X

REDAKSIONEEL

Prof Dan Kgwadi

Boodskap van die

visekanselier

Geagte alumnus,

 

Dit is ’n deurslaggewende jaar vir die Noordwes-Universiteit. Ons implementeer ’n nuwe struktuur terwyl ons met ons normale besigheid van gehalte-onderrig, navorsing en gemeenskapsbetrokkenheid voortgaan.

 

In hierdie uitgawe leer jy meer oor die nuwe Statuut en die pasverkose voorsitter van die Raad, ’n klompie briljante prestasies en ’n aantal baie praktiese aktiwiteite, wat alles bewyse is van hoe ons inderdaad ’n universiteit in beweging is.

 

Terwyl ons reis op talle fronte aan die gang is, geniet ek dit veral om oor die NWU se verbintenis tot maatskaplike geregtigheid te lees.

 

Dit vind op verskillende maniere plaas, soos in hierdie publikasie berig word.Vir party mense is die konsep “maatskaplike geregtigheid” onbekend, of selfs vreemd, maar dit lê aan die hart van ons nuwe strategie. Ons wil ’n universiteit wees waar maatskaplike geregtigheid bepaal wie ons is en wat ons doen.

 

Talle dimensies van hierdie konsep kan geïdentifiseer en uitgelig word, maar kom ons fokus op wat dit in ’n universiteitskonteks beteken. Meer nog, wat dit vir die NWU beteken.

 

Wat van belang is, is dat ons toewyding aan maatskaplike geregtigheid al die personeel, studente en eksterne belanghebbers moet insluit. Dit beteken dat alle opinies en bydraes belangrik is en dat mense met respek behandel moet word.

 

’n Goeie beginpunt is om daarop te let dat ons verbind is om in alles wat ons doen eties op te tree.

 

Wat beteken dit in die praktyk? Hier is ’n paar voorbeelde:

 

  • Ons moet toeganklik wees vir almal wat akademies kwalifiseer. Die geleentheid om te studeer, moet deur akademiese prestasie verdien word, maar ons moet bewus wees van ons plig om die toegang te verbeter vir diegene wat as gevolg van ongeregtigheid in die verlede nie by die universiteit kon studeer nie.

 

  • Ons ondersteun studente finansieel met beurse en lenings so ver as wat dit prakties uitvoerbaar is.

 

  • Akademies is ons daartoe verbind om aan die studente wat ons tot ons universiteit toelaat die ondersteuningstelsels te verskaf wat hulle in staat sal stel om sukses te behaal.

 

  • Ons moet inklusief wees, wat beteken dat ons diversiteit aanvaar. Elke student, van watter ras, taal, geloof of seksuele oriëntasie ook al, moet op elkeen van ons kampusse welkom en veilig voel.

 

Elke student moet vry voel om voluit aan alle aktiwiteite in die lesingsale, op die kampus en in die studentekoshuise deel te neem.

 

Dit beteken dat die heersende kultuur nooit nuwelinge en diegene wat nie rolmodelle het om na te volg nie, (byvoorbeeld familielede wat reeds studeer het), moet uitsluit nie. Ons moet hulle eerder aktief insluit.

 

Dosente moet studente wat in die minderheid is (wie se profiel van kampus tot kampus sal wissel) aktief by die gesprekke insluit. Dosente uit minderheidsgroepe (wat ook van kampus tot kampus sal wissel) moet aktief by die hoofstroom van die fakulteitslewe, besprekings en besluitneming ingesluit word.

 

Hulle moet ervaar dat die NWU vir hulle ’n verwelkomende en bevorderlike omgewing gun waar hulle gewaardeerd voel.

 

Ek glo dit is die soort universiteit wat julle wil hê ons moet wees en wat julle sal voortgaan om te ondersteun.

 

Vriendelike groete,

Prof Dan Kgwadi

Visekanselier

 

DIE NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

 

KLIK

DEEL

<

>

Navigasie

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

VIDEO

MEER INLIGTING

NWU & U  |

NWU & U  |