NUUS

Prof Hector Chikoore is van die vakgroep Geografie en Omgewingsbestuur in die Skool vir Geo- en Ruimtelike Wetenskappe op die Vanderbijlparkkampus.

 

Reënval in die komende maande

 

Op ʼn vraag oor hoeveel reën ons in die komende maande kan verwag, antwoord Hector dat die Suid-Afrikaanse somerreënvalstreek beïnvloed word deur die El Niño Suidelike Ossilasie (ENSO), ’n verskynsel wat verband hou met die see-oppervlaktemperature (SST’s) in die ekwatoriale Stille Oseaan.

 

El Niño-gebeurtenisse kom voor wanneer die SST’s in die ekwatoriale Stille Oseaan bogemiddeld is, terwyl ’n La Niña-gebeurtenis voorkom wanneer die SST’s ondergemiddeld is.

 

Die meeste droogtes in Suider-Afrika kom tydens El Niño-toestande voor, terwyl La Niña gewoonlik hoër as gemiddelde reënval tot gevolg het.

 

Sommige studies het ook ’n groter waarskynlikheid gevind dat tropiese siklone tydens La Niña aan die Mosambiekse kus die land sal bereik, hoewel daar steeds ’n baie klein waarskynlikheid is dat die land getref sal word.

 

Die jongste ENSO-voorspellings vanaf die meeste wêreldwye sentrums voorspel die ontwikkeling van La Niña-toestande wat in die somer ’n hoogtepunt sal bereik, en ook ’n groter waarskynlikheid van gemiddelde tot bogemiddelde seisoenale reënval oor ’n groot gedeelte van die subkontinent.

 

Daar moet beklemtoon word dat die atmosfeer ’n komplekse, nielineêre dinamiese stelsel is, en daarom is daar ander verskynsels soos SST’s in die Indiese en Atlantiese Oseaan wat die ENSO-sein dalk kan teenwerk.

 

Waarom ons weer wispelturig is

Ons het ’n buitengewone koue winter gehad, wat almal laat bibber het. Nou, met die somer in al sy glorie hier, kyk prof Hector Chikoore, wat in meteorologie, klimatologie en klimaatsverandering spesialiseer, terug op die afgelope seisoen, en na wat die weer in die toekoms vir ons inhou.

V: Het ons vergeleke met vorige jare ’n abnormale koue winter gehad?

 

A: Voorlopige ontledings van die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) se rekords – hoofsaaklik vir Junie en Julie – dui daarop dat die 2020-winter een van die kouer winterseisoene was. Dit was egter nie  noodwendig die koudste sedert rekordhouding met behulp van instrumente in Suid-Afrika in 1860 begin het nie.

 

Inligting op die SAWD se webwerf dui daarop dat, gebaseer op jare se waarnemings, verskeie uiterste temperature gedurende die winter van 2020 aangeteken is. Dit breek die langtermynrekords van laagste minimum en laagste maksimum temperature.

 

Nagtemperature (die minimum) oor die sentrale Hoëveld en die noordoostelike binneland oor die algemeen was laer as die langtermyn-gemiddelde, terwyl dagtemperature (die maksimum) – behalwe vir die noordoostelike distrikte – warmer (as normaal) was.

 

Benewens die anomale temperature, het die winterreënvalstreke van Suid-Afrika ook ’n beduidende hoeveelheid reën ontvang, wat ’n positiewe uitwerking op damvlakke, landbou-aktiwiteite en watervoorraad behoort te hê.

 

Voorlopige data van die SAWD toon dat die meeste stasies in die suidelike dele van die Wes-Kaap meer as 100% van hulle normale reënval vir Julie 2020 ontvang het. Die stasie by Darling het 247 mm reën aangeteken, wat 309% van die klimatologiese normaal is.

 

V: Het ons oor die afgelope paar seisoene abnormale weerpatrone vergeleke met vorige jare ervaar?

 

A: In ooreenstemming met tendense in talle subtropiese streke het die Suider-Afrikaanse streek vinnig-stygende temperature ervaar, veral in die afgelope dekade.

 

Die warmste jaar wêreldwyd was 2016, wat vererger is deur die voorkoms van een van die mees intense El Niño-gebeurtenisse in 2015/16. Die styging in oppervlaktemperature is ook vergesel van ’n verhoogde voorkoms van uiterste gebeurtenisse soos hittegolwe en droogtes.

 

Hoewel die temperatuurtendens opwaarts en statisties beduidend is, is die langtermyn-reënvaltendens in verskeie studies as gevolg van ’n hoë koeffisiënt van veranderlikheid meestal nie statisties beduidend nie.

 

Die meeste studies oor klimaatstendense het bevind en voorspel dat die aanbreek van die somerreënseisoen oor Suider-Afrika as gevolg van uitdroging in die lente vertraag sal word, wat ’n langer droë seisoen impliseer, en gevolge vir brandbestuur inhou.

 

Daarbenewens het swaar neerslae meer intens geword, en word daar voorspel dat dit nog meer sal voorkom. (Dit is volgens termodinamiese argumente dat ’n warmer atmosfeer meer waterdamp kan hou, met ’n gevolglike hoër samevloeiende beskikbare potensiële energie – met ander woorde die energie wat nodig is om donderstorms te genereer.)

 

 

 

DIE NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Navigasie

>

<

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

MEER INLIGTING

KLIK

DEEL

 

Die SAWD se verslag oor die jaarlikse toestand van die klimaat van Suid-Afrika vir 2019 (Annual State of the Climate of South Africa 2019) het ’n statisties-beduidende stygende tendens in oppervlak-lugtemperature van 0,16 °C per dekade aangedui, met die jare 2015 en 2019 wat volgens SAWD-rekords as twee van die warmste jare aangeteken is.

 

volgende

>

NWU & U  |

NWU & U  |

INHOUD

NWU & U