X

Nuus

Prof Mariëtte Lowes is ʼn gekwalifiseerde en geregistreerde etiekbeampte verbonde aan die Etiekinstituut van Suid-Afrika. “Ek moes ʼn drie maande lange projek voltooi om te registreer, en het gekies om dit by Bone SA te doen. Dit was wonderlik om te sien hoe totaal eties gedrewe hulle is. Hulle het ʼn indrukwekkende gedragskode wat gevolg word wanneer daar met pasiënte, skenkers en dokters gewerk word.”

Wat is weefsel?

 

Weefsel sluit horingvlies, been en tendons, vel en hartkleppe in. Die skenking van weefsel word deur ʼn weefselbank gefasiliteer.

 

Dit verskil van orgaanskenking, wat deur lewende skenkers geskenk kan word, aangesien hierdie weefsel ná kardiale dood herwin word, gewoonlik tussen 12 ure en vyf dae na afsterwe. In geval van onnatuurlike dood vind die herwinning van die weefsel eers plaas as die nadoodse ondersoek afgehandel is.

 

Hier is sommige van die maniere waarop geskenkte weefsel gebruik word:

 

  • Weefselskenking maak veloorplantings moontlik vir pasiënte met erge brandwonde.

 

  • Geskenkte horingvliese voorkom of korrigeer blindheid.

 

  • Geskenkte hartkleppe help om hartdefekte of -skade te herstel.

 

  • Kraakbeen- en tendonoorplantings help om funksie te herstel by mense wat andersins onbeweeglik of gestremd sou wees, en word gebruik om ʼn wye verskeidenheid mediese toestande te behandel.

 

Beenskenkings
verander lewens

Been- en weefselskenkings is kosbare geskenke wat lewensveranderend kan wees vir pasiënte wat menslike weefsel nodig het as gevolg van ʼn besering of siekte.

Prof Mariëtte Lowes, ʼn konsultant in onderrig en leer, sê vandat sy deel geword het van Bone SA het sy al baie aangrypende en inspirerende suksesverhale beleef waar skenkers ander mense se lyding verlig het en hul lewenskwaliteit verbeter het.

 

Mariëtte, wat van 2006 tot die einde van 2014 die Potchefstroomkampus se viserektor vir onderrig en leer was, werk nou deeltyds in die kantoor van prof Martin Oosthuizen, die adjunkvisekanselier vir onderrig en leer in die Institusionele Kantoor.

 

Sy is ook lid van die NWU se reëlingskomitee vir die transformasie van onderrig en leer en projekleier vir die HOKSR-kwalifikasiebelyningsprojek. Daarbenewens bestuur sy die Onderrigontwikkeling-, nGap- en Grondslagtoekenning.

 

Aktiewe betrokkenheid by Bone SA

 

Mariëtte, wat ook ʼn gekwalifiseerde apteker is, dien reeds sedert 2006 op Bone SA se raad en is tans die voorsitter van die direksie. Sy spandeer ten minste twee dae per week by Bone SA se hoofkwartiere in Johannesburg.

 

Opgewonde oor navorsing

 

Haar werk by Bone SA het die behoefte geïdentifiseer aan meer navorsing en ontwikkeling met betrekking tot maniere om die doeltreffendheid van been- en weefselprosedures te verbeter.

 

“Bone SA, saam met die NWU se Fakulteit Ingenieurswese en die Fakulteit Gesondheidswetenskappe op die Potchefstroomkampus, het aansoek gedoen vir befondsing van die Departement van Handel en Nywerheid vir ʼn Program vir Tegnologie en Mensehulpbronne vir die Nywerheid- (THRIP-) projek. Ons glo dat hierdie voorgestelde driejaarprojek naby goedkeuring is.”

“Die projek behels die ekstrusie van verpoeierde been en weefsel om sagte, poreuse been uit groter menslike bene te skep waarvoor daar nie dieselfde gereelde aanvraag bestaan as vir die kleiner bene nie.”

 

“Hierdie projek bied verskeie moontlikhede om te verseker dat die kosbare menslike materiaal wat beskikbaar raak, nie vermors word nie.”

 

Ander navorsingsprojekte wat nou resultate oplewer sluit in die aanpassing van menslike been vir ortopediese chirurgie deur, onder meer, die vermenging van been met kollageen sodat dit makliker ingespuit kan word. Dit is veral belangrik vir gesigtoepassings waar pasgemaakte bene en weefsel dikwels nodig is.

 

Waarom betrokke raak?

 

Mariëtte sê dit is baie belangrik om bewustheid oor Bone SA te skep. “Ons benodig skenkers; mense moet weet dat daar ʼn behoefte is en dat hulle iets daaraan kan doen. Sonder skenkers kan been en vel nie beskikbaar gestel word aan pasiënte wat dit nodig het nie.”

 

Elkeen is ʼn potensiële skenker, maar weefsel word gewoonlik herwin van mense tussen 15 en 80 jaar oud. Wanneer jong kinders sterf, mag hul ouers besluit om hul horingvliese en hartkleppe te skenk.

“Ek is baie trots op die manier waarop Bone SA besigheid bedryf.”

 

“Die hele proses is sterk eties gedrewe weens die aard van die besigheid en die produk. Bone SA is ʼn maatskappy sonder winsoogmerk en funksioneer dus op hierdie grondslag.

 

Skenkers kan nie menslike weefsel verkoop nie. Die produk kan egter aan pasiënte verkoop word om die koste van verkryging, vervaardiging, bemarking en verspreiding te verhaal.

 

“Dit is ʼn verdienstelike saak wat ʼn massiewe impak op die lewensgehalte van baie mense het. Daar is niks meer besielend as om te hoor hoe mense se lewens verander word deur onselfsugtige skenkings van menslike weefsel nie.”

 

Vir verdere inligting oor Bone SA, besoek gerus hul webwerf of skakel 011 440 3888.

 

 

Die NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto’s of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Klik

deel

<

>

Navigasie

volgende artikel

vorige artikel

klank

video

Meer inligting

Meer oor Bone SA

 

Bone SA is in 1994 geregistreer as ʼn maatskappy sonder winsoogmerk. Dit werk nou saam met die Tshwane Universiteit van Tegnologie se Sentrum vir Weefselingenieurswese, wie se primêre taak is om skenkings van menslike weefsel te verkry.

 

NWU & U  |