X

Profiele

Collen Lemawane, alumnus van die Mafikengkampus, is ʼn gebore omroeper.

Dit begin alles by onderwys

 

Vir Collen Lemawane begin sukses as ʼn professionele omroeper by die akademie.

 

“Ek glo ek funksioneer goed want ek is ingelig, ken die regsaspekte en etiek, die voor- en nadele, en ek weet hoe om op te tree. As jy ʼn graad het, weet jy wat om te doen, maak nie saak met wie jy ʼn onderhoud gaan voer nie, of dit nou ʼn president of ʼn hoof- uitvoerende beampte van ʼn maatskappy of ʼn kunstenaar is.”

 

Ander belangrike suksesfaktore is passie, persoonlikheid en professionalisme, om maar net ʼn paar te noem.

 

“Jy moet lief wees vir dit wat jy doen, jy moet vriendelik en toeganklik en gewillig wees; jy moet voorbereid wees om omstandighede te kan hanteer.

 

Jy moet ʼn oggend- én ʼn aandmens wees. As jy eenuur die oggend moet opstaan om vyfuur ʼn program aan te bied, doen jy dit.”

 

Absolute stiptelikheid is noodsaaklik. “Ek is altyd betyds en is nogal goed met tydsbestuur.”

 

Sterk interpersoonlike vaardighede is ook belangrik, asook die vermoë om jou persoonlike gevoelens opsy te skuif en bereid te wees om “soos ʼn soldaat met jou spreekwoordelike stewels aan te sneuwel”. Jy moet dus gereed wees vir enige uitdaging, kalm en professioneel bly onder druk, en dapper wees as die situasie dit vereis.

 

Geen gemaksones

vir Collen

ʼn Veilige werk in die een of ander staatsdepartement. Dit is wat Collen Lemawane in gedagte gehad het as jong student aan die voormalige Universiteit van Noordwes in Mahikeng. In plaas daarvan bevind hy homself in die openbare oog as ʼn professionele omroeper en meer onlangs ʼn skrywer.

“Ek was bang vir uitdagings en ek was lief vir my gemaksone, so ek het gedink, ‘Staatsdiens, hier kom ek!’ en in 1991 ingeskryf vir ʼn graad in openbare administrasie,” onthou Collen, sake-aanbieder en spesialisregisseur op die SAUK se 24-uur-nuuskanaal, en outeur van die boek Why broke when there’s so much info?

 

Toe, op ʼn dag op kampus, verander sy loopbaanaspirasies heeltemal.

 

Hy was lid van die vermaakkomitee van die Verteenwoordigende Studenteraad (VSR), wat ʼn luidsprekerstelsel voor die kafeteria opgestel het. Op die ingewing van die oomblik het Collen begin musiek speel en maak of hy nuus lees.

 

“Mense het gesê dit klink vir hulle net soos ʼn regte radiostasie, en toe daar oudisies gehou is by die uitsaaisentrum langs die kampus, het hulle gesê, ‘Collen kan dit doen!’”

 

Collen het nie op hom laat wag nie en Bophuthatswana se Uitsaaikorporasie het hom dadelik ʼn pos aangebied. “Ek het daar en dan gekwalifiseer vir ʼn loopbaan in die uitsaaibedryf, sonder enige voorbereiding!”

 

Maak klaar wat jy begin het

 

Hy was egter nie bereid om sy studies in openbare administrasie te laat vaar nie. “Ek hou nie daarvan om met goed te begin en nie klaar te maak nie,” sê hy. “Ek móés eenvoudig eers daardie graad voltooi. Daarna het ek begin met iets waarvan ek werklik gehou het.”

 

Dit was natuurlik die uitsaaiwese, en Collen was behoorlik in sy element. Hy het die nuus op drie radiostasies aangebied (Radio Mmabatho, Radio Sunshine en Radio Bop) en was ʼn programleier op Bop TV se Eight o’ Clock Live-program – alles gelyktydig. Collen was ook ʼn aanbieder van ʼn musiekprogram genaamd Di a Kurutla op Mmabatho TV in die laat negentigerjare. “Ek het baie veelsydig geraak, en vir radio en televisie programme gemaak, as verslaggewer opgetree en aangebied.”

 

Dit alles het in 2003 skielik tot ʼn einde gekom toe die einde van die “Bop-era” aangebreek het en die uitsaai-been gesluit is. Alle tuislanduitsaai-instansies, bekend as TBVC-staatsuitsaaiers (Transkei, Bophuthatswana, Venda en Ciskei) is by die SAUK ingelyf.

Collen is dus terug na sy alma mater om sy ware passie na te streef, en behaal toe ʼn honneursgraad in kommunikasiekunde.

 

Sy uitsaailoopbaan was gou weer op koers by die SAUK, waar sy loopbaan gedy het. (Sien tekskassie vir detail.)

 

Dit beteken nie dat hy nog nooit enige terugslae gehad het nie. Vier jaar gelede het Collen ʼn ervaring gehad wat sy moed beproef het, en uiteindelik nuwe deure oopgemaak het.

 

Probleem word ’n geleentheid

 

In 2012, kort nadat hy die Comrades- en die Twee Oseane-marathon voltooi het, het Collen ernstige hoofpyn gekry en inmekaargesak. “Ek was heeltemal verlam in my onderlyf.”

 

Hy is in die hospitaal opgeneem en moes lank daar bly. Terwyl hy aan ʼn rolstoel gekluister was, het hy hom oor sy persoonlike finansies bekommer. In plaas daarvan om paniekerig te raak, het hy sy gedagtes op papier neergepen – of, om meer presies te wees, op sy selfoon. “Ek het dit alles op my foon neergeskryf in die hospitaal.”

 

Drie jaar later, in Mei 2016, was dit wat begin het as notas op ʼn selfoon ʼn boek oor persoonlike finansies en finansiële vryheid. Why broke when there’s so much info? is baie goed ontvang, en hy werk reeds aan sy volgende boek.

 

Programleier, regisseur en nou ook skrywer… ja-nee, dit lyk of Collen vierkantig in die openbare oog is en van plan is om nog lank daar te bly. ʼn Veilige werk in die staatsdiens? Nee wat, nie vir Collen Lemawane nie, dankie.

 

 

Die NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto’s of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Klik

deel

<

>

Navigasie

volgende artikel

vorige artikel

klank

video

Meer inligting

Vyf vinnige vrae

  • Wat staan vir jou uit in jou loopbaan tot dusver?

    Dat die bestuur die vertroue in my gestel het dat ek enigiets kon doen. Ek het nooit gevra vir die programme wat ek aangebied of vervaardig het nie; ek is gevra om dit te doen omdat mense in my geglo het.

     

    (Televisieprogramme wat hy oor die jare aangebied of vervaardig het, sluit in Interface, The World Today en In the Public Interest op SABC 3. Van die radioprogramme is Motsweding FM Current Affairs, en Spectrum op Radio Bop.)

  • Het jy al heeltemal herstel van jou hospitaalverblyf in 2013?

    Ja, ek kan nou weer behoorlik loop, sonder ʼn kierie of ʼn rolstoel. Ek sou selfs modelwerk kon doen!

  • Hoe sou jy jou persoonlikheid beskryf?

    Ek is uitgaande, selfversekerd, onkonvensioneel, altyd opgeruimd en positief. Ek glo die wêreld kyk na my en dat ek moet terugkyk. Ek glo ek kan enigiets doen met God, my Skepper, by my.

  • Hoe ontspan jy?

    Ek doen watersport, hoofsaaklik kajak-roei. Ek preek ook en doen motiveringspraatjies by kerke en gemeenskapsorganisasies.

  • Wat is jou leuse?

    Ek glo in geluk en om verantwoordelikheid te aanvaar vir alles wat ek doen. Ek glo daaraan om iets te doen waarvoor ek lief is, maar wat ook die samelewing bevoordeel.

NWU & U  |