NUUS

Nicolize van der Walt is die afdelingshoof van die NWU se Alumnikantoor.

 

Baie eerstes en baie om oor te spog

 

Daar was so baie eerstes hierdie jaar – van virtuele pretdraf- en fietsrengeleenthede en ’n virtuele gholftoernooi, tot ’n uiters suksesvolle Alumni & Friends-aanlynkonsert.

 

Ons is trots op ons alumni en probeer soveel moontlik geleenthede skep om met julle te spog.

 

Ons het ook help bou aan jul loopbane deur virtuele geleenthede aan te bied waartydens julle, in die gemak van jul eie huise, by kundiges kon leer.

 

My hart klop warm as ek dink aan jul ondersteuning, en aan diegene wat saam met ons trots is op die NWU se suksesse en nie huiwer om moue op te rol om ander te help wat nie so bevoorreg is nie.

 

Alumnikantoor: terugblik op 2020

Ek het eenmaal die volgende aanhaling gelees: “Karakter word nie tydens moeilike tye gebou nie, dit word openbaar.”

Ons kan almal saamstem: dit was ’n uitsonderlike jaar en ons het voor baie uitdagings te staan gekom. Die wêreld het van Januarie 2020 tot nou toe baie verander. Dit was bemoedigend om te sien hoe die NWU-gemeenskap, wat ons alumni insluit, elke uitdaging te bowe gekom het. Hoe ons besluit het om eienskappe van krag, hoop, eenheid en sorgsaamheid te vertoon.

 

Van ons kan voel dat hulle baie tydens die inperking misgeloop het. Maar vir vele was dit ’n tyd van nadenke, ’n tyd om tot stilstand te kom en om keuses te heroorweeg.

 

Vir ander, soos die noodsaaklike personeel, was dit ’n tyd van angs, of miskien vrees en lang ure – ons salueer julle en sê dankie.

 

Kyk met dankbaarheid terug

 

Ek glo ons kan met erkentlikheid en dankbaarheid op 2020 terugkyk. As ons sien hoe ons by die immer veranderende omstandighede aangepas het en dat ons een van die min universiteite is wat die akademiese jaar gaan voltooi, kan ons onsself op die skouer klop.

 

En ons alumni is die ruggraat van soveel suksesse. Ons bedank julle vir elke bydrae, vir die ondersteuning van ons virtuele gebeurtenisse, en dat julle altyd onthou dat julle wortels hier by ons lê. Dit is daardie diep wortels wat dit vir die NWU moontlik maak om te groei en te floreer.

 

ʼn Jaar van stilraak

 

Vir my was 2020, te midde van alles, ’n genadejaar – ’n jaar van stilraak en luister, en van meer gee as wat jy ontvang. Vir my en ons span is dit ’n voorreg om ons NWU-alumni te bedien, om julle te leer ken en ’n pad saam met julle te mag stap.

 

Mag hierdie ’n wonderlike, geseënde en voorspoedige feestyd vir julle elkeen wees. Mag 2021 nog ’n genadejaar wees, vir jou en vir my en vir elkeen wat help om hierdie wêreld, virus en al, ’n beter plek te maak.

 

Tot volgende jaar,

 

 

Nicolize van der Walt

nicolize.vanderwalt@nwu.ac.za

 

 

 

DIE NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Navigasie

>

<

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

MEER INLIGTING

KLIK

DEEL

vorige

<

NWU & U  |

NWU & U  |

INHOUD

NWU & U