X

REDAKSIONEEL

Skryf gerus en vertel ons waar in die wêreld julle jul bevind en hoe dit met jul loopbane gaan, of skryf sommer oor ditjies en datjies wat julle na aan die hart lê.

 

Stuur julle briewe na nelia.engelbrecht@nwu.ac.za, faks dit na 086 614 3222 of pos dit aan Nelia Engelbrecht, Institusionele Kantoor, Noordwes-Universiteit, Privaat Sak X1290, Potchefstroom, 2520.

 

ONS HOOR GRAAG VAN JULLE!

Alumna Gloria Cilliers en manlief Charl bly in Toronto in Kanada. Gloria het haar meestersgraad in kommunikasiestudies in 2013 op die NWU se kampus in Potchefstroom verwerf. Sy het ook van 2009 tot 2011 as kommunikasiebeampte by die NWU gewerk.

Dit kom van ver af

Liewe mede-alumni,

 

Ek en my man, Charl, het in 2014 besluit om ’n nuwe uitdaging aan te pak, ’n nuwe toekoms vir onsself te skep, en nader aan familie te trek. My broer, Pierre van der Westhuizen (ook ’n NWU-almumnus) woon in Ohio, VSA, en my skoonsuster, Millanie de Klerk, in Florida, VSA. Toronto in Kanada was ons eerste keuse.

 

Die proses het sowat 18 maande geneem om permanente inwoner-status te kry. In Februarie 2015 het ons gehoor ons aansoek was suksesvol. Ons het sommer dadelik ons huis in die mark gesit en alles verkoop en vyf maande later, in Julie, elk met twee tasse en ’n eenrigting-kaartjie na ons nuwe avontuur in Toronto gevlieg!

 

Vandag is ek die redakteur van ’n saketydskrif, Canadian Insurance Top Broker, hier in Toronto. Charl, ’n sagteware-ontwikkelaar, werk steeds vir die Suid-Afrikaanse versekeringsfirma, BrightRock, vanaf sy tuiskantoor.

 

Die kantoorkultuur in Kanada is nogal ’n heel anderste ondervinding.

Amper die helfte van Toronto se bevolking is immigrante, so mens werk met verskeie mense van allerhande lande en kulture en meestal is daar ’n gevoel van begrip en aanvaarding vir kollegas van verskillende agtergronde. Maar partykeer moet jy jouself herinner dat Suid-Afrikaanse humor baie uniek is! Kanadese is baie beleefd en polities-korrek – dié stereotipe is waar.

 

Ons bly in skilderagtige Oakville, Ontario – sowat 45 minute per trein vanaf Toronto. Ek voel nog elke dag asof ek in ’n fliek speel wanneer ek soggens die trein invat stad toe.

 

Die somers hier is, glo dit of nie, bitter warm (hoog in die dertigs grade-gewys), en so feestelik. Die son sak eers ná 21:00 en oral speel kinders nog in parke, of paartjies loop hand-aan-hand die strate van Toronto se middestad plat na een of ander partytjie of kosfees.

 

Dorpe baken strate af vir feeste, en dan is dit gepak met feesgangers en kosstalletjies en karnivalspeletjies – net soos in die flieks. Jy sit in die opelug en kyk ou flieks saam met ander dorpsmense, of gaan luister na ʼn orkes onder die sterre in die plaaslike park.

 

Herfs is sover ons gunstelingseisoen – daar is oral rooi, oranje, geel en bruin, en daar’s pampoenfeeste, “pumpkin pie” en “pumpkin-spiced lattes” waar jy kyk. Die winter is koud ja, maar afhangende van waar in Kanada jy woon, is dit nie so erg soos Suid-Afrikaners dink nie. In Toronto sneeu dit nie so erg nie – net genoeg om lekker te gaan ski en ysskaats op ʼn gevriesde meer.

 

Die moeilikste deel van emigrasie is om jou mense agter te laat.

Suid-Afrika bly ’n pragtige land, maar dis sy mense wat hom uniek en misbaar maak.

 

Hier’s gelukkig heelwat Suid-Afrikaners wat in Oakville bly (en ’n Suid-Afrikaanse winkel met biltong en Ouma-beskuit), en ons het ’n groepie gevorm wat gereeld kuier om ons Suid-Afrikaanse tradisies (en kos!) te vier.

 

Terselfdertyd omhels ons ons nuwe tuisland en alles wat sy vir ons bied – ons voel waarlik geseënd om in ’n sprokiemooi, veilige, eerstewêreldland te kan bly. Dis ’n voorreg en avontuur!

 

Vriendelike groete,

 

Gloria Cilliers

 

 

 

DIE NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

 

KLIK

DEEL

<

>

Navigasie

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

VIDEO

MEER INLIGTING

“Wat my opgeval het, is die Kanadese se sterk sin van gemeenskap – dis ’n samelewing wat vrywilligerswerk hoog ag. Dit word aangemoedig in elke werkplek en matrikulante kan nie hoërskool slaag as hulle nie ’n sekere aantal ure vrywilligerswerk agter die rug het nie. Dit sê baie van ’n land.”

 

NWU & U  |

NWU & U  |