X

Nuus

 


Ter nagedagtenis aan 'n gerespekteerde sosioloog

 

Prof Freek Cronjé, voormalige direkteur van die Normeringsentrum vir Korporatiewe Maatskaplike Verantwoordelikheid (KMV), het 'n roemryke loopbaan gehad, waarvan die hoogtepunt die stigting van die sentrum was.

 

Die sentrum is in samewerking met die Bench Marks Foundation – 'n internasionale geloofsgebaseerde nieregeringsorganisasie (NRO) – tot stand gebring.

 

Onder sy leiding het die sentrum deelgeneem aan baanbrekersnavorsing wat in Suid-Afrika en op die kontinent oor beleidsgapings gedoen is.

 

Hy het op die jeugdige ouderdom van 28 sy doktorsgraad in sosiologie verwerf en plaaslik en internasionaal lesings in sosiologie en migrasiestudies aangebied.

 

Freek is in 2016 tot vol professor bevorder. Hy was ook adjunkvoorsitter en later voorsitter van die Suid-Afrikaanse Sosiologiese Vereniging en het gereeld gereis, veral na Indië, Rusland en Brasilië.

 

Sentrum fokus op korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid

Die Normeringsentrum vir Korporatiewe Maatskaplike Verantwoordelikheid (KMV) speel 'n deurslaggewende rol in volhoubare ontwikkeling deur verskeie navorsings- en gemeenskapsbetrokkenheidsprojekte te bedryf.

 Die sentrum is hoofsaaklik betrokke by navorsing in die mynbousektor, hoewel hulle ook al navorsing in die finansiële en kleinhandelsektor gedoen het en nie noodwendig navorsing in ander sektore uitsluit nie. Hierdie navorsing kan geweldig waardevol wees vir maatskappye wat hul KMV-beleide en -praktyke wil evalueer en verbeter.

 

Die sentrum is in die Sosiale Transformasie-fokusarea van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte gesetel en is die breinkind van wyle prof Freek Cronjé, die sentrum se eerste direkteur.

 

Sedert die deure vroeg in 2012 oopgemaak het, het hulle al menige opwindende projekte aangepak wat nie net navorsing en opleiding in die veld van KMV versterk nie, maar ook die klem op relevante en doeltreffende gemeenskapsbetrokkenheid plaas.

 

“Die Normeringsentrum is veral instrumenteel in plaaslike en internasionale bewusmaking van die omstandighede waarin myngemeenskappe hulle met betrekking tot mynboubedrywighede bevind,” sê Suzanne Reyneke, navorser.

 

Die nagraadse programme is belangrike komponente van die sentrum se akademiese aktiwiteite, wat 'n unieke meesters- en doktorale program insluit. Beide kwalifikasies is in ontwikkelingstudies met 'n KMV-kurrikulum. Die sentrum bied ook drie geakkrediteerde KMV-kortkursusse aan.

 

Die postdoktorale genoot, dr Ignatius Mariyadoss, sê die sentrum is bekend vir sy kundigheid. “Ek het by die sentrum betrokke geraak toe ek op die internet na KMV-kundiges gesoek het. Die Normeringsentrum vir KMV en prof Freek Cronjé was die eerste trefslae.”

 

Die projekte

 

Huidige navorsingsprojekte van die sentrum sluit in 'n Soweto-gesondheidsprojek, 'n evaluering van die Extractive Industries Transparency Initiative (EITI), en 'n inkomstedelingsprojek in die mynbousektor.

 

Die Soweto-gesondheidsprojek ondersoek die omstandighede van mense wat naby werkende of verlate myne woon. Die projek kyk ook na swak bestuurde mynboubedrywighede of myne in die Soweto-area wat wederregtelik verlaat is.

 

Die Normeringsentrum is besig met 'n kritiese evaluering van die EITI as deel van 'n ander projek. Die EITI is 'n vrywillige inisiatief met baie belanghebbers wat op die ekstraktiewe bedryf fokus, en sodoende die regering, industrie en burgerlike gemeenskap bymekaar bring.

 

Die nuutste projek gaan oor inkomstedeling in die Suid-Afrikaanse mynboukonteks en word deur die Open Society Foundation of South Africa befonds. Die doelwit van die projek is om die imperatief van inkomstedeling te definieer.

 

Inkomstedelingsinisiatiewe wat deur wetgewing afgedwing of geïmpliseer word, word noukeurig ondersoek. Die doel hiervan is om, met inagneming van internasionale beste praktyke, funksionele, lewensvatbare, volhoubare inkomstedelingsmodelle vir die Suid-Afrikaanse mynboubedryf aan te beveel.

 

Die toekoms blink

 

“Die sentrum het goed gevestigde verhoudings met die ander BRICS-lande (Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika) en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG),” sê prof Eddie Bain, senior navorser. “Ons het internasionale studente in ons M- en D-programme. Ons hoop dat hierdie internasionale verhoudings selfs verder sal uitbrei.”

 

Christine Knoetze, administratiewe beampte, sê die toekoms lyk rooskleurig en die sentrum se navorsingsplatform en meesters- en doktorale programme hou aan groei. Hulle sal ook voortgaan om geaffekteerde gemeenskappe deur hul navorsing te bereik.

 

Hoe alumni betrokke kan raak

 

Die sentrum maak staat op befondsing vir hul projekte en navorsing, en dit is waar alumni 'n rol kan speel. “Alumni kan projekte identifiseer en befonds en ons sal die navorsing namens hulle doen,” sê Eddie.

 

Suzanne sê die sentrum raadpleeg ook kundiges uit ander dissiplines en velde wanneer hulle aan projekte of akademiese publikasies werk. Vir meer inligting skakel Christine Knoetze, administratiewe beampte, by
018 285 2561.

 

Die NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto’s of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Klik

deel

<

>

Navigasie

volgende artikel

vorige artikel

klank

video

Meer inligting

  • Wat is KMV?

    KMV gaan daaroor dat maatskappye nie net verantwoordelik is vir die maksimalisering van winste nie, maar ook vir die erkenning van die behoeftes van belanghebbers soos werknemers, kliënte, demografiese groepe en selfs die areas wat hulle bedien.

     

    Bron: PricewaterhouseCoopers, www.pwcglobal.com In: Blowfield Michael & Murray Allen. 2014. Korporatiewe verantwoordelikheid. Oxford University Press: Oxford.

  • Wat is inkomstedeling?

    Inkomstedeling is die verdeling van winste en verliese onder belanghebbers, wat algemene vennote (en beperkte vennote in beperkte vennootskappe), 'n maatskappy se werknemers, of maatskappye in 'n besigheidsalliansie kan insluit.

     

    Bron: Wikipedia

     

    Inkomstedeling kan ook die verdeling van bedryfswinste en -verliese tussen die algemene vennoot en beperkte vennote in 'n beperkte vennootskap wees. Dit kom ook voor as bedryfswinsverdeling met maatskappywerknemers, of die verdeling van inkomste wat deur twee maatskappye in 'n alliansie verdien word.

     

    Bron

     

  • Meer oor die ekstraktiewe bedryf

    Die ekstraktiewe bedryf bestaan uit enige bedrywighede wat metale en minerale uit die aarde onttrek. Voorbeelde van sulke prosesse sluit in olie- en gasekstraksie, ontginning, baggering (“dredging”) en groefmynbou.

     

    Bron

     

Die normeringsentrum is deel van die Vaaldriehoekkampus se multidissiplinêre Bekkersdal-projek. Dié projek kyk vanuit verskillende perspektiewe en akademiese dissiplines na die gesondheid en welstand van die Bekkersdal-gemeenskap naby Westonarea.

 

NWU & U  |