X

Nuus

En die NWU se ander benoemdes was...
(KLIK OP ELKEEN OM MEER TE LEES)

  • Prof Louis Kotze

    Prof Louis Kotze, navorsingsprofessor in regte op die Potchefstroomkampus, is vir twee toekennings benoem. Hy was een van die kandidate vir die TW Kambule-NWTF-toekenning vir navorsing en uitsette en vir die NWTF-Greenmatter-toekenning ter bereiking van biodiversiteitsbewaring, omgewingsvolhoubaarheid en ʼn groener ekonomie.

     

    Louis is tans by die Universiteit van Lincoln in die Verenigde Koninkryk, waar hy as ʼn besoekende professor in omgewingsreg optree. Hy is die outeur en mederedakteur van meer as 90 publikasies oor temas met betrekking tot Suid-Afrikaanse, streeks- en globale omgewingsreg.

  • Prof Wilma Viviers

    Prof Wilma Viviers, direkteur van die navorsingsfokusarea Handel en Ontwikkeling (TRADE) op die Potchefstroomkampus, is benoem vir haar uitstaande bydrae oor die afgelope vyf tot 10 jaar tot wetenskap, ingenieurswese, tegnologie en innovasie in Suid-Afrika.

     

    Wilma beklee die Wêreldhandelsentrum se Navorsingsleerstoel en is ʼn kundige op die gebied van uitvoerbevordering, mededingende intelligensie en ekonomiese ontwikkeling. Haar werk het al in meer as 50 eweknie-geëvalueerde joernale, boekhoofstukke en nasionale beleidsverslae verskyn.

     

  • TRADE-DSM

    Die TRADE-DSM (besluitnemingsondersteunings-model) se span, onder leiding van prof Wilna Viviers, is benoem vir ʼn toekenning in die kategorie “Navorsing wat lei tot innovasie deur ʼn korporatiewe organisasie”.

     

    Die TRADE-navorsingsentiteit maak ʼn hoogs praktiese bydrae tot Suid-Afrika se handel- en ontwikkelingspogings deur gereelde kontak met beleidmakers en belanghebbers in die bedryf en deur die aflewering van hoëgehalte-navorsingsuitsette wat sleuteluitdagings aanspreek.

     

    Hierdie uitdagings sluit in die verbetering van die land se mededingendheid, diversifisering van die uitvoerproduk en dienstebasis, en uitbreiding na nie-tradisionele markte.

     

  • CFAM Technologies (PTY) Ltd

    Die NWU se CFAM Technologies (PTY) Ltd was ʼn finalis in die kategorie “Navorsing wat lei tot innovasie deur klein, mediumgrootte en mikrogrootte ondernemings”.

     

    Danie Vorster is die besturende direkteur. CFAM Technologies (PTY) Ltd spesialiseer in die vervaardiging van ekstrusiemasjiene wat ideaal geskik is vir Afrika-toestande.

     

  • Mobile Agri Skills Development & Training (MASDT) NPC

    Mobile Agri Skills Development & Training (MASDT) NPC, wat verbonde is aan die NWU se Sentrum vir Waterwetenskappe en -bestuur, is benoem in die kategorie vir nieregeringsorganisasies. Die Sentrum vir Waterwetenskap en -bestuur se direkteur is prof Ingrid Dennis.

     

    MASDT is ʼn organisasie sonder winsoogmerk wat as ʼn eenstopsentrum vir klein en mediumgrootte entrepreneurs in die landbousektor ontwikkel het.

     

Bestuurder van NWU-wetenskapsentrum ontvang ‘Wetenskap-Oscar’

Die bestuurder van die Wetenskapsentrum op die Potchefstroomkampus het ʼn NSTF-South32-toekenning, ook bekend as ʼn “Wetenskap-Oscar”, ontvang ter erkenning van die uitstekende werk wat hy doen.

Prof Jan Smit is op 30 Junie vereer tydens ʼn galadinee by Emperors Palace in die kategorie “Kommunikasie vir uitreik en bewusmaking”. Jan was een van agt NWU-finaliste in die Nasionale Wetenskap- en Tegnologieforum (NWTF) se prestige-wetenskaptoekennings. (Kyk na die tekskassie in die linkerkantste kolom om te sien wie die NWU se ander benoemdes was.)

 

ʼn Groot eer

 

Jan sê dit was ʼn groot eer om saam met die grootste wetenskaplikes in Suid-Afrika erken te word.

“Dit is vir my ʼn groot voorreg. Ek voel soos ʼn dwerg wat oor die skouers van reuse loer.”

 

Hy was aanvanklik huiwerig om homself beskikbaar te stel vir die toekennings. “Ek glo mens moet jou werk altyd tot die beste van jou vermoë probeer doen, nie om erkenning te kry nie maar omdat jy daarin glo. Ek was aangenaam verras. Die toekenning is ʼn goeie motivering om voort te gaan om innoverende werk van hoë gehalte te doen.”

 

Jan sê hy is dankbaar teenoor al die wetenskaplikes en studente wat tot sy loopbaan bygedra het. Hulle sluit in groot wetenskaplikes soos prof Pieter Stoker en voormalige studente soos prof Dan Kgwadi, visekanselier van die NWU.

 

Sy huidige werk dra by tot die opbou van mensekapitaal op innoverende maniere en die verbetering van die kennis, vaardighede en houdings van leerders en die publiek op die belangrike vakgebiede van wetenskap en ingenieurstegnologie. Die eindproduk van sy visie is goed gekwalifiseerde ingenieurs, wetenskaplikes en tegnoloë.

 

Mees gesogte toekennings

 

Die NSTF-South32-toekennings is die grootste, mees omvattende en mees gesogte nasionale toekennings van hul soort, en vier uitstaande bydraes tot wetenskap, ingenieurswese, tegnologie en innovasie.

 

Die beskermvrou van hierdie unieke toekennings is die Minister van Wetenskap en Tegnologie, me Naledi Pandor.

 

Die tema vir vanjaar was “Peulvrugte”. Dit verwys na die 2016 Internasionale Jaar van Peulvrugte soos verklaar deur die Verenigde Nasies. Die tema is vir bewusmaking van gesondheid, voeding en omgewingsvolhoubaarheid ter versekering van voedselsekuriteit en nuwe innovasies.

 

 

Die NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto’s of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Klik

deel

<

>

Navigasie

volgende artikel

vorige artikel

klank

video

Meer inligting

NWU & U  |