REDAKSIONEEL

ʼn Blye weersiens ... Bram se aankoms in Nederland in September 2020. Bram was voorheen die waarnemende direkteur van die NWU se Eenheid vir Oop Afstandsleer.

Die Schouwstra-familie kuier in Haarlem in Desember 2019. Hulle is van links Janco en Jonél Jordaan, Marné, Bram en Izette. Hulle is almal alumni van die NWU en is nou almal in Nederland gevestig –  Marné vir minstens 'n jaar terwyl sy haar meestersgraad deur die Johan Cryuff-instituut aan die Universiteit van Barcelona voltooi.

Ons mis SA, maar Nederland is ʼn fees

Beste mede-alumni,

 

Dit is nou al meer as ’n jaar nadat ek by die Rijksuniversiteit in Groningen, Nederland aangesluit het.

 

Intussen is ons almal se wêreld, om dit sag te stel, bietjie geskud met die vreeslike Corona-virus. Hier in Groningen was ons nog altyd gespaar en het ons laer statistiek gehad, maar met die terugkeer van die studente vanoor die hele wêreld is ons ook deeglik bewus van die impak van so ’n pandemie op ons werk hier by die universiteit.

 

Nie net vir ons onderrig nie, maar ook in my gebied van alumniverhoudinge is die uitdaging groot om kontak met ons alumni te behou en ook buitengewone ondersteuning te kan bied.

 

Nederland bevalt goed!

 

Met net meer as ’n jaar alleen in Groningen het my man, Bram, ook nou by my aangesluit. Dit was ’n moeilike besluit vir Bram om die NWU ná 15 jaar te verlaat, maar met soveel aspekte wat in plek geval het, moes ons lewensbesluite maak oor ons skuif na Nederland, gegewe die feit dat ons al vir dekades dié droom het.

 

Gelukkig is ons kinders (Janco en Jonél wat getroud is) ook in Nederland. Daar was dus altyd ondersteuning vir my bo en behalwe familie wat ook hier woon. Ons jongste dogter, Marné, het ook onlangs by ons aangesluit.

 

Aanpassing verloop vlot

 

Oor die aanpassing in Nederland het ek nie groot sorge gehad nie. Ek is immers al 33 jaar met ’n Nederlander getroud en ons kontak met familie hier en die besoeke aan Nederland het as goeie fondasie gedien.

 

Deel van my aanstellingsvoorwaardes was ook ’n taalkursus. Alhoewel daar baie ooreenkomste is met Afrikaans, is daar in Nederlands baie vervoeginge en taalreëls en was dit nie maklik om die taal aan te leer nie. Ek kom egter oral reg en leer steeds meer en meer van die taal.

 

Wat ek baie waardeer en geniet is die rykdom aan geskiedenis en die behoud van kultuur en natuurlik feestjes. (Die Hollanders is vreeslik lief om van elke geleentheid – en veral herdenkingsdae – 'n partytjie te maak.)

 

Hier sing die speke behoorlik

 

Wat wel vir my ’n aanpassing was, is die fietsry in ’n stad soos Groningen. Om te kan fietsry en om fiets te ry in Groningen is twee totaal verskillende dinge. Groningen is 'n stad met meer as 200 000 inwoners en dit is bekend dat daar meer fietse as inwoners is. Jou fiets is jou primêre vervoermiddel hier en jou lewe is ook daarby aangepas.

 

Ons lewe is verryk. Dit is weer lekker om saam te woon in die klein vissershuisje wat ons tans huur en ons geniet die fietsry en kultuur. Ons mis ons familie en vriende in Suid-Afrika, maar dit bly vir ons ’n voorreg om hier te kan woon en werk.

 

Mag die komende feestyd vir almal ʼn besonderse tyd saam met jul geliefdes wees en ons hoop en bid vir ’n Corona-vry 2021.

 

 

Groete,

 

Bram en Izette Schouwstra

Groningen, Nederland

Skryf gerus en vertel ons waar in die wêreld julle jul bevind en hoe dit met jul loopbane gaan, of skryf sommer oor ditjies en datjies wat julle na aan die hart lê.

 

Stuur julle briewe na nelia.engelbrecht@nwu.ac.za.

 

ONS HOOR GRAAG VAN JULLE!

 

 

 

DIE NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Navigasie

>

<

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

MEER INLIGTING

KLIK

DEEL

Op Koningsdag 2020 wapper die Nederlandse vlag vrolik voor Izette en Bram se huis in Groningen. Koningsdag word op 27 April gevier, wat die verjaarsdag van koning Willem-Alexander is.

Bram en Izette Schouwstra trotseer die Europese winter tydens ʼn besoek aan België in Desember 2019.

NWU & U  |

NWU & U  |

INHOUD

NWU & U