X

nuus

Herman Thom van die NWU se Adviesburo vir Kleinsakeondernemings is die leier van die projek wat daarop gerig is om ʼn regverdige winsmarge vir Botswana se Departement van Energiesake te bepaal.

William van der Merwe, medekonsultant en lid van die projekspan, gaan saam met Herman vulstasies in Botswana besoek om navorsing te doen.

Botswana se energiesektor
betrek NWU-kundigheid

Die NWU gaan Botswana se Departement van Energiesake help om ʼn regverdige brandstof-winsmarge te bepaal. Dit volg op die ondertekening van die grootste kontrak wat die NWU-Skool vir Besigheid en Korporatiewe Bestuur nóg losgeslaan het.

Herman Thom van die NWU se Adviesburo vir Kleinsakeondernemings is die programleier vir die projek. Hy sê hulle is vir ʼn tydperk van drie jaar aangestel om ʼn kleinhandelwinsmargemodel te implementeer, en om ʼn soortgelyke model vir die oliebedryf in Botswana te ontwikkel en implementeer.

 

“Sommige van die vernaamste toekomstige uitdagings van die bedryf sal wees om ʼn gunstige markomgewing te handhaaf wat indiensneming sal ondersteun en ruimte sal skep vir entrepreneuriese ontwikkeling en veilige belegging in die land. Die beskikbaarheid van ʼn voldoende voorraad brandstof en verwante produkte is net so belangrik,” sê hy.

 

“Eerstens moet ons die nuwe model vir Botswana se groothandelbrandstofbedryf ontwikkel en implementeer. Hierdie model moet vir hulle die nodige leiding gee om ʼn regverdige winsmarge te bepaal.”

 

Herman sê hulle sal ook met brandstofkleinhandelaars en brandstofstasie-eienaars in Botswana saamwerk. Dit volg op werk wat drie jaar gelede gedoen is om ʼn model vir die Botswana-kleinhandelbedryf te ontwikkel. “Ons moet nou ook kyk wat ʼn regverdige winsmarge vir hulle behoort te wees, want die winsmarge word deur hulle regering gereguleer.”

 

Hy sê wat hom en sy medekonsultant, William van der Merwe, veral opgewonde maak oor die reusetaak wat op hulle wag, is die wete dat hulle ʼn noodsaaklike bydrae sal lewer om een van die grootste industrieë in Botswana ekonomies lewensvatbaar te hou.

 

“Dit sal verdere stabiliteit vir Botswana se brandstofbedryf verseker. Dit sal ook help om al die rolspelers te beskerm en riglyne daarstel om te verseker dat almal in die bedryf regverdige vergoeding ontvang.”

 

In die volgende vier maande sal die twee konsultante ten minste 70 nagte in Botswana deurbring. Hulle sal van dorp tot dorp reis en as deel van hulle navorsing by 60 van die meer as 200 brandstofstasies in Botswana aangaan.

 

Prof Tommy du Plessis, direkteur van die NWU-Skool vir Besigheid en Korporatiewe Bestuur, sê die skool en die Adviesburo vir Kleinsakeondernemings het uitgebreide ervaring in hierdie verband. “Ons onderneem al sedert 1997 brandstofverwante ondersoeke – plaaslik sowel as in Namibië, Swaziland en Lesotho, en ons is trots op ons kundigheid.”

 

In 2015 is die adviesburo se mandaat vir Namibië uitgebrei om die modellering en bepaling van die groothandelmarge van brandstof vir die oliebedryf in Namibië in te sluit. Hierdie mandaat is tot 2019 verleng.

 

“Ons het nou ʼn uitstekende geleentheid om die NWU se reputasie in Botswana uit te bou. Dit is ook ʼn wonderlike bemarkingsgeleentheid en ʼn welkome kontantinspuiting vir die NWU-Skool vir Besigheid en Korporatiewe Bestuur.”

 

 

Die NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto’s of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Klik

deel

<

>

Navigasie

volgende artikel

vorige artikel

klank

video

Meer inligting

NWU & U  |