X

inhoud

NuuS

Optimis glo in

die waarde van woorde

Jo van Eeden is onlangs aangestel as hoofredakteur van Media24 se drie Afrikaanse dagblaaie. Die NWU & U het met dié gesoute joernalis gesels oor haar nuwe pos en haar studentedae by die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys.

 

Met 20 jaar se werkservaring by Suid-Afrika se grootste koerante is dit Jo van Eeden se missie om te verseker dat gehaltejoernalistiek Beeld, Die Burger en Volksblad tot hoër hoogtes sal neem.

 

Dié veteraan van die nuuswêreld was sedert 2012 Volksblad se redakteur. Haar aanstelling, saam met Adriaan Basson se aanstelling as hoofredakteur van Netwerk24, is deel van Media24 se strategie om Netwerk24 as ’n digitale platform te bevorder

 


Gehalte-joernalistiek in ʼn digitale era

 

Jo glo die grootste uitdaging in haar nuwe pos gaan wees om die oorgang tussen gedrukte koerante en Media24 se digitale produk, Netwerk24, suksesvol te bestuur.

 

“Die oorgang moet plaasvind sonder om gehalte in te boet en met respek aan die onderskeie lesersgemeenskappe van elke koerant. Die uitdaging is dieselfde as elders in die bedryf: hoe beskerm ons gesaghebbende en winsgewende gedrukte koerante in ’n tyd wanneer lesers stelselmatig besig is om na ’n digitale platform oor te skakel.”Hierdie uitdaging is ook ’n bron van vreugde en opwinding vir haar. “Dit is ’n ongelooflike opwindende tyd om in die media te werk. Ons probeer nuwe dinge, eksperimenteer, innoveer en bly terselfdertyd gefokus op gehalte-joernalistiek in Afrikaans.”

 

Sy loop dié pad al lank

 

Jo sê elke draaipunt in haar loopbaan is vir haar ’n hoogtepunt. Sy onthou, met trots en deernis, haar eerste berig wat in die Potchefstroom Herald verskyn het, haar eerste rubriek in Beeld en haar eerste vaste aanstelling by ’n gemeenskapskoerant in Pretoria.

 

Een hoogtepunt na die ander het gevolg. Jo het by Rapport aangesluit as verslaggewer en is later daar tot burohoof vir Pretoria bevorder. Daarna het sy die kans gehad om by Beeld te werk – eers as leefstylredakteur en later as assistent-redakteur.

 

Haar aanstelling as redakteur van Volksblad was veral ’n groot hoogtepunt. Sy is ook gekeur om Suid-Afrika in Amerika te verteenwoordig as ’n Nieman-genoot. “Die voorreg om by Harvard te kon studeer was werklik  lewensveranderend,” vertel sy.

 

Só onthou sy haar studentedae in Potch

 

“As jong student by die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys het ek aansoek gedoen vir ’n internskap in joernalistiek. Ek moes toetse by prof Arrie de Beer, destydse departementshoof by die Kommunikasiedepartement aflê.”

 

Sy vertel ná sy haar eerste werkstuk by hom ingehandig het, het hy dit net een kyk gegee en gevra: “Juffrou, kan jy ’n beter inleiding skryf as dit?” Hy het haar teruggestuur om dit oor te doen. “Dit was ’n klein oomblik, maar ’n groot les. Ek het geleer as ’n mens iets regtig wil hê moet jy hard werk daarvoor en moeite daarmee doen.”

 

Getroud met haar beste vriend

 

Haar man, Charles, is haar beste vriend, grootste ondersteuner en belangrikste kritikus. Hulle is al 12 jaar getroud en Jo vertel daar is niks wat haar gelukkiger maak as om tyd saam met Charles deur te bring nie.

 

“Hy het my geleer om te ontspan, geleenthede aan te gryp en te besef dat alles ’n avontuur is.” Dit is hierdie benadering tot die lewe wat Jo in staat stel om alle uitdagings, ook dié in haar werk, met geesdrif aan te pak.

 

 

 

Jo van Eeden, hoofredakteur van Media24 se drie Afrikaanse dagblaaie, sê dit is ’n groot verantwoordelikheid om met woorde te werk. “Woorde moet gebruik word om ’n verskil te maak in die lewens van individue, gemeenskappe en die land.”  Cornél van Heerden.

NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto’s of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Jo saam met haar Volksblad-kollega, Mike van Rooyen. “Ek is bevoorreg om saam met uitstekende spanne te werk.”  : Conrad Bornman.

Voorblad

Digter Lesego Matheatau van die Potchefstroomse gemeenskap het aan die Spoken Word Festival wat die NWU-galery gereël het, deelgeneem. Die galery is deel van NWU-PUK Kunste op die Potchefstroomkampus.

Francois Lion-Cachet

Navigasie

>

Volgende artikel

Vorige artikel

Klank

video

meer inligting

Klik

deel

>

NWU & U  |