wat op ’n nuwe manier benader moet word,” sê hy.

 

Rupert het kleintyd al daarin belanggestel om nuwe dinge te doen. “Ek het grootgeword met ‘n pa wat self goed regmaak. Ek bou my eie implemente op die plaas en het my eie besproeiingstelsel. My studies het die deur oopgemaak na effektiwiteit – ek wil nie die wiel herontwerp nie, ek wil eerder verbeter op bestaande produkte.”

 

Soveel geleenthede

 

Rupert gesels met gesag en die passie vir sy werk skemer deur in sy stemtoon. Hy is betrokke in georganiseerde landbou omdat landbou “so ‘n moeilike omgewing is om te betree, maar wel soveel geleenthede bied, selfs vir ’n entrepreneur”.

 

Hy wil in voeling bly met die landbougemeenskap en sê die jongboere wat die landbou betree hou die belofte van ’n gesonde toekoms in landbou in.

 

 

Die NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto’s of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Klik

deel

<

>

Navigasie

volgende artikel

vorige artikel

klank

video

Meer inligting

NWU & U  |