X

Olivier het sy prysgeld van die Mnr NWU-Vaaldriehoekkampus-kompetisie gebruik om sy klere-onderneming, Black Sheep, 'n hupstoot te gee.

In die gees van entrepreneurskap

 

As 'n entrepreneur in murg en been het Olivier vinnig opgemerk as daar leemtes in die studentelewe op die Vaaldriehoekkampus was, en dit gevul.

 

“Ek het die Young Entrepreneurs Business Organisation (YEBO) gestig en was die eerste voorsitter. Ek het ook twee radioprogramme op River FM (die kampusradiostasie) begin om die entrepreneursgees te help bevorder,” sê hy.

 

Een radio-hoogtepunt wat Olivier altyd sal bybly, was die kampus se heel eerste internasionale onderhoud. Dr Susan Amat, stigter van die VentureHive Incubator in die VSA, het regstreeks vanaf Miami, Florida, met studente van die Vaaldriehoekkampus gesels.

 

Olivier was ook 'n entoesiastiese ondersteuner van die kampus se Ondernemingsontwikkeling-sentrum (OOS) en het hul eerste besigheidskompetisie gewen – en dit ten spyte van ernstige beserings wat hy ses dae voor die finale rondte in 'n motorongeluk opgedoen het.

 

“Ses dae nadat ek Mnr SA Kampus gewen het, is ek in die hospitaal opgeneem nadat ek my regterarm in 'n motorongeluk gebreek het. My arm is met 'n metaalplaat en sewe skroewe geheg, waarna dit met 40 steke toegewerk is.

 

In die hospitaal moes ek my linkerarm leer gebruik sodat ek my finale voorlegging kon opstel en ek het met die dokter onderhandel om my betyds te ontslaan vir my finale aanbieding by die OOS,” vertel hy. “Toe ek wen was ek so oorstelp dat ek in trane uitgebars het.”

 

PROFIeLE

Aandag alle

swartskape!

Swartskape van die wêreld, staan saam! Terwyl sommiges op ons swartskape neersien omdat ons anders is, wil Vaaldriehoekkampus-alumnus, Olivier Tshimbidi, juis hê ons moet met trots saamstaan – en hy stap rondebors heel voor.

Hoewel Black Sheep die naam van 'n klere-onderneming is wat Olivier as student begin het, is dit eintlik sóveel meer. “Dis 'n ideologie, 'n lewenswyse wat ek wou vestig. Ek wou mense wys hoe ons verskille ons bymekaar kan bring en hoe ons in werklikheid nie soveel van mekaar verskil nie.”

 

Een van die faktore wat tot hierdie denkwyse gelei het, was die vlaag xenofobiese aanvalle wat Suid-Afrika in 2008 getref het. Olivier kom oorspronklik van die Demokratiese Republiek van die Kongo en het op sesjarige ouderdom in Suid-Afrika aangekom.

 

As student was hy so vasberade om sy Black Sheep-gemeenskap van stapel te stuur, dat hy 'n berekende sakebesluit geneem het: om in te skryf vir die 2012/2013 Mnr en Mej Oryx en Acacia-kompetisie wat deur dié koshuise aangebied is.

Nadat hy die titel van Mnr Oryx gewen het, het Olivier vir die 2012/2013 Mnr NWU-Vaaldriehoekkampus-kompetisie ingeskryf – en gewen.

 

Sy volgende mikpunt was die Mnr SA Kampus-kompetisie, waar hy teen die wenners van elke ander universiteitskampuskompetisie in die land meegeding het, Mnr NWU-Potchefstroomkampus inkluis.

 

Olivier het die Mnr SA Kampus-titel ook losgeslaan, saam met Mudinda Denga van die Universiteit van Pretoria wat die vroulike titel verower het.

 

Die geldsake agter die kompetisie

 

“Dit was alles deel van 'n sakeplan. Die eerste prys in die Mnr NWU-Vaaldriehoekkampus-kompetisie was R10 000 kontant. Ek het kapitaal vir my onderneming nodig gehad en het die platform gebruik om my eie persoonlike handelsnaam te vestig. Ek was baie gelukkig om te wen,” sê Olivier, wie se voorkoms nie al is wat in sy guns tel nie.

 

Op daardie stadium was hy besig om sy BCom in sakebestuur, entrepreneurskap en bemarking (met vyf onderskeidings in sy finale jaar) te voltooi. Hy het met sy honneursgraad voortgegaan en dit met drie onderskeidings behaal.

 

R10 000 later het hy sy prysgeld in sy klere-onderneming – natuurlik met die naam Black Sheep – teruggeploeg. “Ek het die geld vir ontwerpkonsepte en vervaardiging – wat baie duur is – aangewend, en myself leer ontwerp. Ek het ook met behulp van 'n 13-jarige meisietjie op YouTube geleer hoe om Photoshop en Corel Draw te gebruik.”

 

Behalwe vir sy studies en nuwe onderneming, was Olivier 'n aktiewe lid van die kampus se Verteenwoordigende Studenteraad (VSR), vanwaar hy 'n organisasie vir studentevermaak op die kampus gevestig het. Hy het ook die projekte- en sportportefeulje van die Institusionele VSR beklee.

 

Beste van twee wêrelde

 

Terwyl hy in 2014 met sy honneurs besig was, het Olivier besluit dat hy 'n loopbaan wou hê wat die beste van beide wêrelde sou bied: entrepreneurskap en die korporatiewe ervaring.

Om sy entrepreneursgees te bevredig, het Olivier by sy mede-alumnus, Mike Lysko – wat pas 'n nuwe tegnologie-onderneming, App Your Event, gestig het – aangesluit.

 

Hierdie sagtewaremaatskappy spesialiseer in registrasiesagteware vir korporatiewe funksies, mobiele toepassings, en regstreekse meningspeilings. Vandag is Facebook, MTN, Oracle en Sage Pastel almal kliënte van App Your Event.

 

Om korporatiewe ondervinding op te doen, het Olivier tydens sy honneurseksamen as 'n raadgewende medekonsultant by Ernst & Young in Sandton aangesluit. Hy is nou 'n raadgewende medekonsultant vir die olie- en gassektor by Ernst & Young in Kaapstad.

 

Hy is steeds nou betrokke by die NWU, veral die Vaaldriehoekkampus, en beoordeel koshuis- en kampuskompetisies, sowel as kompetisies waar nuwe sakeondernemings voorgelê word. Hy tree ook as mentor op vir voorgraadse studente wat aan besigheidsprojekte werk, en vir honneurs-ekonomiestudente wat met hul finale voordragte besig is.

 

Black Sheep het egter nie heeltemal agterweë gebly nie. Hoewel Oliver se klere-onderneming vir eers op ys is terwyl hy al sy opsies oorweeg, leef hy daagliks die Black Sheep-ideologie uit.

 

“Dis 'n lewenswyse. Dit behels 'n onbevooroordeelde sienswyse, gun mense die ruimte om hulself uit te druk en hanteer almal met dieselfde mate van respek – maak nie saak wat jy doen of waar jy vandaan kom nie. Per slot van rekening is ons ook nie só verskillend van mekaar nie.”

Oliver (derde van links) het die 2012 Mnr SA Kampus-titel gewen nadat hy teen die wenners van ander universiteite in die land meegeding het, onder meer ook Mnr NWU Potchefstroomkampus, Michael Adamson (heel links).

 

 

Die NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto’s of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Klik

deel

<

>

Navigasie

volgende artikel

vorige artikel

klank

video

Meer inligting

Olivier saam met een van sy voormalige dosente, Natanya Meyer. “As een van my beste etiekstudente, het Oliver homself oortref wat die akademie betref, en het hy een van sy modules met ʼn gemiddeld van 89,4% geslaag,” sê Natanya. “Hy was ook my studente-assistent en ʼn groepleier vir aanvullende onderrig. Met sy sjarme en volwassenheid het hy werklik ʼn wonderlike invloed gehad op die studente wat hy gehelp het. Daarby het hy ook as veldwerker opgetree terwyl hy my met my navorsing bygestaan het.”

NWU & U  |