X

inhoud

Redaksioneel

NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto’s of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

 

Skryf gerus en vertel ons waar in die wêreld julle jul bevind en hoe dit met jul loopbane gaan, of skryf sommer oor ditjies en datjies wat julle na aan die hart lê.

 

Stuur julle briewe na nelia.engelbrecht@nwu.ac.za, faks dit na 086 614 3222 of pos dit aan Nelia Engelbrecht, Institusionele Kantoor, Noordwes-Universiteit, Privaat Sak X1290, Potchefstroom, 2520.

 

ONS HOOR GRAAG VAN JULLE!

 

Dit kom van ver af

Dit is met ’n warm gevoel om die hart dat ons die briewe van ons alumni lees. Ons deel hierdie een graag met julle.

 

Beste mede-alumni

 

Dit was so lekker om die tydskrif te lees, dat ek lus het om ook my eiertjie te lê.

 

In Januarie 1970 vertrek ek uit Pietermaritzburg per trein op pad na ’n plek wat die PUK* genoem word op ’n dorp genaamd Potchefstroom.

 

Ek het geen idee gehad waar dit was nie. Ek het die universiteit gekies omdat dit die enigste universiteit was wat vir my dadelik al die inligting gestuur het wat ek nodig gehad het. As die eerste een in my familie wat verder gaan studeer het ná skool, het ek geen idee gehad watter vrae om te vra nie en was ek dankbaar vir die volledige brosjure van die PUK. Al wat ek geweet het, was dat ek my liefde vir wiskunde wou gaan uitoefen en uitbrei.

 

Volspoed by Cachet-stasie verby (ek het nie geweet ek moes hier afklim nie) beland ek op Potchefstroom-stasie waar ek ’n huurmotor vra om my na die Hombré-manskoshuis te neem. Die bestuurder het geen idee gehad waar dit was nie en laai my voor die administrasiegebou af (in die reën). Druipstert is ek daar in, maar die vriendelike ontvangs wat ek daar teëgekom het, het my sommer dadelik tuis laat voel. Vol moed is ek na die tydelike geboue toe waar ek die volgende paar jaar sou deurbring.

 

So kom dit toe op 18 Junie 1970 dat ek terugkom van ’n Wiskunde-eksamen af, toe die voorsitter van die huiskomitee daar instap en my beveel om na Karlien-dameskoshuis se donkie se verjaarsdag toe te gaan.

 

Ek was moeg en glad nie lus daarvoor nie, maar hy het geen genade gehad nie. Daar aangekom, ontmoet ek die meisie van my drome, Ina de Kock. Ons is later getroud en het in Junie verlede jaar vir ons ’n speelgoed-donkie gekoop wat nou saam met ons motorfiets ry.

 

Op die PUK was dit nie net studeer nie. Ek het met die hulp van ’n paar medestudente die Fisika-vereniging begin en toe ek terugkeer na die PUK in 1974 vir ’n ingenieursgraad, het ek Radio PUK en die Vereniging vir Ingenieurstudente begin.

 

Die leierseienskappe wat ek daar geleer het, het my onstettend baie gehelp toe ek later een van die jongste instrumentasiebestuurders van Sasol 1 geword het en later die president en direkteur van die Society for Automation, Instrumentation, Measurement and Control (SAIMC).

 

In 2014 was ek ook bevoorreg om die Siemens Senior Cyber Junkyard-kompetisie te reël en was ek baie trots op die span van die Potchefstroomkampus wat deelgeneem het.

 

As direkteur van die SAIMC en voorsitter van die Training and Education Committee, kom ek weereens in aanraking met die universiteitsomgewing. Hier praat ons oor die behoeftes van die nywerheid ten opsigte van instrumentasie en outomatiese beheer en hoe die universiteite kan bydra om die gaping tussen wat die studente geleer word en dit wat die nywerheid wil hê, te oorbrug.

 

Tans ry ek en Ina met ons toerfiets rond en sien ons daarna uit om vanjaar af te tree en – wie weet – nog ’n kwalifikasie of twee te verwerf!

 

Mag die Here julle in Sy hande hou en mag daar nog baie wonderlike ervaringe vir almal voorlê.

 

 

 

Seën vir julle almal

Johan Maartens

 

(Brief verkort)

 

* Die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, en tans die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU).

 

 

Voorblad

Digter Lesego Matheatau van die Potchefstroomse gemeenskap het aan die Spoken Word Festival wat die NWU-galery gereël het, deelgeneem. Die galery is deel van NWU-PUK Kunste op die Potchefstroomkampus.

Francois Lion-Cachet

Navigasie

>

Volgende artikel

Vorige artikel

Klank

video

meer inligting

Klik

deel

>

NWU & U  |