X

Nuus

Adv Johan Kruger, voorsitter van die NWU-raad, is ’n man van vele talente.

Dié raadsvoorsitter
kan toor

My oupa is ʼn towenaar. Dit is wat Mila, adv Johan Kruger, voorsitter van die NWU-raad, se kleindogter vir die kinders in haar voorskoolse klassie vertel het – iets wat natuurlik die reine waarheid is.

Daar is twee redes waarom dit die waarheid is. Eerstens kan Johan regtig kulkunstoertjies doen en tweedens kan hy voorwaar met woorde toor.

 

Hy het ʼn rukkie terug op die MNet-program, Kwêla, oor sy jongste boek, Die formidabele Ling Ho, gesels. Vir die skryf van dié satire – wat vanjaar deur PenguinRandomHouse uitgegee is – het Johan sy towenaarsmantel behoorlik omgehang.

 

Hoofkarakter Ling Ho, wat sonder sy opgeplakte snor en satynskoene met klokkies op die punte eintlik net doodgewone Willem Landman is, is ʼn opperste kansvatter en “showman“  wat deur die platteland reis om mense met sy kulkunsies te vermaak.

 

Net soos vir Ling Ho, is ʼn pluiskeil (met of sonder ʼn haas daarin), ʼn blink mantel en ʼn toorstokkie ook nie vir Johan onbekende voorwerpe nie.

 

Toornaar van formaat

 

“As jong knaap het ek en ’n vriend self die kulkuns as stokperdjie bedryf en vandag hou ek steeds daarvan om my kleinkinders met ‘trieks’ te vermaak,” sê Johan.

 

ʼn Opperste woord-towenaar homself, steek hy in dié boek die draak met aspekte van ons huidige samelewing. Maar, sê Johan, hoewel ’n satire op die oog af ‘lig’ is, word dit wel gekenmerk deur verskuilde of versluierde erns.

 

Tog is dit baie ligter as sy vorige twee boeke waarvan die temas en styl baie ernstiger was. Die vloek het in 2012 verskyn. “Die tema daarvan kan miskien saamgevat word as die sondes van die vaders wat in latere geslagte neerslag vind,” sê Johan.

 

Toe, in 2015, het Die dag van die Lord die lig gesien, met onreg, wraak en vergifnis as tema. Dit is gebou rondom die konsentrasiekampe van Lord Kitchener in die Anglo-Boereoorlog.

 

“In albei boeke speel regsgeleerdes as karakters ’n rol. Dit is eenvoudig omdat die wêreld waaruit hulle kom vir my bekend is.”

 

Dit kom van ver af

 

Johan se pad met die woordkuns strek egter heelwat verder terug. Hy het in sy jonger dae verskeie jeugboeke en ’n speurroman geskryf. Hy het ook kortverhale geskryf waarvan verskeie in die Tydskrif vir Letterkunde verskyn het en ’n paar in twee kortverhaalbundels opgeneem is.

 

“Skryf was nog altyd vir my ’n lekker stokperdjie, maar ook ’n manier hoe ek uiting kon gee aan ʼn wêreld weg van die eksakte regswêreld waar ek my brood verdien.”

Sy eerste jeugverhaal het in 1981 verskyn en nog drie min of meer elke jaar daarna. Nadat hy vir baie jare nie weer geskryf het nie, het hy weer begin ná hy en sy vrou, Hester, op Komarin, hul aftreeplasie naby die Loskopdam in Mpumalanga, gaan woon het.

 

“My voorneme was om my vir ’n slag ernstig tot skryf te wend. Daarin het ek net gedeeltelik geslaag, want ek neem nog somtyds (te dikwels!) as regter waar en die voorsitterskap van die NWU se Raad hou my ook baie besig.”

 

Twee vlooie en 'n snor

 

Die Krugers het vier kleinkinders vir wie hy graag stories uit sy hoed trek – soos dié een van die twee vlooie wat in Lord Kitchener se baard bly. Lees die tekskassie regs om te sien waar presies dié storie uitgebroei het.

 

Behalwe die moontlikheid van ʼn kinderboek iewers in die toekoms, werk Johan ook tans aan drie ander manuskripte. “Sodra ek genoeg tyd kry, maak ek hulle klaar,” sê hy.

 

Raadsvoorsitter, regsgeleerde, skrywer, oupa en towenaar. Ja, Mila was reg – haar oupa kán toor. Maar meer nog: behalwe die woord- en kulkuns, lyk dit ook nogal of Johan Kruger die volle spektrum van die lewenskuns bemeester het.

 

Johan en sy vrou, Hester, ontspan saam met hulle hond, Bessie, op die plaas.

Die NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto’s of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Klik

deel

<

>

Navigasie

volgende artikel

vorige artikel

klank

video

Meer inligting

Eendag was daar twee vlooie...

 

“Op die voorblad van Die dag van die Lord is ’n foto van Lord Kitchener met sy weglêsnor. Die kleinkinders is nog te jonk om die boek te lees maar wou weet waaroor die boek nou eintlik gaan.

 

“Ek sȇ toe dit gaan oor twee vlooie wat in die oom op die voorblad se snor bly. Hulle het daarop aangedring dat ek die storie van die vlooie vir hulle moet vertel, en so het Flippie en Floppie, die twee vlooie, die lig gesien. Tans trek ons al ver met die avonture van dié twee vlooie.

 

“Miskien word dit nog eendag ’n kinderboek, wie weet?”

 

– Johan Kruger, towenaar

 

NWU & U  |


kan toor