X

PROFIELE

Hannetjie Joubert kén van klits, klop, meng, skei, strooi en sif en is op haar gelukkigste as sy kampioenkos in die kombuis kan optower.

Hannetjie sê só kook mens

“Ek spot altyd en sê ek is gebore om te kook – ek kook letterlik vandat ek twee jaar oud was, op ʼn Coke-kassie langs my ma.”

So sê die bobaaschef, skrywer van resepteboeke en NWU-alumna, Hannetjie Joubert.

 

Sy vertel die houtkassie is onder die tafel gebêre, want die volgende keer as haar ma weer kosgemaak het, was sy weer op die kassie langs haar.

 

“My pa het altyd gesê ek gaan brand en dat ek mors, maar my ma het dit toegelaat. Ek is haar steeds dankbaar daarvoor, maar wanneer ek vir my pa iets gevat het om te proe, het hy altyd gesê dis lekker.

 

“Ná 40 jaar stel ek steeds intens in kookkuns belang en kan ek nie genoeg daarvan kry of nog leer nie. So iets groots is net ʼn gawe van bo ek dank Hom vir hierdie Godgegewe talent.

 

“Ek is en sál altyd ʼn ‘foodie’ in my hart wees, want dit is wie ek is.”Die drie resepteboeke wat Hannetjie op die rakke het, weerspieël haar toewyding, passie en liefde vir kook. Dit is Braaitreffers, Bottel en gebruik en Só kook mens.

 

Kleinbegin is groot gewin

 

Sy het in 1970 as koshuiskind aan Potchefstroom Gimnasium gematrikuleer en toe van 1971 tot 1974 huishoudkunde aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys studeer. Daarna het sy aan die Cordon Bleu-kookskool in Johannesburg studeer, waar sy die gevorderde kursus voltooi het.

 

Hannetjie het daarna vir 10 jaar vir Woolworths gewerk en was ook vir 10 jaar ʼn tegniese bestuurder by Pick ʼn Pay se hoofkantoor in Johannesburg waar sy produkontwikkeling saam met hulle kosfabrieke dwarsoor die land gedoen het. Sy het hand-aan-hand saam met ʼn Londen-gebaseerde konsultasiefirma gewerk wat ook vir Marks en Spenser gekonsulteer het.

 

Bobaasbraaier is tops

 

In 1982 was Hannetjie en haar ma die eerste en enigste vroue om Suid-Afrika se braaikampioene van die gesogte Kellerprinz-braaikompetisie te word. “Dit het ons in kleur op die voorblad van Rapport laat beland.”

 

Haar volgende uitdaging was ook ʼn buitelug-braaikompetisie – die Tuis-met-mielies-en-vleis-kompetisie van die Mielie- en Vleisraad. Hannetjie het ʼn tweede plek en die volgende jaar ʼn eerste plek in dié kompetisie losgeslaan.

 

“As gevolg van hierdie kompetisies bied ek tot vandag nog braaiklasse vir mans aan. Nodeloos om te sê gaan my resepteboek, Braaitreffers, juis oor hierdie kennis en ondervinding.”

 

Maak ʼn verskil

 

“Ek doen nog steeds kookopleiding. My fokus het bietjie geskuif in dié opsig dat ek, behalwe my gewone opleiding, ook soveel as moontlik huishulpe wil oplei, en ook vroue in plakkerskampe. Ek glo in die gesegde, ‘teach somebody and change a life forever’.”

 

Hannetjie sê sy geniet dit tans ook baie om konsultasiewerk vir ondernemings te doen. “Daarmee kan ek al my jarelange ondervinding saamvoeg en op hulle besighede toepas. Dit het al daartoe gelei dat ek volledige spyskaarte vir besighede uitgewerk het. Daarby neem dié werk my ook na plekke oral in die land.”

 

Kook kragkos

 

Sy sê sy het in haar beginjare baie fyner en meer formeel gekook, maar vandag is haar styl meer informele, robuuste kos. “Soos die Engelse sê ‘wholesome cooking’ – kos wat visueel aantreklik lyk sonder om smaak in te boet.”

 

Haar raad aan mense wat glo hulle kan nie kosmaak nie, is om by hulle styl te hou en te doen wat vir hulle werk. “Moenie ander probeer namaak en jouself met hulle vergelyk nie. Die internet is ʼn weiveld van kennis waar jy kan kers opsteek – gebruik dit tot jou voordeel.”

 

Hannetjie sê sy doen steeds baie navorsing en bestudeer resepte om goeie gebak soos koeke, skons, terte, kolwyntjies (muffins), brode, Paasbolletjies en selfs outydse mosbolletjies te maak.

 

“Daarom sal ek sê my groot liefde lê hier – en nie net om dit te maak nie, maar ook om dit te eet.”

 

DIE NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

 

KLIK

DEEL

<

>

Navigasie

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

VIDEO

MEER INLIGTING

Kook vir later

 

Met hedendaagse werksdruk en lang ure is daar ’n groot behoefte om bekostigbare kos met min moeite voor te berei. Hannetjie se kookboek, Só kook mens, is op die beginsel van “kettingkook” gebaseer.

 

Kettingkook behels dat jy meer as een porsie kos voorberei en dan vries om later te gebruik. Hierdie porsies kan dan opgetower word in 'n heel ander vorm en voorkoms.

 

Verskeie variasie-resepte sorg dat alledaagse kosmaak 'n nuwe avontuur word. Die mikrogolf word jou beste vriend en die belangrikheid van bevriesing word uitgelig.

 

NWU & U  |

NWU & U  |