X

nUUs

Dr Mzubanzi Bismark Tyobeka is die NWU-raad se nuwe voorsitter.

Laat die vlag wapper

 

In sy aanvaardingstoespraak het Bismark die Raad bedank vir die geleentheid om die NWU en sy gemeenskappe te dien en vir die vertroue wat in hom gestel is.

 

Hy verbind homself daartoe om voort te bou op die uitstekende werk en momentum van sy voorgangers.

 

“Ek neem die leisels as Raadsvoorsitter oor in ʼn baie belangrike stadium vir die universiteit. Die reusetaak van die Drievoudige ‘S’ – Strategie, Struktuur en Statuut – is onder leiding van adv Johan Kruger suksesvol voltooi. Ek lig my hoed vir my Raadskollegas en vir bestuur vir ʼn taak goed afgehandel.

 

“Die implementeringsfase volg nou. Dit is my standpunt en voorneme dat hierdie fase onder die waaksame oog van die Raad en sy subkomitees voltooi sal word, om te verseker dat alle belanghebbers aan boord geneem word. Geluk ook aan bestuur wat seker gemaak het dat die herstrukturering die minimum impak op personeel het wat werksverliese betref.

 

“Die era van ʼn werklik unitêre NWU het aangebreek en dit is my visie dat die NWU sy plek as een verenigde universiteit in die boonste geledere van die akademiese rangorde in die land en internasionaal moet inneem.

 

“Ek sien uit daarna om die pad saam met die NWU te loop – saam sal ons hierdie instelling se vlag hoog laat wapper,” sê hy.

 

Bismark neem Raad se 
leisels oor

Dr Mzubanzi Bismark Tyobeka, een van die voorste kernkragkundiges in die wêreld, is die nuwe voorsitter van die NWU-raad.

Bismark is tydens die Raadsvergadering op 16 Maart 2017 as die nuwe voorsitter aangewys en sal die Raad vir die volgende drie jaar lei. Dit volg ná die verstryking van die vorige voorsitter, adv Johan Kruger SC, se ampstermyn aan die einde van Maart 2017 – Johan het homself nie vir herverkiesing beskikbaar gestel nie.

 

Bismark, wat as die vyfde voorsitter van die NWU-raad verkies is, is sedert November 2014 lid van die Raad.

 

Hierdie trotse NWU-alumnus beklee sedert 2013 die pos as hoof uitvoerende beampte van die Nasionale Kernreguleerder van Suid-Afrika (NNRSA).Sy kundigheid lê in kernkrag

 

Bismark speel ʼn belangrike rol in verskeie inisiatiewe van die Internasionale Atoomenergieagentskap (IAEA). Hy dien tans onder meer op die IAEA se Internasionale Advieskomitee vir Kernveiligheid, as adjunkvoorsitter van die Internasionale Kernregulatoriese Samewerkingsforum en adjunkvoorsitter vir die Forum vir Kernregulatoriese Liggame in Afrika.

 

Voor hy as hoof uitvoerende beampte van die NNRSA aangewys is, het hy vir ongeveer vyf jaar as kerningenieur by die IAEA in Oostenryk gewerk. In die vyf jaar voor dit was hy ʼn senior reaktorfisikus aan die Penn State University, en vanaf 2000 het hy vir twee jaar dieselfde pos by Eskom beklee.

 

Hy ryg kwalifikasies in

 

Ten spyte van sy internasionale prominensie, het Bismark nie sy wortels vergeet nie en hou hy kontak met baie alumni wat nou in die kernkragindustrie in Suid-Afrika werk.

 

Hy het die grade BScEd (1999) en MSc (2001) aan die voormalige Universiteit van Noordwes en in 2004 nog ʼn meestersgraad in Kerningenieurswese aan die Penn State University in die VSA verwerf.

 

In 2005 het hy ʼn meestersgraad in projekbestuur aan die Colorado Technical University in die VSA verwerf en in 2007 sy PhD in kerningenieurswese ook van die Penn State University ontvang.

 

Bismark is in 2013 met ʼn NWU-alumnitoekenning vir Uitnemendheid vir sy persoonlike en loopbaanprestasies vereer, veral vir sy reusebydrae tot die kernwetenskap regoor die wêreld.

 

 

DIE NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

 

KLIK

DEEL

<

>

Navigasie

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

VIDEO

MEER INLIGTING

Adv Johan Kruger SC is die uittredende voorsitter van die NWU-raad.

Uittredende voorsitter salueer NWU

 

Adv Johan Kruger het sedert November 2014 as voorsitter van die NWU-raad gedien, en het die NWU deur moeilike tye gelei.

 

“Die NWU se nuwe strategie en herstruktureringsproses was ʼn ingewikkelde en sensitiewe saak, maar my termyn as voorsitter was sekerlik een van die mees verrykende ervarings van my lewe,” sê hy.

 

“Die gehalte van die mense saam met wie ek gewerk en gedien het, gee my hoop vir die toekoms van ons land en ons instelling. Dit geld vir alle betrokkenes: Raadslede, bestuur (institusioneel en kampusse), en ook die akademiese en ondersteuningspersoneel. Ek het die voorreg gehad om formeel en informeel met 'n wye verskeidenheid personeellede en studente te handel. Ek sal dit altyd koester. NWU, ek salueer julle – julle het my taak makliker gemaak.”

 

NWU & U  |

NWU & U  |